Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Unieke fossiel kry tuiste in Vrystaat

’n Nuwe spesie fossiel wat soos ’n dinosourus lyk, maar verlangs aan die soogdier-familie verwant is, het ná 25 jaar se skoonmaakproses ’n tuiste in die Vrystaat gevind.

Prof. Bruce Rubidge by die dinocephalian, ’n nuwe fossiel wat in 1985 buite Prins Albert in die Wes-Kaap ontdek is. Die dier se grootte kan met die van ’n witrenoster vergelyk word, sê hy.Foto: Mlungisi Louw

Die dinocephalian, ’n drie meter lange dier wat vergelyk kan word met die grootte van ’n witrenoster, het Maandag in verskeie bokse by die Nasionale Museum in Bloemfontein aangekom en word vandeesweek weer in een stuk aan mekaar geheg.

Prof. Bruce Rubidge, ’n Karoofossiel-kenner wat ten tyde van die ontdekking hoof van die departement paleontologie by die museum was, sê die diere moes sowat 266 miljoen jaar gelede geleef het.

“Hulle het in Suid-Afrika, Rusland, meer onlangs in China en Brasilië en selfs meer onlangs in Zambië en Tanzanië voorgekom.”

Dit was sy veld-assistent, John Nyaphuli, wat in 1985 die groot ontdekking buite Prins Albert in die Wes-Kaap gemaak het.

“Ons het daarna ’n verdere vyf jaar opgrawings in die gebied gedoen en toe die dele stuk-stuk terug Bloemfontein toe gebring.”

Hy en twee paleontoloë het onlangs ’n akademiese verslag met al die bevindings bekend gestel.

’n Minder volledige skelet van dieselfde spesie is verstrengel met die fossiel gevind. Nou word die twee diere uit bokse gepak en gerangskik soos toe hulle ontdek is.

“Twee koppe, uiteindelik weer langs mekaar.”

Die dinocephalian, ’n nuwe fossiel wat in 1985 buite Prins Albert in die Wes-Kaap ontdek is en ná dekades se skoonmaakproses ’n tuiste in die Vrystaat kry. Prof. Bruce Rubidge was ten tyde van die ontdekking by die Nasionale Museum betrokke, en dit is waarom die fossiele hier moet staan. Foto: Mlungisi Louw

Rubidge het in 1991 die skelette, wat toe nog deur groot stukke rots omhul was, saam met hom geneem toe hy by die Universiteit van die Witwatersrand ’n pos aangebied is.

Omdat die ontdekking onder leiding van Rubidge was, behoort die fossiele aan die museum in Bloemfontein.

Prof. Bruce Rubidge by die dinocephalian, ’n nuwe fossiel wat in 1985 buite Prins Albert in die Wes-Kaap ontdek is. Die dier se grootte kan met ’n witrenoster s’n vergelyk word, sê hy.Foto: Mlungisi Louw

“Die museums leen dikwels spesies by mekaar om daaraan te werk,” sê Rubidge.

Dit was ’n lang en sensitiewe proses om die diere uit die rots te haal en voor te berei.

“Onthou, dit is stof-grootte partikels wat jy van die beendere afhaal. Wanneer jy dit voorberei, verwyder jy bewyse wat oor 20 of 30 jaar belangrik kan wees, so ons het nie die reg om dit te vernietig nie.”

Dr. Jennifer Botha-Brink, ’n paleontoloog aan die museum, sê hulle is verheug oor die fossiele.

Dit is volgens haar die volledigste en oudste skelet wat die museum nog ontvang het.

Sy sê hoewel ’n mens maklik kan dink dat die diere vanweë hul grootte reptiele is en aan die dinosourus-familie behoort, is hulle “baie indirekte voorvaders van soogdiere”.

Suid-Afrika het die beste rekord van hierdie voorvaders van soogdiere in die hele wêreld.

’n Voorstelling van hoe die diere sowat 266 miljoen jaar gelede gelyk het toe hulle onder meer in Suid-Afrika, Zambië, China en Brasilië voorgekom het. Dit is nie ’n reptiel nie, maar verlangs verwant aan soogdiere.
Meer oor:  Vrystaat  |  Prins Albert  |  Bloemfontein  |  Fossiel
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.