Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Blikviool word ’n museumstuk
Net ’n olieblik met ’n steel sonder snare in die nuwe Music van de Caab-sentrum in Groot Drakenstein. Hopelik is dit nie die laaste sien van die manne wat die blikviool gespeel het nie, skryf Eben Human.
Aaron Adams tokkel op ’n blikviool (dié replika is sonder snare), terwyl sy boetie, Malik, die ghoema slaan by die nuwe Music van de Caab-sentrum in Groot Drakenstein. Die sentrum fokus op die geskiedenis van Kaapse musiek. Foto’s
Die sanger en musikant David Kramer staan trots by die bamboesblasers kort ná die opening van die Music van de Caab-sentrum.
Die skrywer Elias P. Nel, organiseerder van die nasionale rieldanskompetisie, kyk belangstellend na die fluitinstrumente.

Daar was verlede week groot vreugde toe die Music van de Caab-sentrum amptelik deur die sanger en musikant David Kramer in Groot Drakenstein geopen is.

Hier op die Solms-Delta-plaas is al diep gedelf in die geskiedenis van die omgewing. Die eienaar, Mark Solms, glo die verlede moet goed verstaan word voordat mense aanbeweeg en bou aan ’n land met ’n beter toekoms.

Die fokus was baie op die geskiedenis van die slawe. Dit het al gelei tot die gevierde skrywer André P. Brink se roman Philida, wat gegrond is op navorsing van Tracey Randle.

Om die jaarlikse Oesfees op Solms-Delta by te woon, is ’n belewenis. Op dié plaas is sang en instrumentale musiek ’n dryfveer. Dit was dus ’n natuurlike uitvloeisel om hier ’n Kaapse musiek-museum in die kleine te vestig.

Die ontslape Alex van Heerden was eers musiekdirekteur. Sy werk is deur Adriaan Brand voortgesit. Hulle het gaan delf in die geskiedenis van Kaapse musiek, die instrumente en die musiekmakers.

Dit is aangevul met waardevolle navorsing deur Randle.

Die nuwe sentrum gee jou met ’n interaktiewe uitstalling inligting oor al die invloede wat daar op Kaapse musiek was.

Kyk ’n mens na die replikas van rietfluite, musiekboë, enkelratels en ’n blikviool, voel jy hartseer oor alles wat oor baie jare verlore gegaan het.

Die skrywer Pieter Strauss het ’n paar jaar gelede in Namakwaland en Boesmanland van die ou musiekmakers probeer opspoor en video-opnames van hulle gemaak.

Maar wat het geword van die ou omies wat nog die blikviool kon speel en oor wie Strauss in ’n reeks vir Buite geskryf het?

“Ons het waarskynlik die laastes van hulle in aksie gesien. Dit is ’n geslag wat nou byna uitgesterf het,” het Strauss gesê toe hy hieroor uitgevra is.

Ook Kramer het by die Music van de Caab-sentrum gesê dit lyk nie of die jong mense hierdie ou tradisie van ’n blikviool verder gaan voer nie.

“Al wat ons kan doen, is om lekker musiek te maak en dan te hoop dit spoor ’n nuwe geslag aan,” het hy bygevoeg.

Ons land se vroeë inwoners het na aan Afrika se natuur geleef.

As jy in die nag naby die Zambezi-rivier wakker word, kan jy soms tromme hoor. Jou naggeluide kan die tjank van ’n jakkals, die gegiggel van ’n hiëna en die brul van ’n leeu insluit.

Kort ná dagbreek hoor jy die wilde skree van ’n visarend terwyl hy vir hom ’n vis in die groot rivier gaan skep.

Dan onthou jy ook hoe die mense diep uit die Sentraal-Kalahari by Ghanzi in Botswana om die vuur gedans het. Die klanke van hul enkelratels en ritmiese handgeklap kon jou meevoer na tye van lank gelede.

Gaan ons toelaat dat hierdie en baie van die ander ou klanke van ons vasteland stilgemaak word? Daar is miskien niemand meer oor wat die blikviool speel nie.

Kramer het gesê hy het as jong student in Engeland baie folk-musiek geniet. Ná sy terugkeer het hy egter gou besef dat hy klanke eie aan sy land en sy mense deel van sy musiek wil maak.

Onder die moderner Kaapse klanke was ook invloede van die Ooste en Amerika. Boeremusiek, kwêla, Kaapse jazz en marabi het alles deel van ons Kaapse kultuur geword.

Kramer het die totstandkoming van die Music van de Caab-sentrum as ’n wonderlike gebeurtenis beskryf.

Hopelik gaan dit nog musikante inspireer tot Kaapse klanke eie aan ons uithoekie van Afrika.

■ Die Musiek van de Caab-sentrum is daagliks van 09:00 tot 17:00 oop. Toegang tot die museum is gratis. Daar kan ook vooraf ’n gids gereël word. Dit kos R50 per persoon en kan bespreek word by 021 874 3937, bylyn 134 of 135, of per e-pos by ​museum­@­solms-delta.­co.­za

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.