Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Student vind olifant se kiestand in bedding in Wildernis

’n Student van die Nelson Mandela-Universiteit (NMU) se George-kampus wat in Wildernishoogte navorsing doen, het op die kiestand van ’n olifant afgekom.

Mishak Boshoff, ’n MSc-student wat insekte as aanwysers van ’n ekostelsel se gesondheid navors, het iets vreemds opgemerk in ’n rivierbedding in ’n diep, bebosde kloof in Wildernishoogte.

Mishak Boshoff, ’n MSc-student van die Nelson Mandela-Universiteit se George-kampus, met die olifantkiestand wat hy gevind het. Die foto is geneem in die omgewing waar hy die tand ontdek het. Foto: Verskaf

Volgens prof. Josua Louw van die skool vir bestuur van natuurlike hulpbronne aan die NMU in George, is die kiestand van historiese en wetenskaplike belang omdat dit dien as verwysing na die era toe groot getalle olifante nog in die Suid-Kaap voorgekom het.

Die kiestand, wat op die eiendom van Anne Fuljames gevind is, is aan die NMU geskenk.

“Die tand sal gebruik word vir isotoop-ontledings wat moontlik meer lig op die dieet en habitat-benutting van olifante gedurende die vroeëre eras sal werp.”

Olifante was relatief algemeen toe die eerste koloniste in die 18de eeu in die streek aangekom het, het Louw by navraag in ’n e-pos gesê.

Jagters het hul getalle egter drasties uitgedun, en namate hul bewegings toenemend tot die inheemse bos beperk was, was hul lot eintlik beseël.

Die olifantkiestand. Foto: Verskaf

“Hoewel die woude die indruk van oorvloed skep, is dit weens die lae voedingswaarde van die meeste bome, struike en fynbos nie ’n geskikte habitat vir olifante nie. Vroeër het olifante vrylik toegang gehad tot die kusvlaktes met sy vleilande, en gedurende prehistoriese tye ook ’n baie groter Agulhas-kusvlakte, wat vandag onder seevlak is, wat waarskynlik ’n baie meer geskikte habitat vir groot herbivore gebied het.”

Hy het gesê weens die meningsverskille oor die presiese huidige getalle duur die misterie oor die oorblywende olifante voort.

“Sanparke se amptelike mening is dat slegs een koei oor is, wat dus beteken dat dit bloot ’n kwessie van tyd is voordat die olifante van die Suid-Kaapse woude bloot in verhale en legendes sal voortleef.”

Volgens Louw was die verrassing dus groot toe Boshoff die ontdekking gedoen het.

Louw het gesê olifante het die Wildernis-omgewing gereeld besoek. Die Bennett-familie, wat in die 1880’s die eerste huis gebou het in die omgewing van die hedendaagse hotel, het aangeteken dat olifante gereeld die riviermonding van die Touwsrivier besoek het. Die eerste pad wat Wildernis met die buitewêreld verbind het (die roete van die hedendaagse Hoogtepad), is ook gebou op ’n roete waar die olifante gereeld voorgekom het, het hy gesê.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.