Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
A-ttraksie van dié dorpe

Ry tot bo-op die Aurora-berg van waar jy ’n uitsig op ’n laslappieland het. Foto: HELEEN COERTZE
Dís die nabye dorpe – en ’n paar wat verder van ons is – wat met A begin, skryf Ilse Zietsman.

Agulhas is die mees suidelike punt van Afrika

Die Agulhas-vuurtoring in al sy glorie. Foto: HELEEN COERTZE

Eintlik is die feit dat jy by Agul­has aan die suidelikste punt van ons vasteland kan staan, al rede wat jy nodig het om jou motor se neus suid te mik (cape-agulhas-info.co.za/town).

Op die suidpunt van Afrika kan jy ook die Kaart van Afrika-monument, met ’n omtrek van 30 m, aanskou. Die kaart lê korrek volgens die kompas.

Jy kan om die kaart loop en mediteer of ’n oorspronklike selfie uitdink.

Klim ook tot bo in die Agulhas-vuurtoring en kyk oor die see uit. Ongelukkig is die toerismekantoor in die vuurtoring om onverklaarbare redes gesluit.

Arniston en Waenhuiskrans is een en dieselfde plek

Arniston, oftewel Waenhuiskrans, se hawe met sy kleurryke vissersbote trek gewoonlik besoekers. Foto: HELEEN COERTZE

Op die middag van 30 Mei 1815 het die Arniston as gevolg van stormsterk winde en ’n sterk seestroom gestrand. Slegs ses mense het oorleef.

Voorheen was dié vissersdorpie in die Overberg as Waenhuiskrans bekend. Ná die stranding het die dorp sy tweede naam van Arniston bygekry.

Die naam Waenhuiskrans is ontleen aan die grot wat slegs met laagwater besoek kan word.

In Discovering Southern Africa skryf die reisskrywer T.V. Bulpin dat die naam afkomstig is daarvan dat ses ossewaens met hul osse in Waenhuiskrans se grot kan pas.

Hy vertel ook dat ’n mens “seeboontjies” (’n soort saad wat kuslangs vanaf Oos-Afrika afspoel) in die grot kan optel.

As jy al Arniston besoek het, sal jy weet dis ’n instelling om op die Arniston-hotel (arnistonhotel.com) se stoep ’n koue bier te drink of middagete te geniet.

Die De Hoop-natuurreservaat (dehoopcollec­tion.com) is ook nie so ver van hier af nie.

Ligte vrugte op Ashton

As jy op Ashton grootgeword het, eet jy nooit weer “kênfroet” nie. In die ou dae was daar nie ’n onthaal sonder dat daar “kên” was nie. Of dit nou ’n sportonthaal, kerkbasaar, prysuitdeling of vrouebyeenkoms was – geblikte vrugte was altyd op die spyskaart.

So vertel my haarkapster, Nadia, toe sy oor my skouer loer om te kyk wat ek skryf terwyl sy kapselkaperjolle op my kop uithaal. Sy sal weet, want sy het op Ashton grootgeword.

Nadia vertel ook: Ashton-druiwesap is die lekkerste druiwesap wat ’n mens kan kry. Almal se ma’s het dit altyd gekoop as die Desembervakansie aanbreek. Veral as die familie kom kuier het.

Steeds kan geen ander druiwesap by Ashton s’n kers vashou nie, sê sy, hoewel sy toegee dat dit deels sentiment kan wees.

Ons gesels gaan draai by ’n tannie wat destyds met haar hangkas en sitkamerstel gaan kamp het, want “hoe anders moet sy dan mense ontvang?” het sy gesê.

Dis egter ’n storie vir ’n ander dag. Ashton is steeds bekend vir sy ingelegde vrugte; al is die Aero-kafee, wat gebou is om soos ’n vliegtuig, ewe met propeller en al, te lyk, nie meer daar nie.

Hoewel Ashton nie genoeg bied om ’n oorbly te regverdig nie – behalwe vir plaasverblyf om jou batterye te herlaai – kan jy gerus by Platform 62 (platform62.co.za) ’n draai maak om ietsie te nuttig en wyn of geskenke te koop.

Jy kan nie die ou lokomotief by die ingang miskyk nie!

Die onvoltooide Ashton-brug is so reusagtig dat dit amper bo die dorp uittroon en raak al op sigself ’n besienswaardigheid.

