Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Waar kom velkleur vandaan? Dis bloot biologie

Die wêreld dra swaar aan historiese etikette wat die mensdom aan velkleur heg, sonder om dalk die evolusionêre biologie daarvan te verstaan.

Hoe werk velkleur en waar kom ons daaraan? Velkleur is deel van die meganisme van evolusie – natuurlike seleksie, en dit het onafhanklik en verskeie kere in die mens se geskiedenis ontwikkel.

Dit gaan ver terug.

Die mens en sy naaste lewende familielid in die diereryk, die sjimpansee, se voorsate het sowat ses tot sewe miljoen jaar gelede van een gemeenskaplike voorsaat geskei, waarna die stam-nasate in verskillende takke ontwikkel het.

Dié gemeenskaplike voorsaat was oortrek met donker hare met ’n ligte vel daaronder. So ook die ander oer-genusse en spesies wat deel van die groter menslike stamboom is.

Homo erectus (sowat 2 miljoen jaar gelede), het nie net uit Afrika gemigreer nie, maar het ook ’n groot brein gehad. ’n Mens se brein is gulsig vir energie, maar die nadeel is dat die liggaam hard moet werk om hom koel te hou.

Hoewel Homo erectus nie die eerste hominied was wat regop geloop het nie, het hy aansienlik vinniger en verder beweeg, wat nog meer verkoeling vereis het.

Om behoorlik te sweet, vereis talle sweetkliere en ’n naakte liggaam. Die mens is een van die spesies wat die doeltreffendste kan sweet.

Teen 1,6 miljoen jaar gelede het die mens se voorsate ’n donker vel (met aansienlik minder hare) gehad, en teen een miljoen jaar gelede was die vel so te sê naak.

Vir die mens was dit ’n kwessie van oorlewing en is dit deel van die geheelbeeld van sy evolusie en reproduktiewe sukses. Net soos die feit dat ons sowat ’n miljoen jaar gelede geleer het om vuur te bemeester, regop te loop en te jag, was die afskud van ons hare deel van ons pad.

Hierdie naakte liggaam het ons voorsate blootgestel aan skadelike ultravioletstrale (UVS) van die son. Dit veroorsaak skade aan die DNS deur ’n chemikalie (folaat), wat noodsaaklik vir die vervaardiging van DNS is, af te breek.

Melanien (verantwoordelik vir pigmentasie) dien egter as ’n natuurlike sonbrandmiddel teen UVS.

Die ontwikkeling van ’n donker vel was dus noodsaaklik vir oorlewing.

Melanien laat egter ’n klein bietjie UV-straling deur wat die liggaam in staat stel om vitamien D te vervaardig, wat weer baie belangrik vir algemene gesondheid is.

Homo sapiens het teen 350 000 jaar gelede (dit blyk nou ons het nie 200 000 jaar gelede ontstaan nie, nadat nuwe fossiele na vore gekom het) in Afrika ontwikkel en was dus donker van kleur.

Mense het binne Afrika gemigreer en teen 80 000 jaar gelede na Australasië, 65 000 jaar gelede na Oos-Asië en 45 000 jaar gelede na Europa.

Die mens moes geneties weer verander deur van die beskermende melanien-pigment ontslae te raak in die Noordelike Halfrond, waar UV-straling aansienlik minder is. Dit is hoe mense wat na die Noordelike Halfrond gemigreer het, ligter van velkleur geword het.

Vandag is daar in die menslike genoom onafhanklike mutasies te sien vir depigmentasie van melanien (ligter vel).

In lande soos Indië en Pakistan het die mense mettertyd weer donkerder geword in ’n proses wat as herpigmentasie bekend staan, omdat hulle na ’n tropiese klimaat teruggekeer het.

Dié depigmentasie van velkleur het onafhanklik ontwikkel in die voorsate van moderne Europeërs en Asiërs.

Dit kan in genetika gesien word – omdat mutasies in gene spore oor honderde generasie laat. Dit is onbetwisbaar.

Velkleur se ontwikkeling was dus nie lukraak nie, maar hou verband met patrone van migrasie en die son.

Dit is biologie en ons almal se voorsate was eens swart.

* Elsabé Brits is ’n wetenskapjoernalis van Netwerk24.

Meer oor:  Hoe Werk Dit  |  Wetenskap  |  Elsabé Brits
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.