Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Baviaanskloof: Perderit in ongerepte biome en klowe
’n Vakansie op die rug van ’n perd klink vir jou dalk na ’n klein dogtertjie se Black Beauty-fantasie. Maar daar is al hoe meer mense wat hul beste vriend met die lang gesig saamvat met vakansie. Esti Steward vertel van twee perdevakansies.
Jy en jou perd toer deur die mees ongerepte natuurskoon waar baie min mense kom, tensy hulle te voet is, natuurlik. Asem in en geniet. Foto’s: Verskaf
Die weste van die Baviaanskloof gaan hierdie naweek eggo met die klik-klak van perde en ruiters.
Die Makkedaatgrot en Bo-Kloof gaan die twee basisse wees van dié naweek se perderit. Dít op sigself is al ’n besoek werd.
Ek dog dis droog hier? Die kontrasterende terreine van die roete hou dit vir perd en ruiter interessant.
Daar is ook tyd vir gesels so tussen die aalwyne deur.

Besoekers aan die Baviaanskloof-Wildernisgebied moenie verbaas wees as hulle oor die volgende paar dae ’n groep perderuiters in die kloof teëkom nie.

Dit sal Herclé van Huyssteen en sy mense wees wat deelneem aan die ­vyfde Baviaans-perderit.

Dalk is “deelneem” nie die regte woord nie? Want dit is nie ’n uithourit of kompetisie van enige aard nie. Nee, jy en jou perd toer deur die mees ongerepte natuurskoon waar baie min mense kom, tensy hulle te voet is, natuurlik. Asem in en geniet.

Die enigste voorwaarde is dat jy en jou perd ryfiks moet wees vir hierdie toer van 175 km oor ses salige dae.

Grotte en spore

Ruiters en hul perde kom Saterdag bymekaar by die Makkedaatgrot in die westelike Baviaanskloof, die kampplek vir die eerste paar dae van die rit.

Die dag sal benut word om die perde rustig te kry in hul eie kampies (wat jy self moet voorsien) en jou eie tent op te slaan – behalwe as jy jou matras in die stoor wil neergooi. ’n Verdere opsie is ’n salige warm bed in een van die omliggende gastehuise; dit is mos winter. Maak net seker jy loop nie die stories oor vorige ritte om die kampvuur mis nie – oor alles wat seer raak tot dít wat mooier as mooi is.

Sondagoggend sal die groep vroeg roer om die dag se 30 km aan te pak – die roete is suidwaarts Matjiesfontein toe en die terugkeer na Makkedaat gaan deur Boskloof.

Maandag vat hulle die pad na Adamskraal oor die Nuwekloofpas en keer terug met die gewone viertrekroete.

Dinsdag skuif die basiskamp 20 km ooswaarts na Bo-Kloof vir die res van die week. Plek-plek word langs die rivierloop gery, soms in die grootpad, so dít is waar ons gewone Baviaansbesoekers die groep sal raakloop.

Woensdag pak hulle oom Ruben se Pas aan en die terugdraai van die dag se sirkelroete is deur ’n baie mooi kloof, net om Donderdag weer suidwaarts te ry om uit die ooste kampwaarts te keer via Sewefontein.

Die laaste dag is ’n korter sirkel wat Tafelkop insluit, met ’n laaste voetpad bergaf tot by die kamp. Saterdag 4 Julie se ontbyt is groettyd tot die volgende perdevakansie.

As jy nie jou eie perd kan saambring nie, kan jy een by Van Huyssteen huur vir die week. Hy sal sorg vir een wat by jou ervaring pas. Bring ook jou eie kampgoed, maar kosmaak word aan bekwame hande oorgelaat – ’n halwe baal lusern per dag (vir jou perd), en jy kry pap vir ontbyt, toebroodjies vir middagete en ’n groot ete saans – natuurlik iets soos potjiekos of braaivleis. ’n Ondersteuningsvoertuig dien as goed toegeruste snoepie.

Sewe in sewe

Nog ’n ongewone geleentheid vir ruiters is die 7 Biome in 7 Dae-rit. Vanaf 12 Julie en weer in September bied Kareedouw se Moria-ryskool dié rit aan – ’n nomadiese perderit oor 250 km. Hulle spring weg naby Heidestrand aan die Oos-Kaapse kus, en ry deur sewe biome via Kareedouw, die Tsitsikamma-, Zuuranys- en Kougaberge, die Baviaanskloof en Winterhoekberge om uiteindelik deur die Karoo te ry, en draai terug via Steytlerville en die Grootrivierpas na Patensie in die Gamtoos­vallei.

Begin solank salf smeer. Hier kom pêrre!

■ Vir meer besonderhede, of as jy dalk nog wil saamry, bel Herclé van Huyssteen by 082 925 9301.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.