Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Towersampioene: ’n Uitkoms vir angs en depressie?

Die mediese voordele van die aktiewe bestanddeel in sogenaamde towersampioene vir mense wat aan angs en depressie ly, word toenemend wetenskaplik bewys.

Dit is natuurlik nie iets wat jy self lukraak moet neem nie, en nog minder moet jy jou psigiatriese medikasie weggooi.

Hierdie wetenskaplike navorsing word gedoen in beheerde, kliniese omstandighede waar deelnemers begelei word deur kliniese sielkundiges en die proses onder mediese toesig verloop.

Tot dusver is meestal kleiner studies gedoen, maar die uitkomste is belowend, veral vir kankerlyers. Dit help nie om die kanker te genees nie, maar wel met die eksistensiële vrees en angs wat die siekte veroorsaak.

Die aktiewe bestanddeel in towersampioene is psilocybin, ’n hallusinogeen. In navorsing waarvan die resultate in 2016 gepubliseer is, het kankerlyers wat net een dosis psilocybin ontvang het, saam met sielkundige terapie, dadelik ná die ervaring emosioneel beter gevoel, luidens die resultate in die vaktydskrif Journal of Psychopharmacology.

Voorheen het die pasiënte gedemoraliseer en hopeloos gevoel. Ná die sessie het hul negatiwiteit jeens die dood ook verander.

Dieselfde groep navorsers het onlangs opvolgnavorsing hieroor gepubliseer. Byna vyf jaar later meen 70% van die deelnemers dit was een van die verrykendste ervarings van hul lewe en sê hulle het hul positiewe ingesteldheid behou.

Psilocybe cubensis, van die sampioene wat psilocybin bevat. Foto: Paul Stamets

Ontvanklik vir nuwe idees

Dit blyk dat psilocybin die brein meer aanpasbaar en ontvanklik maak vir nuwe idees en denkpatrone.

Daarom is dit belangrik dat die gebruik daarvan saam met kliniese sielkunde moet geskied. Dit teiken ’n netwerk in die brein wat geaktiveer word wanneer ons introspeksie doen en help om selfbewustheid en ’n narratief van die self te kweek.

Wanneer iemand angs en depressie ervaar, kan die netwerk dalk “hiperaktief” en onaanpasbaar raak. Psilocybin help dat ’n mens indringender na jouself, jou gedrag en die lewe kan kyk.

Die sampioene self word nie vir die pasiënte gegee nie. Die aktiewe bestanddeel word in sintetiese vorm in kapsules vervaardig, in voorafbepaalde terapeutiese dosisse.

Dit is ook al gegee aan mense wat aan sulke erge depressie ly dat hulle weerstandig teen medikasie is.

Dit is in 2016 vir 12 sulke pasiënte in ’n kliniese toets gegee, volgens die vaktydskrif Lancet Psychiatry. Mense kon die hallusinogeniese effek binne tussen 30 minute en ’n uur voel, met die piek tussen twee en drie uur later. Twee van die deelnemers het vir ’n kort rukkie vervolgingswaan ervaar.

Dit het gehelp om die helfte van die deelnemers se depressie te verlig, vir tot drie maande ná die toetse. Hulle het twee dosisse psilocybin ontvang van 10 mg en toe 25 mg ’n week later, met kliniese sielkundige sessies voor, gedurende en ná die tyd. Ander studies het soortgelyke resultate getoon, veral vir mense vir wie antidepressante nie werk nie.

Nie iets om mee te speel nie

Dit moet egter nog strenger toetse slaag oor veiligheid en doeltreffendheid. Ek is nie bewus van enige toetse wat in Suid-Afrika hieroor gedoen word nie. Plaaslik word dit, soos in baie ander lande, as ’n onwettige middel beskou.

In Oktober verlede jaar was daar aanbevelings in die vaktydskrif Neuropharmacology dat dit geklassifiseer behoort te word as ’n bylae 4-medikasie.

Daar is min potensiaal vir misbruik, het navorsing op mense en diere getoon. Dit is nie ’n middel waaraan mense fisiek verslaaf raak nie. Die navorsing wys mense gebruik dit net ’n paar keer in hul lewe. Dit is nie ’n ervaring waarna mense elke dag hunker nie, juis omdat dit so intens is.

Die aanbeveling is dat dit goedgekeur moet word as medikasie vir terapeutiese gebruik, maar eers nadat die laaste fase van kliniese toetsing gedoen is.

Kenners meen dit moet selfs met ’n voorskrif nie sommer net aan pasiënte gegee word nie. Dit behoort in ’n beheerde omgewing gegee te word, waar dit net so streng beheer word as wat die toediening van narkosemiddels beheer word.

Dit blyk dat die middel help om negatiewe emosies te temper en kan mense met sekere psigiatriese toestande help.

Dié ontwikkeling is baie belowend vir vele mense wat daagliks swaarkry.

Bronne: Lancet Psychiatry; Neuropharmacology.

Meer oor:  Angs
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.