Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Unieke dubbelster ontdek

Wetenskaplikes wat Suid-Afrikaanse teleskope gebruik, het vir die eerste keer ’n unieke en voorheen ongesiene skitterlig van ’n dubbelster deur radio-uitstraling in die sterrestelsel ontdek.

Die wetenskaplikes het die MeerKAT-radioteleskoop en die teleskope van Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (Salt)-observatorium van die Suid-Afrikaanse Sterrekundige Observatorium vir die ontdekking gebruik.

’n Kunstenaarsvoorstelling van die nuwe dubbelster wat deur radio-uitstraling in die sterrestelsel ontdek is. Foto: Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Sterrewag

Luidens ’n verklaring van die Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Sterrewag het die MeerKAT-radioteleskoop in die Noord-Kaap die ster ontdek, wat drie keer helderder oor drie weke geword het. Dit is die eerste nuwe verganklike bron wat deur die MeerKAT-radioteleskoop ontdek is. Wetenskaplikes hoop dit is net die oortjies van die seekoei van verganklike gebeurtenisse wat die teleskoop oor die volgende jare sal ontdek.

Sterrekundiges noem ’n sterrekundige gebeurtenis “verganklik” wanneer dit net vir ’n kort wyle duur, verskyn en verdwyn, of helderder en dowwer binne sekondes, dae of selfs jare word.

Dié gebeurtenisse is belangrik omdat dit ’n glimp gee van hoe sterre ontstaan, verander en doodgaan.

Met die gebruik van ’n verskeidenheid teleskope oor die aardbol het die wetenskaplikes bepaal die oorsprong van die flikkerlig is ’n dubbelster-stelsel, waar twee objekte se wentelbane mekaar elke 22 dae kruis.

Een van die radioteleskope by Suider-Afrikaanse Groot Teleskoop (Salt)-observatorium.Foto: Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Sterrewag

Terwyl die oorsaak en aard van die sterre se flikkering onbekend is, word vermoed dat dit met die aktiewe corona, die hitsige buitekant van die helderste ster, te make het.

Die oorsprong van die aktiwiteit wat waargeneem is, is in die suidelike konstellasie van Ara gevind, dieselfde plek as ’n ander enorme ster wat twee keer meer massief as die son is.

Dié betrokke ster se wentelbaanbeweging is met optiese observasie by Salt gemeet. Die ster is so helder dat dit reeds 18 jaar deur optiese teleskope waargeneem word, waarin die helderheid elke drie weke verander.

Laura Driessen, ’n doktorale student van die Universiteit van Manchester wat die werk gelei het, sê die bron is enkele weke nadat sy by die span aangesluit het, ontdek.

“Dit was die eerste MeerKAT-beelde waarmee ek gewerk het, en boonop hoogs interessant. Pas nadat ons besef het die radio-opflikkerings val saam met ’n ster, het ons besef die ster straal oor byna die hele elektromagnetiese spektrum uit – van X-straal en ultraviolet tot radiogolwe.”

Prof. Patrick Woudt, hoof van die sterrekundige departement by die Universiteit van Kaapstad, sê sedert MeerKAT in Julie 2018 in bekend gestel is, het die ThunderKAT-projek die suidelike hemelruim waargeneem om veranderlike radio-uitstraling van bekende kompakte tweelingsterre, soos die groeiende swartgat, te bestudeer

“Die uitstekende sensitiwiteit en wye sigveld van die MeerKAT-teleskoop, asook die herhalende ThunderKAT- observasies van verskeie dele van die suidelike hemelruim, stel ons in staat om deur die sterrestelsel te soek na nuwe verskynsels wat veranderlike of kortstondige radio-uitstraling vertoon.”

Dr. David Buckley van die Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Sterrewag sê die program is ’n goeie voorbeeld van gekoördineerde observasies oor verskillende golflengtes wat ’n holistiese beeld van nuut ontdekte objekte gee.

Prof. Ben Stappers van die Universiteit van Manchester sê die eienskappe van die stelsel pas nie in die bestaande kennis van tweeling- of flikkerende sterre nie, en mag moontlik in ’n nuwe klas wees.

Die ontdekking toon hoe kragtig die MeerKAT-teleskoop is wat deur die lugruim soek om menslike kennis van die veranderlike radio-lugruim en verganklike gebeure te verdiep.

Een van die MeeKAT-antennas. Foto: Suid-Afrikaanse Radio Astronomie Sterrewag
Meer oor:  Wetenskap  |  Navorsing  |  Ontdekking
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.