Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
OP DIE R62-ROETE
Vat die Langkloof-pad in ’n egte boerperdekar
Natuur, perd, Woord en omgee – goeie bestanddele om enige mens weer by ’n punt van vrede en visie te bring, glo Hercules van Joubertina. Mariska Spoormaker het op die R62-roete by Hercules en sy boerperde stilgehou en probeer sambreel oopslaan op ’n perd se rug.
Ry op ’n perdekar wat meer as 100 jaar oud is, getrek deur twee SA boerperde, en dit voel asof jy teruggaan na die tyd toe die pionierboere van die Langkloof die mas tussen vloed, droogte en afgesonderdheid moes opkom. Foto: Heilie Combrinck
Wanneer laas het jy op ’n meer as 100 jaar oue perdekar, getrek deur twee rasegte SA boerperde, die pad van Joubertina na Tweeriviere in die Langkloof gevat? Foto: Heilie Combrinck
Opwinding in styl in die Langkloof. Die ou kapkar en die SA boerperd, byna uitgewis in die Anglo-Boereoorlog, maar deur sorgsame perdeliefhebbers soos Hercules van Huyssteen van Joubertina weer in goeie getalle op Suid-Afrikaanse grond gebring. Foto
Wanneer laas het jy op ’n meer as 100 jaar oue perdekar, getrek deur twee rasegte SA boerperde, die pad van Joubertina na Tweeriviere in die Langkloof gevat? Foto: Heilie Combrinck
Op Tweeriviere mag jy in ’n eeu oue kapkar ry, maar moet jy om hemelnsnaam nie vloek of die lug met rook of klank besoedel nie, het Heilie Combrinck agtergekom. Foto: Mariska Spoormaker
In die Langkloof, waar die Kougaberge al begin oorgaan in die Suuranysberge, kry jy weer heuningbostee – en die mense daaragter. ’n Volgende keer meer hiervan. Foto: Mariska Spoormaker

Nou het ons al diep in die Kouga-wildernisgebied leer asemhaal deur ’n perd se neusgat en die hemelse vredesgevoel daarvan ervaar, maar dít is, soos die Engelse sê, ’n perd van ’n ander kleur.

Die groot storie is om soos die Ruiter van die Nag met wapperende mantelflappe met ’n perd op galop te gaan. Die groot geneuk is om eers by die saalboomsteek verby te kom; daardie ritme wat jy tussen boud, bobeen, knie en perd op ’n draffie moet kry. Skort dié ritme, stamp jy só, jy kan jou stopsels kwytraak.

Perde, só het die jare my ook geleer, hou nie van skielike bewegings nie. Moet byvoorbeeld nie jou bene by sy oë verby uitstrek nie, selfs al stap julle (net). Moenie afbuk en klank met ’n mikrofoon by sy pote probeer opneem nie. Moenie ’n sambreel oopslaan wanneer jy op sy rug sit nie – dit alles is dinge wat jou vinniger aarde toe bring as Jan Taks. Dan moet jy boonop met ’n gekneusde ego én lyf die wegholperd loop soek.

Maar op die Suid-Afrikaanse boerperd bly jy die ruiter van die windjie. Hy gee nie om wat jy op sy rug aanvang of hoe groen jy as ruiter is nie.

Die boerperd is ’n Suid-Afrikaanse viervoetmasjien danksy ’n klomp bloedlyne wat deur die eeue heen in dié unieke dier vervleg is. Dit het ’n karakter opgelewer wat veelsydig, aanpasbaar, dapper én ’n geharde vasbyter is, maar kalm en liefdevol teenoor die mens op sy rug.

As die Kakies dít geweet het toe hulle in 1899 hier kom oorlog maak het vir goud en diamante, sou hulle sweerlik ook gesê het dis Jan van Riebeeck se skuld dat hulle so op die agtervoet bly. Want onse Jan het met sy aankoms in 1652 al die voorsate van hierdie unieke perd, naamlik javaponies, Persiese arabiere en Spaanse andalusiërs na die suidpunt van Afrika gebring.

