Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Botswana uit nuwe hoek bekyk
Nóg ’n groot uitdaging wag op die bekroonde Stellenbosse natuurfotograaf Hannes Lochner wanneer hy nou twee jaar lank in Botswana gaan werk, skryf Eben Human.
Die seekoei het die rooibok gevang en in die lug gegooi, maar die bok het die aanval oorleef. Dié foto het Hannes Lochner verlede jaar in Botswana geneem toe hy verkenningswerk vir sy nuwe boek gedoen het. Foto: Hannes Lochner
Ontspanne dae in die Moremi-wildtuin in Botswana. Hannes Lochner en Noa Koefler gaan nou twee jaar hier werk.

Duisende foto’s word elke jaar ingestuur vir die Britse Museum se Veolia-natuurfotokompetisie en die derde jaar agtereenvolgens het Hannes Lochner een van die gesogte finaliste gelewer.

Die uitstalling van 2014 se beste foto’s is tans te sien in die Iziko Nasionale Museum in die Kompanjiestuin in Kaapstad.

Sedert die koms van digitale kameras het die standaard van natuurfotografie dramaties verbeter. Anders as met film, hoef jy jou nie oor koste te bekommer elke keer wanneer jy die knoppie druk nie. Om nóú in groot internasionale fotokompetisies pryse te wen, moet jy uitsonderlike foto’s kan ­lewer.

Lochner het nog in 2006 aan Die Burger se natuur­fotokompetisie deelgeneem en was saam met wyle Basie van Zyl een van ons pryswenners.

Die Stellenbosser se eerste koffietafelboek, Colours of Southern Africa, het kort daarna in 2007 verskyn. Oor dié boek het Lochner gesê: “My eerste boek was ’n moeilike een. Ek wou graag permanent natuurfotografie doen en om in hierdie ver­sadigde mark te probeer inkom, is nie maklik nie.”

Lochner sê hy kon nie ’n spesiale permit kry om in die Krugerwildtuin te werk nie. Hy moes soos ’n toeris rondry en baie tyd was nodig om goeie foto’s te probeer kry.

Met die tweede boek (Colours of the Kalahari, 2010) oor die Kalahari het dit ­beter gegaan. “Ek kon wéér nie ’n spesiale permit kry om in die Kgalagadi-oorgrenspark te werk nie. Toe moes ek weer twee jaar en ses maande soos ’n toeris deurbring. Die meeste van die tyd was ek by Rooiputs, in Botswana se kant van die park.”

Wat was anders met die tweede boek?

“Ek het meer op kleiner goedjies begin konsentreer soos geitjies, sprinkane en kleiner diere en minder aandag gegee aan roofdiere. Maar die hoogtepunt was toe ek my meisie [Noa ­Koefler] daar raakgeloop het wat besig was met videowerk vir ’n rolprentmaatskappy.”

Dit was asof Lochner se fotografie daarna ’n nuwe inspuiting gekry het. Die tegnieke wat hy gebruik het om uitsonderlike foto’s vir sy derde boek (The Dark ­Side of the Kalahari, 2014) te kry, was iets besonders.

“Ek glo met elke projek moet jy jou standaard kan lig. Jy moet tegnies verbeter en iets anders kan lewer,” het die natuurfotograaf verduidelik.

“Dié slag het ek ’n permit gehad wat my toegelaat het om in die nag te kan werk. Dit was ’n eerste vir die Kgalagadi; baie uitdagend en baie bevredigend.”

Die Stellenbosser het twee jaar lank ’n luiperdwyfie gevolg. Hy kon dokumenteer hoe sy in die barre wêreld oorleef en ’n kleintjie grootmaak.

Koefler was nou deel van die projek en het video­opnames gemaak. Grepe van agter die skerms is gemaak vir ’n spesiale app. Lesers kon ook in sy boek sien watter kameratoerusting en verstellings gebruik is om die foto’s te neem.

Nou wag Botswana, wat nuwe uitdagings bied. Die omgewing gaan baie anders wees langs die Okavangomoerasse.

“Die Okavango-delta is ’n groot uitdaging. Dit is bebos en geseën met hoë diversiteit. Dié slag sal ek lugfotografie en ook waterfotografie doen,” het Lochner gesê, wat duidelik baie opgewonde is oor sy nuwe geleentheid.

Daar is baie voëls. Ná sy vyf jaar in die Kalahari sien hy nou weer daarna uit om olifante, seekoeie, wilde­honde en ’n groot verskeidenheid ander diere af te neem.

“Ek wil ook graag die essensie en belangrikheid van die water vasvang. Daar is die droë seisoen voordat die somerreën aanbreek. Daar moet ietsie van alles wees om goeie balans aan die ­nuwe boek te gee.”

Lochner sê jy kan nie baie voorbereiding doen vir so ’n lang projek van twee jaar nie. Jy spandeer net lang tye in die veld en die boek neem dan later sy eie vorm aan.

Daar is reeds verlede jaar sowat drie weke verkenningswerk in Botswana gedoen. “Ons moes maar baie deur die water ry en het dikwels in die modder vas­gesit.”

Skerp takke het ook baie lekbande veroorsaak. “Dan praat ek nie eens van die hitte en muskiete nie,” het Lochner bygevoeg, Hy sal vir die twee jaar ’n tent as sy woning hê.

Vir sy bewonderaars is dit ook nou ’n lang wag. Waarmee sal Hannes Lochner ­hulle verras ná twee jaar in Botswana?

Meer oor Hannes

Die natuurfotograaf Hannes Lochner het min bekendstelling nodig by Buite se gereelde lesers. Gaan na sy webtuiste by www.hanneslochner.com vir inligting oor sy werk.

Pryse in die internasionale Veolia Natuurfotograaf van die Jaar-fotokompetisie is baie gesog. Gaan kyk by www.nhm.ac.uk/wildphoto om meer daarvan te sien.

Meer as 50 000 fotograwe van oor die hele wêreld skryf vir die Veolia-kompetisie in en sowat 100 wenfoto’s word dan gekies.

Gaan kyk na Lochner se foto op die uitstalling van 2014 se beste foto’s in die Iziko Nasionale Museum in die Kompanjiestuin in Kaapstad.

Die veiling van twee foto’s van Lochner het R50 000 gelewer aan die Trust vir Bedreigde Natuur­lewe (EWT) vir navorsing oor wilde­honde. Met sy nuwe boek wil hy die stryd teen renosterstropery op soortgelyke wyse steun.


Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.