Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
AVONTUUR-SKATTEJAG
Reis so soek-soek deur die wêreld
’n Skattejag wat jou na opwindende nuwe plekke bring, deur skeure laat kruip en oor berge laat klim. Geocaching het die wêreld aan die reis, soek en snuffel. Clifford Roberts vertel van dié GPS-speletjie wat sy stuurwiel laat draai en die bande laat tol soos dié van ’n wafferse nuwe ontdekkingsreisiger.
Clifford Roberts staan by die uitkykpunt bo-op die Sir Low­rys­pas waar hy ’n cache gevind het. Foto’s: Verskaf
Een van die wegsteekplekke wat in ’n oulike goiingsakkie versteek is. Foto’s mag nie die wegsteekplek van die “skat” verklap nie.

Soos ’n bloedhond volg ek die aanduiding van die globale posisioneringstelsel (GPS) op my selfoon. Ek is in die Seweweekspoort naby Ladismith en klim teen ’n beboste steilte uit.

Minute later raas my foon skielik – ek is naby. Ek soek tussen die klippe, en vinnig ontdek ek die klein “skat” – die 60ste ­sedert my aansluiting by Geocaching.com.

Dié wêreldwye plek­spesifieke avontuur-skattejag het op 2 Mei 15 jaar oud geword en lok steeds nuwe deelnemers. Daar is verskeie speletjies wat in ’n soort skattejag van GPS gebruik maak, maar Geo­caching is onder die gewildste en oudstes.

Só werk dit

’n Deelnemers is enig­iemand met ’n GPS-toestel, wat die meeste slimfone insluit. Jy laai die Geo­cach­ing-app af, skep ’n profiel en siedaar, jy is reg om te begin soek. As jy toegang tot ingewikkelder caches (wegsteekplekke) wil kry, sal jy rondom R330 per jaar moet opdok vir lidmaatskap, maar jy sal sommer baie lank besig gehou kan word indien jy liewer niks geld wil uithaal nie, want die speletjie is verniet.

Caches word deur lede geskep en deur vrywilliger-deelnemers ondersoek voordat dit goedgekeur word. ’n Wegsteekplek moet toeganklik wees en geen verskuilde kommersiële agenda hê nie. Die inhoud van caches verskil – daar is cach­es met raaisels wat opgelos moet word voordat jy kan aanskuif – maar die meeste se minimum inhoud is ’n logboek waarin jy jou Geo­cach­ing-roepnaam skryf wanneer jy dit vind. Jy ­teken jou vonds ook op die app aan. Só word op jou profiel elektronies boekgehou van jou vondste, sodat vriende dit kan volg.

Soos met enige skattejag moet ’n mens versigtig wees om nie ’n wegsteekplek te verklap nie. Muggles – in Geo­cach­ing-taal almal wat nie aan die skattejag deelneem nie – kan wegsteekplekke versteur of dit in onkunde verwyder.

Groeiende avontuurlus

Bo-op verskeie plaaslike webwerwe en Facebook-blaaie wat aan die aktiwiteit gewy word, is in Suid-Afrika tans meer as 11 000 van die geheime wegsteekplekke wat deelnemers aan die soek hou. Maar die skattejag word nie deur landsgrense ingeperk nie – daar is nou meer as 2,5 miljoen caches en 10 miljoen deelnemers reg oor die aardbol.

Hulle is oral – daar is selfs een op Paaseiland in die Stille Oseaan. Gaan kyk ook maar teen daardie kronkelpaadjie in Algerië se Ahaggar Nasionale Park; of in die doodloopstraat van Shuicheng, Shanghai.

Nader aan ons, in die Strand, moet jy verwag om nat te word om die waterdigte een onder die laagwatermerk te gaan haal. En vir die wegsteekplek in die Baviaanskloof moet jy seker maak jy het goeie stapskoene voordat jy die paadjie aandurf.

Gemors of skat?

“Ja, miljoene wat die wêreld bemors met klein houers,” sê ’n skeptiese vriend vir my op die tog na die Seweweekspoort.

Dit kan so wees, maar Geocaching se oogmerk is eerder om meer om­gewingsbewustheid te skep. Deelnemers word aangemoedig om caches op interessante plekke te plaas en inligting daaroor te verskaf. Sommige moedig jou selfs aan om rommel te verwyder in die omgewing van ’n wegsteekplek.

In my beperkte ervaring het ek tot dusver geen Geocaching-skattejagters ontmoet wat nié van die buitelewe hou en nié ’n gesonde respek vir die om­gewing het nie.

Ontdek die ware prag

Juis deur Geocaching het ek die skeepswrak-roete ontdek, asook Suid-Afrika se mooi grondpadreeks. Ek maak kennis met uitsonderlike landskappe en die fassinerende geskiedenis van plekkies in die boendoes.

Die stelsel het ook ’n natuurlike manier om onverantwoordelike of onvanpaste caches vinnig uit die weg te ruim.

Verder af op my pad, deur die Klein-Karoo, wys my foon nóg ’n wegsteekplek; hierdie keer op die Rooibergpas. Van bo die pas het jy die mooiste uitsig; die middel van nêrens waar ek amper die hemel kan aanraak. Digby my linkervoet vind ek ’n klein goiingsak onder ’n stapeltjie klippe weggesteek en ek sê sommer hardop: “Het jou, katvis!”

Kitsfeite

Die skattejag is in 2000 deur ’n GPS-entoesias, Dave Ulmer, begin toe satellietnavigasie ’n algemene gebruik onder die publiek geword het.

Sluit jou aan by www.­geocaching​.­com. Al wat jy nodig het, is avontuurlus en ’n oulike roepnaam.

Geocaching is ideaal vir kinders wat met ’n selfoon vertroud is, maar vir wie jy die wonder van die natuur – weg van die televisieskerms – wil leer.

Daar is verskeie roetes wat verskeie belangstellingsvelde dek, soos wiskunde, skeeps­wrakke, bergklim en viertrekvoertuie.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.