Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
Denel moet aanleg in Macassar skuif, sê De Lille
Jason Hartzenberg en Jamie Haydricks wat in die ontploffing gesterf het. Foto: Jaco Marais
Triston Davids en Bradley Tandy wat ook hulle lewens verloor het.Foto: Jaco Marais
Nico Samuels en Stevon Isaacs wat gesterf het.Foto: Jaco Marais

Patricia De Lille, burgemeester van Kaapstad, het Donderdag tydens ’n emosionele gedenkdiens vir die agt slagoffers van Maandag se ontploffing by die Rheinmetall Denel-wapenvervaardiger se aanleg in Macassar gesê dit is tyd om die plofstof-fabriek uit die gemeenskap te skuif.

Die trane het Donderdagaand vrylik gevloei in die volgepakte St. Joseph The Worker, die Anglikaanse kerk in Macassar, terwyl bedroefde familielede die foto’s van die ontploffingslagoffers wat op ’n oorhoofse projektor uitgebeeld is, aangestaar het.

Net ses van die slagoffers se families was teenwoordig tydens die diens. Die twee ander families het soortgelyke dienste in Lwandle gehad.

Eerwaarde Conville Prins het gesê dat die gemeente vir die families bid en saam met hulle die moeilike pad sal loop.

“Ons vra Jesus en sy engele om hier teenwoordig te wees,” het Prins gesê.

Lawrencia Samuels word vertroos deur familie terwyl sy ‘n kers te nagedagtenis aan haar man, Nico, aansteek.Foto: Jaco Marais

“U ken die smeekgebede van dié wat in pyn is. In skok en ongeloof staan ons voor U . . . Ontferm U oor ons en hulle geliefdes,” het Prins gesê.

Familielede van die slagoffers het elkeen ’n kers aangesteek ter nagedagtenis aan hul geliefdes wat in die brand omgekom het, terwyl elke gesin ’n simboliese wit roos ontvang het.

“Ons steek hierdie kers aan die brand ter nagedagte aan Bradley, Jamie, Jason, Mxolisi, Nico, Steve, Thandolwethu en Tristan,” het aartsdeken Lundi Joko die slagoffers een vir een by name genoem.

Die slagoffers is deur hul families geïdentifiseer as Bradley Tandy, Jason Hartzenberg, Thando Mankayi, Mxolisi Sigadla, Nico Samuels, Triston Davids, Jamie Haydricks en Stevon Isaacs.

Biskop Margaret Vertue het gebid vir die werkers reg oor ons land wat lang skofte onder moeilike omstandige moet werk.

“Ons sal vergewe, maar ons is nog nie gereed om dit te doen nie,” het Vertue gesê.

Sy het gesê sodra Denel weet wat die oorsaak van die ontploffing is, moet hulle seker maak dat ’n soortgelyke voorval nooit weer gebeur nie.

“Wat gebeur het, is nie God se wil nie, dit was ’n menslike fout, maar Jesus het op die oomblik van impak aan die slagoffers gesê dat hulle saam met hom in die Paradys sal wees,” het Vertue bygevoeg.

De Lille het haar skerp uitgespreek teen die plofstof-fabriek wat in die middel van die gemeenskap is.

Die gedenkdiens is ook deur Patricia de Lille bygewoon.Foto: Jaco Marais
Familielede van die slagoffers het elkeen ’n kers aangesteek ter nagedagtenis aan hul geliefdes, terwyl elke gesin ’n simboliese wit roos ontvang het. Foto: Jaco Marais
‘n Spesiale gedenkdiens is Donderdagaand gehou vir die Rheinmetall Denel Munitions-werkers wat Maandagmiddag hul lewens in ‘n ontploffing verloor het. Foto: Jaco Marais

“Ek dink die tyd het aangebreek dat Denel sy munisie-aanleg vir eens en vir altyd skuif uit ons gemeenskappe,” het De Lille gesê.

“Denel moet skuif ver weg van ons gemeenskappe waar daar geen mense naby bly nie. Denel moet skuif en ons gemeenskappe in vrede laat, want volgende keer is dit die hele Macassar wat geaffekteer is. Dit is nie die eerste keer dat die gemeenskap deur so ’n tragedie moes gaan nie en dit gaan nie ophou.” het De Lille gesê.

Aan die families het De Lille gesê dat die hele Kaapstad hul hartseer voel en dat hulle nie moet huiwer om te vra as hulle enigiets benodig nie.

Meer oor:  Ontploffing  |  Denel  |  Macassar
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.