Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Teleskoop uit Vlakte

Dis snags te gevaarlik om in Mitchells Plain en Khayelitsha se strate na die sterre te kyk, toe besluit twee matrikulante om ’n radioteleskoop te bou sodat hulle bedags na die sterre kan kyk.

Kohan Southgate (17) en Pride Chigiji (18) van Spine Road High School in Mitchells Plain se eenvoudige radioteleskoop bestaan uit ’n gewone satellietskottel en ’n skootrekenaar met spesiale sagte- en hardeware.

Pride Chigiji (18) en Kohan Southgate (17) by hul wetenskaponderwyseres, Esther Burger.Foto: Edrea du Toit

Die skottel vang radiogolwe vanaf hemelliggame op en dit word na die rekenaar herlei, waar die sagteware dit in beelde omskakel en op die rekenaarskerm vertoon.

Dié teleskoop, wat hulle Wakanda gedoop het, is in Desember verlede jaar op Eskom se internasionale ekspo vir jong wetenskaplikes met ’n goue medalje bekroon.

Dié ekspo is die land se oudste, grootste en mees gesogte wetenskapsekspo vir leerlinge. Uit 2 000 deelnemende skole en sowat 100 000 leerlinge is die beste 500 inskrywings na die virtuele bekendmaking van die wenners genooi.

Pride is vanjaar hoofseun en speel ook vir sy skool rugby. Sy spanmaats noem hom goedig “The Beast” oor sy sterk liggaamsbou.

Sy wetenskaponderwyser, Es­ther Burger, sê haar leerlinge moes in 2019 ’n wetenskapprojek kies. Kohan en Pride sê toe mense wil baie graag na die sterre oor Mitchells Plain en Khaye­litsha kyk, maar dit kan veral saans gevaarlik wees weens misdaad.

“Toe kies hulle om ’n radioteleskoop te bou, dan kan hulle sommer in die dag die sterre kyk! Die son is ook ’n ster.”

Burger het ’n satellietskottel by haar ma gebedel. Hulle het die beginsels van astronomie met ingenieurswerk gekombineer om die teleskoop te ontwerp.

Hulle het dit in 2019 vir die ekspo ingeskryf en nie ’n plek gekry nie, maar die beoordelaars het vir hulle waardevolle terugvoering gegee.

En hét die twee geluister. Hulle het ook by ’n doktorale student in astronomie aan die Universiteit van Kaapstad, asook by Catherine Rosie, ’n ingenieur van die SKA, vir raad gaan aanklop.

Hulle gebruik ’n selfoon-app om die rigting en ligging van hemelliggame in die hemelruim te bepaal en draai dan die satellietskottel in daardie rigting om die radiogolwe van die hemelliggaam op te vang.

Volgens Burger het die seuns aanvanklik baie plaaslike seine met hul teleskoop opgevang, soos iemand se roepradio of die geluide van verbygaande vliegtuie se kommunikasie. Soms het wind ook die teleskoop omgewaai. Hulle moes die staander se pote met klippe vaspak.

Pride is ’n aanhanger van Elon Musk en wil volgende jaar lugvaartingenieurswese studeer.

“My ouers en die gemeenskap in Khayelitsha is baie trots op my – dat iemand uit die gemeenskap so goed kon doen,” sê hy.

Volgens Kohan het hy baie gegroei in die proses. Weens Covid-19 kon hulle verlede jaar min dae by die skool uitkom en hulle het baie naweke opgeoffer om aan die projek te werk.

“Al die opoffering was egter die moeite werd.”

Hy wil ná matriek sportbestuur studeer.

Die seuns wil hul teleskoop nog verder verfyn om verby die son na ander hemelliggame te kan kyk, maar vir eers moet hulle op hul skoolwerk fokus.

Meer oor:  Mitchells Plain  |  Khayelitsha  |  Sterre
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.