Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leefstyl
Pols
10 sake om na te kyk voor jy trou
Daar is meer om te oorweeg voor jou groot dag as die spyskaart en die prys van blomme. Helen Ueckermann gee raad.
Spring reg weg met jul huwelik deur reeds voor jul troue aan jul finansiële toekoms te dink.FOTO: THINKSTOCK

Verloofdes kan vinnig met mekaar ooreenkom wie die troufoto’s gaan neem en wie met tant Bessie Bitterbek opgeskeep gaan sit by die onthaal.

As dit kom by finansies, is die meeste jong paartjies se monde egter die ene tande, en dit oor ’n onderwerp wat as een van die grootste redes vir die verbrokkeling van huwelike aangevoer word.

Annemie Nieman, regsadviseur van PSG Konsult, sê daar is tien belangrike aspekte wat elke bruid en bruidegom moet oorweeg voor hulle die jawoord gee:

1. Kies ’n huweliksbedeling

In Suid-Afrika is daar drie huweliksbedelings om van te kies, elk met sy voor- en nadele. Sodra jy getroud is, kan die huweliksbedeling slegs gewysig word deur ’n aansoek by die hooggeregshof in te dien.

Dit is ’n duur en moeisame proses, en daarom is dit raadsaam om die advies van ’n kundige in te win voordat julle ’n besluit neem.

“Raadpleeg ook jou finansiële raadgewer omdat hy of sy inligting het oor jou finansiële agtergrond, jou bates en laste asook jou besigheidsbelange en -risiko’s. Hierdie inligting kan waardevol wees in die kies van ’n geskikte huweliksbedeling,” sê Nieman.

2. Huweliksvoorwaardekontrak

Jou huweliksvoorwaardekontrak (HVK) is ’n veelsydige ooreenkoms wat enige bepalings kan insluit solank dit wettig is.

Jy kan byvoorbeeld ooreenkom om sekere bates of geskenke aan jou gade te gee by sekere gebeurtenisse (soos die geboorte van ’n kind).

Jy kan ook spesifieke bates uitsluit van ’n huwelik binne gemeenskap van goedere of van die aanwasbedeling. ’n HVK kan ook nuttig aangewend word in boedelbeplanning, waar langtermynpolisse wat ingevolge ’n HVK aan die langslewende gade of kind van die oorledene geskenk is, uitgesluit is van die oorledene se boedel.

Nieman wys daarop dat ’n HVK nie net die verdeling van bates en laste by egskeiding reguleer nie, maar ook wanneer jy te sterwe kom. Waar jou testament bepaal hoe jou bates by dood verdeel word, bepaal jou HVK wat jou bates is en wat jou gade s’n is.

As ’n geldige HVK nie voor die troue gesluit is nie, is jy outomaties getroud binne gemeenskap van goedere.

Indien dit dus nie jou keuse is nie, moet ’n geldige HVK gesluit word voordat jy “ja” sê. Dit geld ook partye wat ’n verbintenis sluit ingevolge die Wet op Burgerlike Verbintenisse van 2006.

3. Stel jou kredietstatus vas

Jou kredietstatus is belangrik wanneer jy besluit op ’n huweliksbedeling omdat dit jou help om enigiets wat in die pad van ’n leningsaansoek (soos vir ’n huisverband) mag staan, te identifiseer.

’n Gratis kredietverslag kan een keer per jaar verkry word van www.mytransunion.co.za.

4. Verander nominasies van begunstigdes

As jy iemand as begunstigde genomineer het vir enige polisuitbetalings, het die versekeraar geen ander keuse as om die voordeel aan daardie persoon te betaal nie, sê Nieman.

“Dit is daarom belangrik om nuwe begunstigdes van jou lewenspolisse, aftreefondse en werknemervoordele te nomineer.

“Indien nie, mag jou lewensdekking en aftreevoordele uitbetaal word aan iemand wat jy nie meer wou bevoordeel nie,” sê sy.

5. Hersien jou testament

Tensy anders bepaal in jou testament, word aangeneem dat jy jou huweliksmaat wil bevoordeel by jou dood. Indien jy dus te sterwe kom sonder om ’n testament na te laat, sal jou gade outomaties ingevolge die erfreg sekere voordele ontvang.

Indien jy egter te sterwe kom sonder dat jy jou testament hersien het, sal jou verouderde testament steeds geld, selfs al word jou gade nie daarin bevoordeel nie.

6. Naamsverandering

Daar bestaan geen verpligting vir jou om jou maat se van aan te neem nie, hoewel baie verkies om dit wel te doen. Vra jou finansiële raadgewer om jou te help met die verandering van jou naam op jou lewenspolisse, beleggings, ens. Jy sal jou identiteitsdokument en huweliksertifikaat hiervoor benodig.

7. Lewens- en ongeskiktheidsdekking

“ ’n Huwelik bring bykomende finansiële verpligtinge. Lewens- en ongeskiktheidsdekking is ’n manier om aan hierdie verpligtinge te voldoen ongeag wat met jou gebeur. Jou finansiële raadgewer sal kan bepaal watter bedrag dekking jy benodig om in jou behoeftes te voorsien in geval van dood of ongeskiktheid. Indien dit nie jou eerste huwelik is nie, moet jy onthou om ook voorsiening maak vir die onderhoud van enige kinders uit ’n vorige huwelik,” sê Nieman.

8. Korttermynversekering

Dit is gewoonlik goedkoper om jul bates onder een korttermynpolis te verseker. Onthou ook om jul ringe te verseker. Indien julle nie jul ringe verseker nie, kan dit teen niks gewaardeer word nie.

9. Mediese skema

Dit is goedkoper as albei van julle lid is van een mediese skema. Enigeen kan die hooflid wees, maar omdat julle net een keer per jaar jul mediese plan kan opgradeer, moet julle daardie plan kies wat jul gesamentlike behoeftes die beste dek.

10. ’n Eie bankrekening

Hoewel baie paartjies verkies om hul inkomste ná die troue saam te voeg, word ’n gesamentlike bankrekening volgens Nieman nie aanbeveel nie. Dit is uiters moeilik om eienaarskap van items te bepaal wat deur middel van ’n gesamentlike bankrekening gekoop is. Dit skep veral probleme waar ’n vonnis teen een van die gades verkry is en op daardie gade se bates beslag gelê word.

  • Helen Ueckermann is die aanbieder van Rand en Sent op RSG.
Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.