Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Aasvoëls se rol in ons ekosisteem

Internasionale Aasvoëlbewustheidsdag is onlangs gevier. En op die aasvoël-staproete wat einde verlede jaar in die De Hoop-natuurreservaat naby Bredasdorp in die Overberg geopen is, sal jy opnuut onder die indruk kom van presies hoe sensitief ons ekosisteem regtig is, skryf Maryke Roberts.

Die kransaasvoëls in die De Hoop-natuurreservaat.Foto: KEVIN SHAW

Terwyl ons voor die ontvangs vir ons gidse wag, besluit ons om die omtrek van die stam van die Natalse vyeboom wat voor die deur staan te meet. Tien mense in ’n reuse-ketting raak net-net aan mekaar se vingerpunte.

Ons ry sowat ’n uur vanaf die luukse verblyf in die Opstal in die De Hoop Collection voordat ons vir ’n halfuur of so deur die fynbos stap.

Op pad na die platform, hoog teen die kloof, verpoos ons gereeld. Die veld is uitbundig oortrek met spikkels pienk, oranje en rooi. Jy wil net aanhou opkyk na al die plante, maar die klippies onder jou voete is af en toe los en een van ons gidse, Theo Benans, het gewaarsku dat ons moet uitkyk vir die koraalslang, wat soos ’n veelkleurige armband met geel, rooi en swart strepies kompleet soos ’n Afrika-armband lyk.

Beslis nie iets wat ek om my enkel gedraai sal wil hê nie . . .

Die De Hoop-natuurreservaat het geen tekort aan staproetes nie. Jy kan op jou eie gaan stap of een van die begeleide toere met ’n gids bespreek. Foto: CLIFFORD ROBERTS

Op ’n protea gewaar ons ’n kleinrooiband-suikerbekkie wat sy snaweltjie diep in die blom indruk. Ons staan ’n lang ruk en kyk in verwondering na die klein verelyfie wat in hierdie uitgestrektheid in die blootgestelde natuur oorleef.

Die kransaasvoëls (Gyps coprotheres) is so goed gekamoefleer dat hy vir die ongeoefende oog lyk soos kalksteenklippe wat oral tussen die fynbos in die klowe lê.

Nog ’n gids, Adolf von Moltke, probeer ons oortuig dat die “klippe” voëls is.

Wanneer jou oë deur die verkyker fokus, sien jy dat hy heeltemal reg is. Waar die donkergroen fynbos en die vaal sandsteen bymekaarkom, sien jy dat die spatsels “vaal klippe” inderdaad hordes kransaasvoëls is wat daar sit en rus.

Die kolonie bestaan tans uit 103 broeipare.

Die kransaasvoëls deel die loodregte kranse teen Potberg met rooiborsjakkalsvoëls, swerfvalke, witkruisarende en kransvalke en af en toe sien jy ’n breëkoparend oorvlieg.

Na raming is daar 4 400 broeipare van die spesie en die pare op Potberg maak dus 2% van die totale bevolking uit. Tans is die jaarlikse groeikoers in die kolonie bykans 7%.

Die gidse op die nuwe aasvoëlstaproete, Adolf von Moltke en Theo Benans. Foto: CLIFFORD ROBERTS

Die kransaasvoëls kan tot 118 cm hoog word, tot 10,8 kg weeg en ’n vlerkspan van 2,6 m hê. Hulle gooi groot skaduwees vêr onder oor die grasgroen strook wat verklap dat daar met baie ­reën ’n sterk stroom vloei. Die spesie is bedreig en hoewel heelparty kolonies in bewaringsgebiede voorkom, bring die voëls meestal hul tyd buite dié gebiede deur.

Kevin Shaw, wetenskaplike en voëlkundige van Cape Nature op Jonkershoek, help sedert 1995 met die monitering van die kransaasvoëls in die Wes-Kaap en het in 1998 die projek oorgeneem.

Hy sê die omstandighede by Potberg is ideaal, hoofsaaklik omdat daar voldoende kos is. “Daar was ook tot redelik onlangs ander Wes-Kaapse kolonies by Oudtshoorn en Albertinia en vroeër in die Beaufort-Wes-omgewing, maar hoewel die kranse nog bestaan, gebruik die voëls dit nie meer nie – vermoedelik oor ’n tekort aan kos. ’n Mens moenie vergeet dat daar tans omtrent geen gebiede in die provinsie is waar grootwild voorkom nie; daarom maak die kransaasvoëls grotendeels op die landboubedryf vir hul kos staat.”