Gaan kyk in die daglig na die NG kerk in Aurora – in die nag sal jy jou verkyk aan die sterre. Foto: HELEEN COERTZE

Besigtig die kerk in Amaliënstein

Amaliënstein is die susterdorp van die Zoar-sendingstasie, naby die afdraai na Seweweekspoort op Roete 62 en sowat 22 km vanaf Ladismith.

Die plaas Amaliënstein is in 1850 deur die Berlynse sendinggenootskap gekoop. Die Ama­liënstein- en Zoar-sendingstasie (route-62-info.co.za/routes/town/168/zoar) is daarna opgerig. Amaliënstein is genoem na Frau Amalie von Stein wat die geld geskenk het om die plaas te koop.

Amaliënstein het die allerpragtigste kerk wat in helder, aardse kleure geverf is. Die kerkgebou is in 1853 voltooi. Binne het die kerk lieflike geelhoutbanke.

Aalwyne en Albertinia is sinoniem

Die ingang van die Albertinia Hotel verklap nie die gasvryheid wat binne wag nie – koop eers aalwynprodukte op die N2 aan die buitewyke van die dorp.

A staan nie net vir Albertinia nie, maar ook vir aalwyn, of altans aalwynprodukte, waarvoor dié dorp bekend is.

Aalwyne kom natuurlik in die omgewing voor. Jy hoef nie eens by Albertinia in te draai nie; op die N2 langs die dorp is meer as een aalwynprodukwinkel. Jy sal nie glo waarby aalwyn alles gevoeg kan word en waarvoor dit alles gebruik word nie.

Sou jy indraai, het die Albertinia-hotel (albertiniahotel.co.za) ’n regte kroeg waar jy aan ’n koue kan teug.

Augrabies is die plek wat geraas maak

Die naam Augrabies kom van die Khoi-naam Aukoerebis wat beteken “die plek wat geraas maak”.

Die Augrabieswaterval, 120 km vanaf Upington in die Noord-Kaap, maak natuurlik nie altyd geraas nie; soms is daar net ’n stroompie, maar as dit goed gereën het, donder die water by die kranse af.

Volgens oorlewering was ’n Sweedse huursoldaat, Hendrik Wikar, wat in 1775 weens skuld uit die Kaap gedros het, die eerste Europeër wat die waterval gesien het.

Hy het vir die Oranjerivier gemik en in sy omswerwinge op die waterval afgekom.

Die waterval is deel van die Augrabies Nasionale Park (sanparks.org/parks/augrabies/).

Kyk sterre by Aurora

Aurora lê pens en pootjies in die Sandveld aan die Weskus. Vanaf net buite Aurora ry jy op na die Aurora-berg.

Die uitsig van hier bo strek al die pad tot by St. Helenabaai en Dwarskersbos.

Op ’n mooi dag kan jy selfs Tafelberg sien.

Besoek gedurende die dag die imposante NG kerk in Aurora; saans kan jy jou verkyk aan die sterre in die uitspansel.

Die dorpie Redelinghuys, bekend vir die muurskilderye op die huise, is minder as 30 km vanaf Aurora (Klik hier om meer te lees).

Meet Aberdeen se kerktoring

Daar is 38 Aberdeens wêreldwyd, maar net een Aberdeen in Suid-Afrika. So lees ek op die dorp se webwerf (aberdeen­cape.org).

Hulle sê ook dat Aberdeen die plek is waar jy ongetwyfeld rus vir jou siel sal vind.

Die NG kerk in Aberdeen maak daarop aanspraak dat sy kerktoring die hoogste in die land is, maar dié aanspraak word betwis.

Hoe dit ook al sy, die kerk is inderdaad baie imposant en die kerktoring troon bo die dorp uit.

As jy deur die strate van Aberdeen ry of loop, sien jy huise met verskillende boustyle soos Victoriaans en Georgiaans asook tipiese Karoo-huise met kuierstoepe waar jy jou wil neervly.

Eintlik ry ’n mens net na Alexanderbaai om die vlaktes en oop pad te geniet. Foto: HELEEN COERTZE

Die langpad na Alexanderbaai

Die glorie van Alexanderbaai, ’n diamantmyndorp digby die grens van Namibië, het vergaan. Diamante is reeds in 1925 hier ontdek.

Eintlik ry jy hierheen bloot omdat jy van die langpad en van ongerepte kuslyne hou.

As al wat jy nodig het, is om af te skakel, mik na Alexanderbaai (alexanderbay.co.za).

Meer oor:  Arniston  |  Aurora  |  Waenhuiskrans
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.