
Foto ter illustrasie.
Netwerk24
Noorweegse mariene kundiges meen ’n witwalvis met ’n harnas aan wat verlede week deur vissermanne opgemerk is, is ’n lid van die Russiese vloot se onderwatermag.
Die Britse The Guardian berig vissermanne naby die dorpie Inga in Noorweë het verlede week gesê ’n witwalvis met ’n vreemde harnas aan het hul treilers lastig geval.
Joar Hesten sê hulle wou hul nette uitgooi toe hulle ’n walvis tussen hul bote sien swem.
“Dit het na ons geswem en ons het opgelet dat dit ’n soort harnas aan het,” het hy aan NRK, die Noorweegse uitsaaidiens, gesê.
Die walvis se gedrag en die harnas, wat lyk of dit vir ’n kamera of wapen ontwerp is, laat sommige mariene kundiges vermoed die dier is deur Russiese militêre magte opgelei.
Die vissermanne het die harnas verwyder en aan die binnekant die woorde “Toerusting van St. Petersburg” gevind.
Volgens die vissermanne was die walvis baie mak en het dit gelyk asof hy gewoond is aan mense.
Martin Biuw van die Instituut van mariene navorsing in Noorweë, sê indien die walvis wel ’n Russiese konneksie het, en daar is rede om dit te glo, is die vloot eerder as Russiese wetenskaplikes betrokke.
Die BBC berig kol. Viktor Baranets van die Russiese leër het in ’n radio-onderhoud gesê dat dit onwaarskynlik is dat kontakbesonderhede verskaf sal word indien dit ’n Russiese spioenasiewalvis is. “As ons diere gebruik vir spioenasie, dink jy regtig ons sal ’n nommer bysit?
Volgens hom het Rusland ’n sentrum vir militêre dolfyne in Sevastopol. Dolfyne word daar opgelei om verskeie take te verrig, soos om die seebodem te verken, ’n gebied te beskerm, verdagte duikers uit te skakel en bomme teen buitelandse skepe se rompe te plaas.