Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Adrenalin Addo: Bring die tiener in jou uit!
Vet pret: Adrenalin Addo is in die hartjie van die Sondagsriviervallei waar jy weer soos ’n kind sal voel. Foto: ADRENALIN ADDO

Ons bymekaarkom vanjaar moes met die een of ander aktiwiteit gepaardgegaan het en so het die klompie (nou) 60-jariges besluit om iets “adrenalien-gedrewe” aan te pak.

Aangesien ons in Kirkwood gematrikuleer het, wou ons die Addo Zipline by Adrenalin Addo gaan aandurf – saam met ons gewilde landbou- en biologie-onnie van destyds, Gert Engelbrecht.

Die probleem is, hy is nou ’n rype 80 jaar oud . . . nie dat dit hom enigsins afgeskrik het nie, want die man lyk nie veel ouer as ons nie, selfs beter as party van ons!

Nou toe nou!

* Dis die hoogste, langste en vinnigste dubbel(foefieslaaid)lyn in Suid-Afrika.

* Die lyne is 500 m lank en is 70 m bo die Sondagsrivier.

* Dis handvrye lyne – die naaste wat jy sal kom om sonder vlerke te vlieg!

* ’n Gemiddelde spoed van ongeveer 60 km per uur word bereik. Sommige ryers het al selfs 80 km per uur oorskry.

Soos tipiese tieners meld ons aan vir ons adrenalien-uitstappie. Van ons was so ’n bietjie senuagtig oor wat voorlê (soos toe ons die hoogte van die kabels sien), ander was afwesig ná die vorige aand se “after-party”, wat wys die uithouvermoë is nie meer wat dit 42 jaar gelede was nie.

Bekwame gidse help ons om ons veiligheidsharnasse aan te trek met die uwe wat dubbel seker maak dat alle gordels en knope goed vas is.

Jy moet jouself met ’n pont oor die rivier trek, waarna ’n skotige opdraand volg wat jou neem tot bo-op die toring vanwaar jy gaan gly tot daar doer onder. Die beginpunt is 70 m bo die Sondagsrivier en die lengte van die rit is 500 m.

Op julle merke gereed, vlieg! Teen ’n spoed van 60 km per uur en vinniger, met jou hande vry, sal jy kompleet voel asof jy vlieg deur die lug.

Jy kan ’n spoed van 60 km tot 80 km per uur haal (net mooi ons ouderdomme), afhangende van jou gewig. Ander adrenalienvrate se gille sny deur jou wanneer hulle bo-oor jou na benede seil. Dit laat jou telkens wonder hoekom jy nou juis hierdie ervaring wou kom doen.

Hoeveel kos dit?

* Hoeveel kos dit? R300 per persoon

* Ander aktiwiteite hier? Jy kan gaan swaai aan die reuse-swaai of kano ry. Verskeie pakkette is beskikbaar waarmee jy die aktiwiteite teen verskillende pryse met mekaar kan kombineer.

* Bespreek nou! As jy lus voel om jouself te gaan bederf met hierdie ervaring, kan jy meer te wete kom by info@adrenalinaddo.co.za of jy kan hulle kontak op 078 911 1619.

Die uitsig op die vallei se sitrusboorde en groentelande is asemrowend en versag die knop op jou maag. Neffens die toring – waar jy jouself moet oorgee aan die genade van ’n lewenskabel – is die “lookout”.

Op pad ondertoe! Die vallei met sy sitrusboorde en groente-lande wat uitgestrek onder jou lê.

Dit is hier waar Percy Fitzpat­rick, skrywer van die befaamde boek Jock of the Bushveld se graf is. Hy is die man wat oorspronklik die moontlikheid van sitrusboerdery in die vallei raakgesien het. In my stilligheid wonder ek of hy ooit sou kon dink dat ’n toekomstige geslag eendag naby sy laaste rusplek ’n behoefte sal hê om met ’n moderne superfoefieslaaid na onder te seil.

Gert is toe sommer braaf en besluit om eerste af te gly. Of dit is om ’n punt te bewys en of dit is om die res van ons moed te gee, weet ek nie.

Goed om te weet

* Gewigsbeperking is tussen 20 kg en 120 kg.

* Dis geskik vir alle ouderdomme.

* Jy hoef nie topfiks te wees nie, maar jy sal fiks genoeg moet wees om 480 m te kan stap.

* Dra gemaklike buitelugklere en -skoene.

* Onthou jou kamera!

Ek seil heel laaste af en dit voel asof jy oor jou lewe wil begin bieg as die gids jou aan die lewenskabel vasmaak. Ek dink die oomblik wanneer jy jouself oor die rand van die platform begewe, is die ergste.

Dit is soos ’n besluit om jou aan die genade oor te gee sonder enige waarborge. Die volgende oomblik is jy vry!

Net die geluid van katrolle wat al hoe intenser op die kabel huil soos wat jy spoed optel en die ongelooflike uitsig en plesier wat jy beleef wanneer alle bangheid uit jou wyk en jy die ervaring geniet.

Sowat 30 sekondes later kom jy onder in die vallei tot stilstand en jy wens dit kon net aanhou en aanhou.

Die opgewonde gesels van al die sestigjariges ná die ervaring laat jou dink dat julle eintlik maar net goed verouderde tieners geword het en dat dit ’n voorreg was om saam met Gert op 80 nog iets op sy emmerskoplys te kon doodtrek!

Waar is dit?

Adrenalin Addo is in die hartjie van die Sondagsriviervallei, sowat 45 minute (40,5 km) se ry via die MR00470 vanaf Port Elizabeth en 20 minute (21 km) se ry via R342 en R336 van die Addo-olifantpark.




Watwou 80! Gert Engelbrecht, ’n voormalige landbou- en biologie-onderwyser van Kirkwood, maak gereed om te foefieslaaid.Foto: ALBERTYN POTGIETER

Meer oor:  Kirkwood  |  Tiener  |  Addo
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

NETWERK24 Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.