Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Aasvoëls, die natuur se Avbob

Vanuit ’n Westerse oogpunt gril mense maar vir aasvoëls. Ons is mos lugtig vir enige iets wat hand-aan-hand met die dood loop. Vir die Parsi-gemeenskap is aasvoëls so ’n bietjie soos Kharon, die bootman van die Styx-rivier, wat siele van die lewende ryk na die doderyk moet roei. Aasvoëls lewer egter die diens gratis en verniet, hulle gaan jou nie ’n obool vra wanneer jy by die poorte van die doderyk staan nie.

’n Kunstenaarsvoorstelling uit die vroeë 20ste eeu van die Parsi-toring van Stilte in die destydse Bombaai (vandag Mumbai).

Hoewel die afname van aas­voëls se bevolking wêreldwyd ’n ekologiese ramp is, bedreig dit ook ’n millennia-oue begrafnis­tradisie in hoe Parsi’s hul geliefdes na die hiernamaals toe stuur.

Die Parsi-gemeenskap in Indië is die nasate van ’n groep Persiese volgelinge van die profeet Zoroaster. Hulle het sowat duisend jaar gelede na Indië migreer, nadat hulle deur Moslems in Persië (vandag Iran) vervolg is.

Hulle het ’n unieke manier om van hul dooies se oorskot ontslae te raak. Pleks daarvan om dit te begrawe of veras, word die lyke geplaas in ’n struktuur wat die “Toring van Stilte” genoem word. Hier is die menslike oorskot deur aasvoëls en ander roofvoëls soos kraaie en woue verorber.

Hoewel die ritueel – bekend as dokhmenashini – so ietwat makaber klink, is dit eintlik ’n baie praktiese oplossing. Die Zoroastriste glo wanneer jy ’n lyk begrawe of dit veras, jy die natuur besoedel – ’n groot taboe binne die Parsi-geloof. Die Parsi’s glo ook wanneer die liggaam onderwerp word aan die dokhmenashini-ritueel, die aasvoëls help om die menslike siel ’n makliker oorgang van die tydelike na die ewige te gee. Deur jou oorskot as kos te bied vir die aasvoëls is ’n Parsi se finale daad van barmhartigheid.

Die omgewingsaktivis Gerhard Verdoorn het ook sy oorskot aan die aasvoëls van die Magaliesberge bemaak. In ’n onderhoud met Beeld vroeër vanjaar het hy gesê daar is 8,5 miljard mense op aarde en nie plek om almal te begrawe nie. Sogenaamde “sky burials” kan die probleem oplos.

Vir millenniums het die Parsi’s hul geliefdes se oorskot in die Torings van Stilte gelos. As jy al gesien het hoe ’n swerm witrugaasvoëls en swartaasvoëls tjoef-tjaf met ’n buffelkarkas klaarspeel, is ’n mens se lyk eintlik maar ’n hors d’oeuvre voor die hoofmaaltyd. Dit was ’n praktiese omgewingsvriendelike oplossing, totdat 99% van die Indiese witrug­aasvoëls in minder as ’n dekade uitgesterf het, die grootste afname van ’n voëlspesie se bevolking in die mens se geskiedenis.

Ekoloë het kopgekrap, totdat hulle agtergekom het Diclofenac – ’n anti-inflammatoriese middel wat beesboere as pynstiller gebruik – lei tot nierversaking by aasvoëls. Die middel is in 2006 in Indië verban, maar nie voordat die Indiese witrugaasvoël-bevolking op die randjie van uitsterwing gewankel het nie.

In Mumbai het plaagdiere soos rotte en peste se getalle nie net vermenigvuldig nie, die lyke van Parsi’s het ook begin ophoop by Malabar Hill – die Mumbaaise spogbuurt waar die meerderheid van Indië se Parsi-bevolking woon – se Toring van Stilte.

Carla Lewis

“Die kraaie en woue pik net aan die lyke, maar hulle doen nie veel anders nie,” het Dinshaw Tamboly, ’n voormalige trustee van Mumbai se Bombay Parsi Punchayet, een van Mumbai se bekendste Parsi-organisasies, aan AFP gesê.

’n Swerm aasvoëls kon in enkele ure klaarspeel met ’n lyk. Nou neem dit maande en menslike oorskot wat in die tropiese hitte lê en stadig ontbind is vir niemand aangenaam nie. Mense het begin kla oor die reuk en vir die familielede van die afgestorwenes was dit ongelooflik traumaties.

Die Parsi’s krap kop oor metodes om hul millennium-oue tradisie te behou. ’n Teelprogram vir die aasvoëls was onsuksesvol. Plan B was om sonkonsentrators binne die torings te installeer, panele wat help om die lyke vinniger af te breek deur sonstrale op die lyke te fokus. Dit vind wel nie binne ’n halfuur plaas nie, die tyd wat dit sou neem vir ’n honger swerm aasvoëls om ’n lyk te verorber, maar dit gehoorsaam darem steeds een van die Parsi’s se belangrikste gebooie, om nie leed aan die natuur te doen nie.

* Aanvullende bronne: The Hindu, The Guardian, 4vultures.org.

Meer oor:  Carla Lewis  |  Avbob
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.