Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Witrenoster met gespalkte poot ‘ ’n eerste in SA’
Dr. Johan Marais van Onderstepoort en stigter van Saving the Survivors, spalk die renoster se poot. Foto: Saving the Survivors
Die koeël het die beentjie net bokant die renoster se toon vergruis.

Daar is waarskynlik net een witrenoster in die wêreld wat met ’n gespalkte poot rondloop.

Só sê dr. Johan Marais van die Universiteit van Pretoria se fakulteit veeartsenydienste by Onderstepoort en stigter van Saving the Survivors.

Marais het Donderdag vertel ’n witrenoster – vermoedelik ’n slagoffer van ’n mislukte stropingspoging – is sowat drie weke gelede in haar linkerpoot geskiet. Die koeël het die beentjie net bokant haar toon vergruis en sy het baie pyn verduur.

’n Plaaslike veearts van KwaZulu-Natal het haar poot vir langer as ’n week teen infeksie behandel. Toe dít opgeklaar is, het hy Marais en sy span met al hul mediese toerusting van Pretoria laat kom om dié dier te help omdat dit gelyk het asof sy steeds nie op haar poot kon trap nie.

Marais het X-strale van haar poot geneem en die fraktuur gesien. Hy het daarop besluit om ’n spalk van veselglas te maak en dit om haar poot te draai. Sy is verdoof, die spalk is om haar poot gesit en sy het feitlik dadelik nadat sy haar bewussyn herwin het, beter begin loop.

Die driejarige witrenoster se vordering word nou daagliks met ’n arendsoog dopgehou. Oor twee weke sal die spalk afgehaal word en ’n nuwe ene sal aangesit word.

Dit is die eerste keer in die geskiedenis van veeartsenykunde in Suid-Afrika dat ’n renoster se poot gespalk word.

“Dit is die eerste keer waarvan ons weet,” het Marais gesê.

Marais en sy kollega dr. Gerhard Steenkamp is veral daarvoor bekend dat hulle die gesigte opbou van slagoffers van stropery nadat hul horings afgesny is. Die gesigte van renosters wat ’n stropingsvoorval oorleef, maar hul horings verloor, is gewoonlik erg vermink.

Die renoster met die gespalkte poot het steeds albei haar horings.

“Ek vermoed sy is geskiet en het vir die stropers weggehardloop.”

Hy meen sy het hulle in die hardloop verwilder en afgeskud.

Die renosterkoei sterk in ’n natuurreservaat in KwaZulu-Natal aan.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.