Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Raad om lastige wespe uit te roei
Papierwespe (Polistes dominula), waaroor Nico Laubscher in Buite geskryf het. Hulle is, soos die geelbaadjie-wespe, taamlik onlangse Europese indringers in die Boland. Die twee spesies lyk baie eenders. Foto: NICO Laubscher

Elize von Moltke van die Paarl skryf: Ons woon in die Paarl en het op die plaas twee neste van die wespe waaroor Nico Laubscher verlede Dinsdag in Buite geskryf het.

My seun is deur een op die lip gesteek. Dit het ontsettend opgeswel, en ek is met hom dokter toe. Dit is die ergste wat ek nog ’n mens se lip van ’n insekbyt sien opswel het. Ons was eers onder die indruk dit was ’n perdeby. Het die skrywer vir ons raad hoe ’n mens die wespe kan uitroei?

Nico Laubscher van Stellenbosch antwoord: Ek is nie ’n wesp-navorser nie en weet nie hoe goed my raad sal werk nie, maar ek bied dit aan vir wat dit werd is.

Hierdie tyd van die jaar begin die wespe onaktief raak, en gedurende die winter sien ’n mens omtrent nie een nie.

Ek dink die laastes bly net by die nes totdat die laaste larwes uitgebroei het. Moenie my vra wat dan van hulle word nie! Ek sou dus wag totdat daar byna geen meer op die nes agterbly nie en dan die nes in die nag, wanneer dit donker is, afbreek. Spuit dan die area met insekdoder.

Wanneer die lente kom en die eerste wespe op die ou nes­plek gesien word, breek jy die nes ná sononder (in donkerte) so gou moontlik af solank dit klein is. Spuit die area rondom die nes dan weer – hulle sal nie van die reuk hou nie en nie verder daar bou nie.

As van die Vespula germanica op die grasperk gesien word, sit ’n stuk rou vleis neer (sommer iets goedkoops). Dit trek hulle gou aan.

Wanneer hulle dan hul mondvol bymekaar het, kyk na die rigting waarin hulle vlieg (hulle vlieg met die kos reguit nes toe). Plaas die vleis dan in ’n lyn in die rigting waarin hulle gevlieg het. Hou so aan totdat die nes gevind word.

Indien dit onder die grond is, hou dit bedags dop om die aktiwiteit te monitor.

As dit ’n groot nes is, kry liewer ’n maatskappy wat plae verwyder om dit te doen.

Indien die nes nie te veel werkers het nie, wag totdat dit nag is en grawe hulle op en vernietig die ondergrondse nes. Hulle woon soms ondergronds met klein openinge wat in die nag (of wanneer gevaar dreig) toegeskop word.

Ek weet daar is risiko by betrokke en het nog nie so ’n uitwissing gedoen nie. Wees dus tog versigtig, veral as iemand potensieel allergies is.

Hierdie is die advies van ’n amateur, maar ek dink dit behoort te werk. Ek sal nogal graag wil hoor wat lesers se ervaring is.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.