Later, toe dit by die Kakies insink dat die boerperd meehelp met die Boere se oorhand, het hulle dié dier tot op die rand van uitwissing uitgeskiet.

Gelukkig het ’n paar boerperdtelers enkele van hul perde in die berge gaan wegsteek en kon die genepoel behoue bly sodat die getalle weer kon aangroei.

Bogenoemde is net losweg die geskiedenis van die SA boerperd (daar is ook ’n SA Kaapse boerperd) soos ek die interessante punte uitlig (detail vra ’n dikke boek) ná ’n boerperd-gesprek met Hercules van Huyssteen, Langklower, wat van predikant na boerperdman gebollemakiesie het.

“Die buitekant van ’n perd doen goed vir die binnekant van ’n mens,” som hy sy passie en loopbaansprong kortweg op en verduidelik dan verder: “Mense moet vanself by die Here uitkom; jy kan hulle nie daarin preek nie.”

Natuurskoon en die unieke wisseling tussen boerperd en mens, het Hercules besef, wýs daar ís ’n liefdevolle Skepper. Dít het hy as kind op hul familieplaas naby die Langkloof se Joubertina ervaar. Sy plaasperd se naam was Bokkie. Later, toe hy op Beaufort-Wes was, het hy só na Bokkie verlang dat hy haar gaan haal het.

As jy in goeie styl ry, moet jy ook in goeie styl eet! Hercules van Huyssteen (regs voor) by sy gaste in Tweeriviere se unieke The Belfry Kitchen, die SA Instituut vir Erfeniswetenskap en -bewaring se kampusrestaurant. Agter Hercules is sy vrou Johan
Gee ’n perd net kans.

Hy is al ’n paar jaar op die Joubertina-familieplaas en sy “boerperd-kroos” staan op 50. “ ’n Perd is vir genot en liefde, nie vir spog nie,” verduidelik hy verder. “Gee ’n perd net kans en die mees vermoeide siel kry weer hoop, kry weer lewe.”

Hy wéét, want hy bied retreat-kamp (soos hy dit noem) op die familieplaas met sy uitgestrekte veld, kloof, berg en waterval aan.

Natuur, perd, Woord en omgee – goeie bestanddele om enige mens weer by ’n punt van vrede en visie te bring, glo Hercules.

Boerperde is ook by hiperaktiewe en aandagafleibare kinders die impulsiewe- en dwaalgedagtes se moses, verduidelik Hercules verder. “Dis wonderlik om te sien hoe daardie kinders dan weer fokus.”

Maar boerperdgenot is ook om in ’n perfek gerestoureerde kapkar van meer as 100 jaar en deur twee boerperde te trek, na jou matriekafskeid of jou bruidegom te ry.

Vir mý was dit ’n onvergeetlike gebeurtenis – nou nie een van bogenoemde twee afsprake nie, maar van Joubertina na Tweeriviere. Daar was die beurende perdekoppe en die klop-klop op die pad terwyl die Langkloof-landskap in driehoekies tussen die kappie se geelhoutspekies verbygly.

Hercules sê hy kan ons ook só die Langkloofveld inneem vir ’n naweek se uitspan, maar ons sê nee dankie. Die een wat ek sal wil meemaak, is waar jy soos ’n wafferse Boeresoldaat van ouds al verkennend die veld inry en saans, onder ’n karos, teen jou vierpootkameraad opkrul om te gaan slaap. Dan wil ek ook in sy neusgat asemhaal en dan is alles net reg.

Hercules van Huyssteen is meer op ’n perd se rug en in die veld as by sy foon. Indien jy enige van sy boerperd-belewenisse wil meemaak, besoek www.­grootnekguestfarm.­co.­za, bel Erika by 084 500 0706, of stuur e-pos na grootnek­@­telkomsa.­net.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.