Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
5 dinge om te doen op pad KKNK toe
Die Ou Tronk Koffiewinkel in Riversdal is ’n heerlike bymekaarkomplek op die roete na die fees. Foto: VERSKAF

Moenie net die pad KKNK toe afjaag nie, ry al kuier-kuier op met Roete 62. Slaap oor en ontdek die klein juweeltjies langs die pad. Belinda Jackson sonder vyf dinge uit wat jy gerus op die proef kan stel.

1. Die pad raak hier en daar vervelig as jy net koers vat om vinnig by jou eindbestemming uit te kom. Langs Roete 62 is daar gelukkig vele opwindende buitelugaktiwiteite, soos by Rafting Route 62 by die Robertson Backpackers. Bespreek ’n nag of twee daar en vul jou reisdagboek na die KKNK met opwindende vlotvaarte op die Breërivier langs groen wingerde met die Langeberge in die agtergrond. Die lengte van die vlotvaarte is ongeveer 10 km en dit kan maklik van drie tot vier uur neem om te voltooi, wat vreeslik opwindend kan wees en sal sorg vir ’n onvergeetlike reis na die KKNK. In Montagu kan jy gaan rotsklim of selfs gaan foefieslaaid by Karoo Avonture.

Die pad na die KKNK is vol opwinding met heerlike vlotvaarte by Rafting Route 62 in Robertson.Foto: KEVIN GILLOT

2. Gaan gooi ’n draai by die Ou Tronk Koffiewinkel in Riversdal aan die Tuinroete. Daar wag jou dosis koffie, heerlike wortelkoek, smaaklike tuisgemaakte pasteie, bobotie, kaaskoek en ontbyt teen bekostigbare pryse. Koop ook al jou geskenkies vir verjaarsdae en Kersfees hier met al die mooigoed, eiesoortige geskenke, kuns en antiekeware op die winkelrakke. Die padstalle langs Roete 62 sal jou ook nie teleurstel nie. Affie Plaas aan die R60 net buite Robertson het handvlyt, droëwors, biltong en droëvrugte om van te kies vir jou laataandkuiers by die KKNK. Kyk ook uit vir die Clarke of Karoo-restaurant en -padstal in Barrydale, ’n gewilde stop vir etes, en natuurlik die ikoniese Ronnie’s Sex Shop...

Die Otto Hager-kerk in Ladismaith is 143 jaar oud.Foto: HETTIE WEYMAR

3. Vir die geskiedenisliefhebber is ’n draai in Ladismith ’n moet. Die dorp het agt nasionale monumente. Gaan verbreed jou kennis en lê besoek af by die Albert Manor (1899) uit die Victoriaanse tydperk, Hoff­land Hoyz (1883), ’n tipiese Karoostyl-rietdakhuis, die Lutherse kerkkompleks (1856, neo-Goties), Oakdene (1876), ’n pragtige Victoriaanse dubbelverdiepinghuis, die Otto Hager-kerk (1874, neo-Goties) en die Pinkster-Protestante-kerk (1906, neo-Goties) wat eers as ’n Metodiste Kerk gebou is en later deur vier verskillende kerkgenootskappe gebruik is. Die Volstruis Paleis (1903), ’n laat-Victoriaanse villa, en Ye Old Cottage (1884), nog ’n Karoo-styl-rietdakhuis, is ook ’n besoek werd.

Foto:

4. Roete 62 staan nie verniet bekend as die langste wynroete in die wêreld nie. Jou rit Oudtshoorn toe kan net nog aangenamer wees met besoeke en proeë by van die beste wynkelders in Suid-Afrika. Dink maar aan onder meer Boplaas, De Krans en Calitzdorp-wynkelder, almal bekend vir hul bekroonde wyne. Die wynkelders in hierdie streek is veral bekend vir hul gefortifiseerde wyne, soos port, wat gereeld pryse losslaan by die voorste wynkompetisies in Suid-Afrika. By Calitzdorp-wynkelder kan jy uitstekende uitsigte oor die Gamkavallei geniet terwyl jy aan hul wenwyne teug. Proetye is daagliks, behalwe op Sondae. Hier kan jy sommer ook jou wynvoorraad aanvul vir al daardie laat aande by die KKNK.

Ervaar Afrika van naderby op pad na die KKNK by die Garden Route Game Lodge. Foto: VERSKAF

5. Op dié roete is daar vele geleenthede vir wildritte en safari’s vir eiesoortige Afrika-ervarings met ervare wildbewaarders. By die Garden Route Game Lodge naby Albertinia aan die Tuinroete, kan jy wilde diere soos onder meer kameelperde, witrenosters, leeus, olifante, koedoes, sebras en wildebeeste van naderby aanskou op een van hul vele wildritte. Daar is ook ’n reptielsentrum waar jy meer kan leer oor slange, krokodille en ander koudbloedige gediertes. In Montagu bied African Game Lodge ook wildritte en staproetes aan. Klim op die R323 in die rigting van Riversdal en kyk of jy die ontwykende aardvark en heuningdassie kan raaksien by die Aardvark-natuurkollege. Beslis elke natuurliefhebber se droom!

Meer oor:  Karoo  |  Ladismith  |  Reis  |  Bestemmings  |  Kknk
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.