Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
As die laaste suikerbekkies verdwyn
Pragtige Kaapse fynbos sonder suikerbekkies? Wetenskaplikes kyk reeds hoe ’n wêreld sonder voëls­ eendag kan lyk, skryf Eben Human.
’n Suikerbekkie op ’n protea. ’n Mens kan jou skaars ’n wêreld sonder hierdie mooi voëltjies voorste. Gaan sien ook van Donderdag tot Sondag die fynbosskou in Bredasdorp.Foto: EBEN HUMAN
Fynbosprodukte reg vir uitvoer. Dit was deel van die uitstalling op die Cape Floral Kingdom-ekspo verlede jaar in Bredasdorp. Vanjaar se ekspo begin Donderdag.Foto: Eben Human

Die slagting onder Afrika se olifante en renosters trek baie aandag. Ook leeus, jagluiperds en baie ander diere raak bedreig. Dan is daar kommer oor die laaste bobbejane in die Kaapse Skiereiland, die laaste luiperds in die Boland en die Cederberge. Maar wat van die voëls?

Onlangs het die natuurbewaarder Beryl Wilson van die McGregor-museum in Kimberley aan my gesê baie aasvoëls word vergiftig omdat hulle kan dien as ’n vroeë waarskuwing van ’n olifant of renoster wat deur ’n stroper doodgemaak is.

“Die aasvoëls is dalk reeds meer bedreig as die renosters,” het Wilson gewaarsku.

Dit het my weer laat dink aan die profetiese woorde van die beroemde Britse dierkundige dr. Jane Goodall, wat ’n paar jaar gelede in ’n lesing in Kirstenbosch gesê het: “Alle lewe op aarde is bedreig.”

Teen hierdie agtergrond is dit dan ook geen verrassing nie dat prof. Anton Pauw, ’n evolusionêre ekoloog aan die Universiteit Stellenbosch, begin het met navorsing om te sien hoe ’n wêreld sonder voëls sal funksioneer.

Fynbos sonder suikerbekkies is beslis ’n moontlikheid, maar sal dit ’n ramp wees?

’n Veldproefneming hiervoor is reeds begin met ses hokke van 400 m² elk wat in die Jonkershoek-natuurreservaat buite Stellenbosch opgerig is.

Pauw spesialiseer in die interaksie tussen plante en hul bestuiwers. Maar wat gaan gebeur as die diere en voëls uit die ekosisteem weggeneem word?

“Verskeie teoretiese studies voorspel dat die verlies van ’n belangrike bestuiwerspesie ’n negatiewe kettingreaksie van uitwissings wat met mekaar verband hou in die hele gemeenskap sal veroorsaak,” sê Pauw volgens ’n verklaring wat verlede week uitgereik is.

Hy wys daarop dat ander weer redeneer dat bestuiwing van min ekologiese waarde is omdat baie plantspesies vir die verlies van die primêre bestuiwer kan vergoed deur selfbestuiwing of deur na ander bestuiwers oor te skakel.

Met die Stellenbosse studie word gefokus op die interaksie tussen suikervoëls en suikerbekkies, en die plante wat deur hulle bestuif word – veral proteas.

Alle lewe op aarde is bedreig.

Net vier van hierdie voëlspesies kom in die Kaapse planteryk voor, maar hulle bestuif nagenoeg 350 plantspesies.

Pieter Botha, ’n nagraadse student van Pauw, bestudeer sedert verlede jaar die effek van bestuiwingsuitsluiting op die bestuiwingsnetwerk.

Botha het reeds interessante waarnemings gemaak. Die blomme in die hokke het meer nektar, en die speldekussings is ook deur meer miere besoek.

Nou word dopgehou of plantetende insekte en veral spinnekoppe nie skielik baie meer gaan word nie.

Wat nie uit die oog verloor moet word nie, is dat nektarvretende voëls ook baie insekte verslind.

Die plan is ook om die veld binne die hokke ná drie jaar af te brand, aangesien natuurlike brande ontkieming by die meeste fynbosplante aanhelp. Dit is in hierdie fase dat groter duidelikheid oor die impak van die voëls verkry sal word.

Giel van Deventer, ’n Paarlse boer in die snyblommebedryf, sê die navorsing sal dalk ’n tendens toon, maar die navorsers sal in gedagte moet hou dat saad lank in die grond kan lê voordat dit ontkiem.

“Hier op my plaas by Dutoitskloof was seker 20 jaar lank ’n bloekombos. Niks het onder dit gegroei nie; maar nadat ons dit uitgekap het, het al die fynbos teruggekeer.

“Dit moes alles van saad gewees het wat al die jare in die grond gelê het,” sê Van Deventer.

Geen wonder die Paarliet het sy bedenkinge oor die afleidings wat wetenskaplikes op kort termyn maak nie. Hy glo ’n baie langer studie sal meer betroubare resultate kan lewer.

Op die vraag hoe oorsese protea-produsente geraak word in ’n omgewing waar nie suikerbekkies voorkom nie, sê Van Deventer: “Sulke kwekers is nie van saadproduksie afhanklik nie. Hulle kweek van steggies.”

Hy is ook daarvan bewus dat die Chinese al vrugtebome kunsmatig bestuif in dele van hul land waar daar nie meer bye is nie weens die erge besoedeling.

Neem al die nektargewende plante weg en die suikerbekkies sal ook verdwyn.

Die waarheid waaraan die mens egter nie sal kan ontkom nie, is dat ons wêreld ’n armer plek word met elke spesie wat verdwyn – of dit nou ’n gogga, plant, voël of dier is. Daarom moet ons elke dag veg vir ’n beter en gesonder omgewing.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.