’n Kransaasvoël wat deel van die De Hoop-kolonie is. Foto: PETER CHADWICK

Shaw voeg by dat hoewel hierdie aasvoëls in die De Hoop broei – waar wel wild is – sweef hulle meestal oor die landbougrond op soek na kos.

“Die feit dat die voëls bykans heeltemal op die landboubedryf staatmaak vir kos, is effens kommerwekkend omdat landbou-ekonomie boerdery-aktiwiteite bepaal wat ’n impak op die voëls kan hê.

“In die jare wat ek daar monitering doen, het boerdery-aktiwiteite weens nuwe tegnologie verander, maar gelukkig het dit nie ’n negatiewe impak op die voëls gehad nie. Dit het eerder die getalle laat toeneem, omdat daar meer kos beskikbaar is.”

Het jy geweet?
  • Bespreek vir die begeleide Aasvoël-staproete by die Opstal. Die stap begin om 09:00 en kos R550 per persoon en sluit die piekniek-koelsakkie in.
  • ’n Maksimum van tien gaste per stap kan deelneem en ’n minimum van twee gaste. Alle stappers moet ouer as 12 jaar wees.
  • Daar is sowat 260 voëlspesies in die reservaat te sien en meer as 1 500 plantspesies, waarvan heelwat bedreigde of seldsame fynbos is.
  • Die uitstappie is nie net vir gaste van die De Hoop Collection nie, maar dagbesoekers aan die reservaat kan dit ook meemaak. Bespreek by De Hoop Collection by 021 422 4522 | info@dehoopcollection.co.za |www.dehoopcollec­tion.co.za

Hy sê die grootste onwaarheid oor hierdie voëls is dat hulle gesonde, sterk diere kan doodmaak en dus landbouverliese kan teweegbring. Hulle is inteendeel ’n bate vir die landbousektor, want aasvoëls is die skoonmakers in die ekosisteem. Hulle maak die karkasse skoon en verlaag die risiko van virale, bakteriële en insekinfestasies. Aasvoëls se maagsappe is uiters suur en baie min virusse of bakterieë kan daarin oorleef.

“Maar ons vind wel dat hulle veral in die winter vreet aan lewende diere wat om die een of ander rede te swak is om terug te veg. Ons is onseker of hierdie diere siek was, maar weet dat wanneer daar ononderbroke reën val en die kransaasvoëls dae lank nie kan vlieg nie, sal hulle enige swakker dier vreet as hulle toegelaat word.”

Soms is daar vir ’n hele paar minute niks in die lug nie; dan swiep daar vier of vyf laag oor ons koppe en word weer klein spikkels verder oor die fynbosvlaktes. Adolf en Theo gee vir ons ons koelsakkies aan met heerlike gepakte middagetes. Terwyl ons smul aan varsgebakte brood, kouevleis en slaai, stoot die windjie effe harder en die sweterigheid op ons lywe koel af.

Terwyl ons in ’n voëlboek sit en blaai om te kyk watter ander klein geveerdes gereeld by ons verbyvlieg, wys Theo na bo: Daar is nege kransaas­voëls wat in kringe bo ons draai. Ons maak senuweeagtig grappe dat ons dankbaar is dat ons nie as hul prooi kwalifiseer nie, want daardie toneel sou my wraggies laat spaander het.

Die Walvis-staproete strek oor 53 km hier in die klowe verby en word so genoem oor die meer as 100 walvisse wat jaarliks terugkeer na die see by De Hoop om te kalf.

Die roete neem jou oor die Potberg met sy kleurryke fynbos, oor die kuskranse in een van die grootste mariene bewaarareas in Afrika. Dit word deur Cape Nature bestuur.

Op pad terug na ons luukse en koel verblyf in die De Hoop Collection, sit ’n kransvalkie en later ’n rooiborsjakkalsvoël op ’n draad. Elkeen met oë wat die velde bespied vir moontlike kos.

My maag grom self vir die sjef se heerlike kos, maar eers gaan ons in die swembad afkoel om die dag se stof en sweet af te was.

Meer oor:  Bredasdorp  |  Omgewing  |  Buite  |  Bewaring
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.