’n Unieke optiese verskynsel wat soms tydens weerlig en donderweer voorkom, is vir die eerste keer in Suidelike Afrika afgeneem.
Die verskynsel staan bekend as ’n sprite en kom ver bo ’n donderstorm in die mesosfeer voor (hoër as 50 km van die grond).

’n Verskynsel genaamd ’n sprite, sowat 372 km van die waarnemer af. Dit lyk byna soos ’n wortel en is waargeneem by die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag in Sutherland. Dit is die eerste keer dat die verskynsel in Suidelike Afrika afgeneem is. Die is optiese handtekeninge wat in die mesosfeer verskyn tydens weerlig. Die helder lig in die hoek regs onder, is die weerlig wat die sprite veroorsaak het. Foto: Stanislaus Nnadih/SAJS
Dié navorsing deur Stanislaus Nnadih en kollegas het Dinsdag in die South African Journal of Science verskyn.
Luidens die navorsing kom sprites, wat elektries van aard is, blitsig bo ’n veraf donderstorm voor. Wanneer dit met ’n hoëspoedkamera afgeneem word, lyk dit of dit afwaarts beweeg en dan weer opwaarts.
Dit word veral geassosieer met weerlig wat van die wolke na die grond slaan. Daar is anekdotes dat dit die eerste keer in 1937 in Suid-Afrika gesien is, maar in 1989 is dit die eerste keer bevestig.
Luidens die navorsing blyk dit buiten die elektriese lading, beïnvloed sprites ook chemiese samestellings in die atmosfeer deur die samestelling van die oksides van stikstof en waterstof te verander. Dit kan ’n invloed op die verhitting en afkoeling van dié gebied hê en dit beïnvloed langafstandkommunikasie deur die laer ionosfeer.
Dit is moontlik dat daar een tot drie sprites elke minuut iewers in die wêreld kan plaasvind.
Die waarnemings wat met ’n hoëspoedkamera gedoen is by die Suid-Afrikaanse Astronomiese Sterrewag in Sutherland is oor 22 nagte gedoen en dit is gedurende twee van dié nagte waargeneem. Daar is 100 sulke sprites gesien.
Dit neem allerhande vorms aan, soos dié wat kompleet soos wortels of ’n pilaar lyk, terwyl sommige net vreemd lyk.