Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Nuus
US en Gelyke Kanse wil in UV-taalbeleidsaak deel

Die jongste verwikkeling in die taalbeleidsaak tussen Gelyke Kanse en die Universiteit van Stellenbosch (US) is dat beide partye as amicus curae (vriend van die hof) by die soortgelyke saak in die Vrystaat wil deel raak.

Die Universiteit van die Vrystaat (UV) het onlangs in die hooggeregshof in Vrystaat verloor teen AfriForum oor die goedkeuring van die UV se nuwe taalbeleid.

Die UV het egter die beslissing na die appèlhof in Bloemfontein geneem en ’n datum moet nog bepaal word vir die aanhoor van die saak.

Verlede week het die US aan die appèlhof geskryf en versoek dat hulle as amicus curae (vriend van die hof) in daardie saak mag deel word.

Die US het nie vir Gelyke Kanse van hierdie versoek in kennis gestel nie.

Danie Rossouw, Gelyke Kanse se regsverteenwoordiger, het bevestig hulle het ook dieselfde versoek aan die appèlhof gerig.

“Dis net regverdig dat Gelyke Kanse dieselfde vergunning behoort te kry,” sê hy.

Martin Viljoen, woordvoerder van die US, sê die US het nie ’n aansoek by die appèlhof ingedien nie.

“Die US oorweeg tans die moontlikheid om as vriend van die hof toe te tree en het UV en AfriForum dienooreenkomstig ingelig.

“As vriend van die hof sal US ’n bydrae wil lewer met betrekking tot die interpretasie van die grondwetlike beginsels wat relevant is in sake van hierdie aard,” sê Viljoen.

As vriend van die hof sal US ’n bydrae wil lewer met betrekking tot die interpretasie van die grondwetlike beginsels wat relevant is in sake van hierdie aard

Na wat verneem word het beide AfriForum en die UV se regspanne betreklik vinnig reageer en is nie ten gunste van die US se versoek nie.

Spesifieke navrae aan Viljoen oor wat die uitkoms van die versoek was, en of die US die saak moontlik probeer vooruitloop voordat dit in die Kaap aangehoor word, is onbeantwoord gelaat.

Gelyke Kanse het op 30 September hul aansoek om die US se taalbeleid te hersien, by die hooggeregshof in Kaapstad ingedien.

Die US het eers twee weke later hul kennisgewing dat hulle die aansoek teenstaan, ingedien.

Viljoen het vroeër aan Netwerk24 gesê die rede vir die uitstel was dat die uitvoerende komitees van die US se raad en senaat moes vergader om formeel oor die aansoek te besluit.

Luidens die kennisgewing staan die eerste drie respondente, die voorsitter van die senaat, die voorsitter van die raad en die universiteit, die aansoek teen.

Die res van die hofstukke, die US se repliek, moet nog by die hof ingedien word.

Luidens Gelyke Kanse se hofstukke het verskeie bekende skrywers en dosente – onder andere Breyten Breytenbach, R.W. Johnson, prof. Anne-Marie Beukes, dr. Marié Heese, prof. Hermann Giliomee, prof. Johann Rossouw, dr. Francis Galloway en Abraham Phillips, reeds eedsverklarings afgelê. Dit vorm deel van die aansoek.

Gelyke Kanse versoek die hof om:

* Die US se nuwe taalbeleid, wat op 22 Junie deur die senaat en die raad aanvaar is, te hersien en tersyde te stel;

* Die US te gelas om die taalbeleid en taalplan wat op 22 November 2014 deur die raad goedgekeur is, toe te pas; en

* Te verklaar dat Afrikaans “nie meer ’n gelyke vlak” aan die US het nie.

Meer oor:  Hermann Giliomee  |  Bloemfontein  |  Appelhof
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.