Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Leefstyl
Atletiek
As jy val, staan weer op
Top-atleet rig bestes af
Louzanne Coetzee saam met Rufus Botha. Foto: Verskaf

DIT maak nie saak hoeveel keer jy in jou lewe val nie, maar hoeveel keer jy opstaan en uit daardie foute leer.

So praat ’n man wat soms met ’n dubbelsweep deur die noodlot geslaan is, maar telkens weer opgestaan het.

Sy beleid wanneer hy ’n atleet afrig, is: Ek kan die beste van jou maak as jy geestelik en liggaamlik daartoe in staat is.

Rufus Botha, vryskut-sportjoernalis, se passie vir atletiek is vasgelê sedert sy geboorte op 21 Maart 1962 in Bloemfontein. Sy pa, Leon, óók ’n voormalige atletiekskrywer, se liefde vir atletiek was landwyd bekend.

Rufus het ook ’n passie vir die sport aangeleer en glo ’n beter mentor as sy pa was daar nie.

Vroeg begin

Rufus se kennismaking met mededingende atletiek het op vier jaar begin toe hy vir sy eerste veldwedloop aangetree het. Hy het in die jongste ouderdomsgroep (seuns o.10) deelgeneem. Sy pa het saam met hom gehardloop sodat hy nie ’n verkeerde koers inslaan en te ver agter die ouer seuns is nie. “Ek was tweede laaste.”

Deelname aan moordende wedlope op ’n jong ouderdom het hom min geskeel en hy het as sewejarige (1969) die taai Harrismith-bergwedloop (15 km) voltooi.

“Dit was taai. My beste vriend, André Paiva, was saam en het geval en sy arm gebreek.”

Toe Botha tien jaar oud was, het hy die destydse gewilde 16 km-wedloop van Odendaalsrus na Welkom in 60:17 voltooi.

In dieselfde jaar het hy op die baan begin uitblink en as tienjarige drie wêreldrekords opgestel. Dit was in die 1 500 m, 3 000 m en 5 000 m. Een van die rekords (1 500 m) het aan die legendariese Finse atleet Paavo Nurmi behoort wat nege Olimpiese goue medaljes gewen het.

In 1985 het hy hom by die Vaal Reefs-goudmyn op Orkney as personeelbeampte aangesluit. Hy het voor dit onder meer vier junior en een senior nasionale Weermag-titel agter sy naam geskryf. Hy het ook baie Vrystaat-baan- en -veldwedlooptitels gewen en is nog die houer van die Kommandement Vrystaat se rekord in die 3 000 m-hindernis.

Botha, wat van die destydse sub A tot matriek aan Grey-kollege in Bloemfontein skoolgegaan het, sê: “Dit kan eienaardig klink, maar die rekord waarop ek die trotsste is, was Grey se rekord in die 3 000 m vir seuns o.19 (1980). Ek het die rekord tot 8:52 verbeter en dit het 20 jaar gestaan . . . totdat ene Johan Cronjé dit in 2000 tot 8:47 verbeter het.”

Cronjé het vanjaar die Suid-Afrikaanse senior 1 500 m-rekord geklop en het Sondag die bronsmedalje in die nommer op die wêreldkampioenskappe in Moskou gewen.

Botha se passie as atletiek-aankondiger het reeds in 1987 by Vaal Reefs begin toe hy gevra is om op ’n tussen-myne-sporttoernooi aan te kondig.

Die afrigting-gogga het hom ook op Vaal Reefs gebyt toe sy destydse afrigter by die myn, Richard Turnbull, bedank het en hom gevra het om die groep oor te neem.

“Die Vaal Reefs-manne was ’n groot atletiekkrag in ons land. Ek het een van die beste atlete wat die land nóg opgelewer het, Mathews Temane, afgerig,” vertel Botha.

Rufus kom ‘huis toe’

In die middel-1990’s het Botha besluit om “huis toe te kom” en hom weer in Bloemfontein te vestig. Hy en sy pa het toe saam begin afrig en toe sy pa siek word, het Botha heeltyds afgerig. Hy het sowat 100 atlete uit alle oorde van Bloemfontein gebrei en het tot dusver 15 atlete in die jeug-, junior en senior afdelings tot hul Groen en Goud gehelp.

Dit sluit nie atlete in wat aan veelkampe deelgeneem het nie. Voeg jy hulle by, het Botha 24 internasionale atlete onder sy vleuel gehad.

Hy het tussen die afrigting deur ook by sy pa oorgeneem as aankondiger op atletiekbyeenkomste. “Ek het later ook op nasionale en prestige-byeenkomste die plig verrig. Van al die byeenkomste was vanjaar se aankondiging op die Suid-Afrikaanse kampioenskappe vir atlete met gestremdhede die beste.”

Sy het my kleintyd gehelp om die geloofspad te loop en hoewel ek afgedwaal het, het ek weer die regte koers gekies. Nou is my leuse: Dit is nie belangrik hoeveel keer jy val nie, maar hoeveel keer jy kan opstaan.
Rufus Botha

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.