Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Volg die verlede se magdom subtiele antwoorde

Suid-Afrikaanse navorsers het ’n deurslaggewende rol gespeel om vas te stel dat die ergste massa-uitsterwing in die aarde se geskiedenis tien keer langer op land geduur het as in die see. Dirk Kok het met dr. Jennifer Botha, hoof van die Nasionale Museum in Bloemfontein se paleontologiedepartement vir Karoo-werweldiere, gesels oor dié internasionale navorsingsdeurbraak en die belangrikheid daarvan vir die mensdom in 2021.

Paleontoloë van die Nasionale Museum in Bloemfontein en van oor die land en wêreld heen het met dekades se opgrawingswerk en die bestudering van Karoo-fossiele in die Oos-Kaap en die Vrystaat ’n groot slag geslaan om lewe op ons planeet en spesie-uitsterwing beter te verstaan.

Altesaam 252 miljoen jaar gelede het die ergste massa-uitwissing tot nog toe op ons planeet plaasgevind. Dit was as gevolg van katastrofiese klimaatsverandering ná massiewe vulkaniese uitbarstings. Die meeste dierespesies het uitgesterf in dié permiaanse tydvak net voor die eras van die dinosourusse.

Van die vrae waarop wetenskaplikes steeds antwoorde soek, is hoe en waarom sekere diere uitgesterf en ander oorleef het.

Die bestudering van fossiele van die oerdier Lystrosaurus het groot lig gewerp op die grootste uitsterwing tot nog toe van lewe op die aarde 252 miljoen jaar gelede. Lystrosaurus was een van die min diere wat oorleef het. Skets: Gina Viglietti

Met hul veld -en laboratoriumwerk oor baie jare het die paleontoloë van die Nasionale Museum en elders nou nog ’n stap nader aan die antwoorde gekom.

Deur die bestudering van fossiele wat die afgelope 40 jaar rondom Bethulie in die Vrystaat en naby Graaff-Reinet, Middelburg en Noupoort in die Oos-Kaap gekry is, is vasgestel die uitsterwing van seelewe was veel sneller as die uitsterwing van landspesies in dié massa-uitsterwing 252 miljoen jaar gelede.

Spesies op land het tien keer stadiger uitgesterf as seespesies.

Dié bevinding is onlangs in die Proceedings of the National Acadamy of Sciences van Amerika (PNAS) gepubliseer, met Pia Viglietti – voorheen van die Universiteit van die Witwatersrand en tans ’n postdoktorale navorser aan die Field Museum in Chicago – as die hoofskrywer.Dekades se navorsing

Navorsingsinligting en -data oor fossiele wat die afgetrede Roger Smith, van die Iziko- Nasionale Museum in Kaapstad, oor 40 jaar ingesamel het en die afgelope 20 jaar se fossiel-inligting en data van Jennifer Botha, van die Nasionale Museum in Bloemfontein, het ’n deurslaggewende rol gespeel in dié navorsingsdeurbraak. Hulle was die hoofinsamelaars van die fossiele en is twee van die mede-outeurs van die PNAS-studie.

Die belangrikheid van dié navorsingsdeurbraak is eenvoudig. Én dit raak die moderne mens van vandag, sê Botha.

“Dit is heel eenvoudig. Begrip van die end-permiese uitsterwing gee vir ons leidrade oor die opkoms van die dinosourusse. Baie van die oerou soogdierfamilie het uitgesterf en dit het tot ongevulde ekologiese ruimtes gelei wat deur die evolusie van dinosourusse gevul is.

"Dié massa-uitsterwing gee egter ook vir ons insig in die hede. Ons gaan nou deur ’n massa-uitsterwing, en ons weet nie genoeg oor waarom sekere organismes oorleef, ander uitsterf en hoe lank of vinnig ’n uitsterwing moet wees om ’n sekere hoeveelheid diversiteit en spesies uit te wis nie.

"Die enigste wyse om dit regtig te bestudeer, is om na uitsterwings van die verlede te kyk en die oorlewingspatrone te probeer raaksien. Ons probeer kyk watter spesies meer vatbaar vir uitsterwing is as ander, en ons kan poog om hierdie inligting te gebruik om sensitiewe organismes in die hedendaagse uitsterwing te help bewaar. Die ekostelsels wat ons mense vandag nadelig beïnvloed, gaan duisende jare neem om te herstel, indien nie miljoene nie.”

Karoo-fossiele

Met ’n vollediger fossielrekord van lewe onder water weet wetenskaplikes al lank dat 85% van die oseanspesies in die bestek van 100 000 jaar uitgesterf het. Dit klink ná ’n lang tydperk, maar in geologiese tyd is dit vinnig.

“Die uitsterwing in die see het baie vinnig plaasgevind en ons wou weet of dit net so vinnig en terselfdertyd in die ekostelsels op land gebeur het,” vertel Botha.

