Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Wetenskap
Wêreld se oudste tekening in SA gevind, lyk soos hutsmerk
’n Panorama van die Blombosgrot in die Suid-Kaap waar vele argeologiese ontdekkings al gemaak is. Foto: Magnus Haaland

Die wêreld se oudste tekening, wat deur ’n mens op ’n stukkie gladgemaakte rots gemaak is, is in ’n grot in Suid-Afrika gevind.

Dié tekening is 73 000 jaar oud – ’n volle 30 000 jaar ouer as vorige ontdekkings van kunswerke wat deur mense in grotte in onder meer Frankryk en Spanje gemaak is. Dit is ook ouer as ander sketse uit Afrika en Asië.

Die oudste kunswerk, of simboliese skets, gemaak deur mense, is in Suid-Afrika in die Blombosgrot, in die Suid-Kaap, gekry. Dié kruispatrone wat byna soos ’n hutsmerk lyk, is 73 000 jaar oud – 30 000 jaar ouer as enige ander patrone wat mense elders gemaak het. Dit is met ’n okerkryt op ’n gladde stuk silkreet gemaak.Foto: Craig Foster

Die aankondiging is Woensdag gemaak deur prof. Christopher Henshilwood, navorsingsgenoot aan die Universiteit van die Witwatersrand (Wits) in die vaktydskrif Nature.

Die skets bestaan uit drie skuins lyne wat weer deur ses ander afsonderlike lyne gekruis word. Dit lyk byna soos ’n moderne hutsmerk. Dit is met ’n okerkryt gemaak op gladgemaakte silkreet en is doelbewus deur ’n moderne mens geskep.

Dit is ontdek deur dr. Luca Pollarolo toe hy deur materiaal van die Blombosgrot in die Suid-Kaap gesif het. Dié grot word al sedert 1991 opgegrawe deur Henshilwood en dr. Karen van Niekerk van die Universiteit van Bergen in Noorweë.

Henshilwood is ook direkteur aan dié universiteit se Sentrum vir Vroeë Sapiensgedrag.

Prof. Chris Henshilwood en dr. Karen van Niekerk werk in die Blombosgrot in die Suid-Kaap waar die oudste tekening wat deur mense gemaak is, gevind is. Dit is 73 000 jaar oud, en 30 000 jaar ouer as enige ander skets elders. Foto: Ole Frederik Unhammer

Daar is materiaal in Blombos van 100 000 jaar gelede tot net ná 70 000 jaar gelede. En dan weer van 2 000 jaar gelede tot sowat 300 jaar gelede.

Prof. Francesco d’Errico van Frankryk het vasgestel dat die lyne nie natuurlik deel is van die stukkie silkreet nie, maar dat dit daarop gemaak is. Dit is gedoen met spektroskopie en ’n elektronmikroskoop.

Die okerkryt wat gebruik was, se punt was tussen 1 mm

en 3 mm dik. Die lyne eindig skielik en die kenners dink die patroon is op ’n groter stuk rots gemaak wat later gebreek het.

Volgens die studie kan taal, skryf, geloof, wette en wiskunde nie bestaan sonder die mens se vermoë om simbole te skep en te verstaan nie. Uiteindelik gee dit aanleiding tot kultuur.

Maar hoe, waar en wanneer dit deel geword het van die mens is nog nie ontrafel nie. Voorheen is daar al ’n stukkie oker (van 70 000 jaar gelede) met ’n patroon op en skulpe met gaatjies in wat ook ingekleur is met oker, gevind.

’n Kunswerkswinkel van 100 000 jaar gelede bestaande uit kliphamers, maalklippe, oker, bene en perlemoenskulpe is gevind. Dit is alles gebruik in ’n proses om okerverf te maak.

Meer oor:  Christopher Henshilwood  |  Blombos  |  Sa  |  Hutsmerk  |  Oudste Tekening  |  Beskawing  |  Wetenskap
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.