Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Op berge en in dale
Rhodes na Cradock met ’n kompas en ’n bietjie geluk
’n Nuwe bergfietsren van Rhodes na Cradock op paadjies wat diere uitgetrap het en ou ossewaspore, deur plase en oor berge, het 27 ryers se bene, koppe en fietswiele beproef, skryf Wilna de Klerk.
Coen de Bruin van Oos-Londen en Carl Scholtz van Pretoria kom by die Oude Pastorie in Cradock aan.

Die uitdagende jaarlikse Freedom Challenge-bergfietsrit oor 2 300 km van Pietermaritzburg na Wellington wat sedert 2003 gewoonlik elke jaar in Junie/Julie plaasvind en waarvoor deelnemers 26 dae gegun word, het vanjaar ’n draai in Cradock gegooi.

Die splinternuwe uitdaging, Race to Cradock, waarin fietsryers van Rhodes na Cradock ry, is einde verlede maand aangebied.

Hierdie veeleisende rit oor ’n terrein wat baie uitdagings bied, moes binne ses dae voltooi word.

Kompas, ’n bietjie geluk

Volgens die organiseerders was die rit na Cradock vir sommige deelnemers slegs ’n geleentheid om te geniet en hul stamina te toets. Vir ander was dit ’n wedloop teen tyd.

Op hierdie roete oor 575 km moes die ryers hul weg vind oor grondpaadjies, plaaspaaie, geskiedkundige ossewa- en slingerende dierepaadjies, omdat die roete nie uitgemerk was nie.

Deelnemers is net toegelaat om hul rigting oor skaap-, bees- en wildplase en deur hekke en oor heinings te vind, deur kaarte en kompasse te raadpleeg en verbygangers die pad te vra. Geen elektroniese rigtingwyser of globale posisioneringstelsel (GPS) is toegelaat nie. Die fietse moes by tye langs die pad gestoot en selfs gedra word.

Die onherbergsame, hoë Stormberge was een van die baie uitdagings langs die roete, wat by De Oude Pastorie in Cradock geeindig het. Fietsryers moes ook op die finale skof, met Cradock reeds in sig, die onverbiddelike Swaershoekpas sowat 20 km voor die dorp oor.

Rof en onbeskof

Net deelnemers wat al die oorspronklike Freedom Challenge van Pietermaritzburg na Wellington suksesvol voltooi het, is vanjaar genooi om aan die rit tussen Rhodes en Cradock, die eerste in sy soort, deel te neem.

Die 27 deelnemers het Rhodes tussen 19 en 22 Maart in skofte verlaat.

Die Race to Cradock word deur deelnemers beskryf as iets besonders en ’n eiesoortige kombinasie van groot oop ruimtes en ruwe, bykans onbegaanbare terrein. Hoewel deelnemers aan die eerste skofte in goeie weerstoestande weggespring het en gelukkig genoeg was om heelpad voor die storm uit te ry, moes die deelnemers in latere skofte op modderige en nat paaie voortsukkel.

Deelnemers aan dié uitdaagrit moes alles wat hulle vir die hele afstand benodig het, op hul fietse karwei. Dit was glo ’n moeilike taak omdat vir hitte, nat toestande en koue langs die pad voorsiening gemaak moes word.

Hulle moes ook voorbereid wees op noodgevalle soos pap bande of basiese herstelwerk aan die fietse.

Damme met windpompe langs die pad, waar hulle kon afkoel en hul dors les, was ’n groot bonus.

Taai wenners

Nie al die deelnemers het van die oornagpunte langs die pad gebruik gemaak nie.

Alex Harris van Johannesburg, een van dié wat vasgebyt en deurgedruk het, was in ’n tyd van 47 uur en 35 minute vanjaar se wenner.

Mike Woolnough en Casper Venter was kort op sy hakke, en het gesamentlik tweede geëindig. Tim James was vierde.

Hoewel deelnemers aan die onderskeie Freedom Challenge-wedrenne nie om pryse meeding nie, is ’n spesiale Cradock-trofee – een van die dorp se bekende draadwindpompies – aan Harris oorhandig. Die wenner van die groot Pietermaritzburg na Wellington-marathon word jaarliks vereer met ’n Lesotho-kombers terwyl die eerste deelnemers oor die wenstreep in die wedloop tussen Pietermaritzburg en Rhodes ’n tradisionele veewagter se sweep as geskenk ontvang.

Die organiseerders was só beïndruk met die roete en die mense se gasvryheid langs die pad dat hulle meen dit sal ’n jaarlikse gebeurtenis op hul kalender word.

Besoek gerus​ www.­freedomchallenge.­org.za vir meer inligting oor hierdie roete en ander.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.