“Dit was ’n lang projek tot hier. Ons het oor die jare fossiele van werweldiere van hierdie uitsterwingstyd ingesamel. Dié uitsterwing is eers in die seelewe, in seerots, raakgesien en die aanvanklike navorsing was tot dit beperk. Veel later het ons agtergekom die uitsterwing is ook vasgelê in rotse op land.

“Ons Karoo-kom hier in Suid-Afrika het die beste bewaarde fossiele van hierdie uitsterwing, so ons is die beste geposisioneer om dit te bestudeer.

“Ons het 588 fossiele bestudeer wat ons in die rots gekry het in die gebiede van Bethulie, Graaff-Reinet, Middelburg en Noupoort. Die meeste was werweldiere van die terapsides-groep – die voorgangers van soogdiere. Ons praat nie hier van dinosourusse nie; dit was voor die tyd van die dinosourusse. Daar is reptiele ook, maar die meeste van die fossiele was terapsides.

Só is dit gedoen

Dr. Jennifer Botha van die Nasionale Museum in Bloemfontein. Sy bestudeer al 20 jaar lank fossiele in onder meer in die Vrystaat en die Oos-Kaap. Hier is sy tydens ’n navorsingsekspedisie by die Tussen-die-riviere-reservaat by Bethulie.

Die 588 fossiele van die vierpotige diere wat toentertyd in die huidige Karoo-kom geleef het, is op grond van ouderdom en in tydperke van 300 000 jaar bestudeer.

Dit het die navorsers in staat gestel om die voorkoms en verdwyning van verskillende spesies te kwantifiseer en die groter prentjie van lewe oor tyd te sien.

Só het die navorsers vasgestel die uitsterwing op land was veel langer en uitgerek – tien keer stadiger as in die see.

“Ons is nog nie doodseker waarom die uitsterwing op land soveel stadiger was nie. Die denkrigting is dat die uitsterwing die gevolg was van vulkaniese uitbarstings van miljoene jare in die Siberiese gebied.

"Dit het tot ’n massiewe hoeveelheid swaeligsuurgas, koolsuurgas, metaangas en ander gasse in die atmosfeer gelei wat alle ekostelsels beïnvloed het. Die moontlike hoë absorbsie van gasse in die oseane kon taamlik lank geduur en dan tot ’n skielike ineenstorting gelei het. Dit is dalk waarom ons die skielike uitsterwing in die see sien, terwyl dit op land langer geduur het,” sê Botha.

Lystrosaurus

Een van die oerdiere wat groot lig gewerp het op die uitsterwing- en herstelpatrone van 252 miljoen jaar gelede is Lystrosaurus, ’n herbivoor en vroeë familielid van die soogdiere. Sy fossiele is volop in die Karoo-kom – ook uit die tydperk ná die groot uitsterwing van landdiere.

“Sy naam beteken graafneus, maar niemand noem hom so nie. Ons noem hom Lystrosaurus. Ek was al by verskeie studies oor hulle betrokke, hoofsaaklik oor waarom hulle so volop was. Hy het nie net oorleef nie, maar ná die uitsterwing gefloreer. Al die nuwe data van hierdie studie en ons bygewerkte databasis bevestig nou navorsing van vroeeër dat hy vooraf aangepas was vir die omgewing ná die uitsterwing.

"Die klimaat het tydens die uitsterwing verander van betreklik matig tot een van lang droogtes met uiters onvoorspelbare reënval. Terwyl so baie spesies nie in hierdie omstandighede oorleef het nie, het Lystrosaurus oorleef omdat hy, anders as soveel ander spesies, kon aanpas.”

Van die navorsers en fossielvinders wat betrokke was by die internasionale navorsingsdeurbraak oor die grootste uitsterwing van lewe in die aarde se geskiedenis. Van links is William Molehe en Thabang Ntsala, van die Nasionale Museum in Bloemfontein, Pia Viglietti, van Amerika, Roger Smith, van Kaapstad, Jennifer Botha, van die Nasionale Museum in Bloemfontein, Rose Prevec van Grahamstad, Nthaopa Ntheri, van die Nasionale Museum, en Bobby Eloff, vroeër van die Nasionale Museum in Bloemfontein.

Paleontoloë het vroeër gemeen hierdie dier het eers in die nasleep van die uitsterwing oorgeneem.

Die werk gaan aan vir Botha is hierdie navorsingsdeurbrake ná jare se werk opwindend.

“Dit is altyd lekker om op nuwe inligting af te kom, want ons werk al so lank hieraan. Dit is opwindend want dit lei tot nuwe vrae, wat weer sal lei tot verdere navorsing. Mense sal hierdie werk van ons wil beskou en ander groepe sal betrek word wat verder wil saamwerk of ons resultate wil gebruik.”

Sy sien uit na die werk vorentoe: “Ons het nooit al die antwoorde nie. Een van debatte nou is waar die permiese grens in die Karoo-kom is. Ons werk daaraan . . .”

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.