Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Alle stappers wil Visrivier darem één keer pak

Daar is ’n paar groot staptogte wat op elke stapper se wenslys is, waarvan die Visrivier in Namibië beslis een is, skryf Danie Pienaar.

Tyd vir stap! Die Vis is vir sommige stappers ’n drafstap in die park, vir ander moeilik. Maar dit sal vir seker ’n blywende indruk by elkeen laat. Foto: Danie Pienaar

Elkeen wat al die Vis gestap het, het ’n eie mening daaroor. Vir sommige is dit soos ’n draffie in die park, vir ander is dit ’n ervaring van pyn en moeite. Maar die Vis sal vir seker ’n blywende indruk by elkeen laat.

In ons groep van 12 stappers was daar mense wat die Vis al tien keer gestap het, dus was die eerstekeerstappers soos ons in goeie hande. Dit verg nie buitensporige beplanning om te gaan stap nie, maar weens die gewildheid van die Visrivier moet lank voor die tyd bespreek word.

Ingesluit by die prys is ’n oopkar-rit vanaf Ai Ais na die beginpunt van die staptog by Hobas.

By die Hobas-kamp word die laaste van ’n paar vrywaring-vorms voltooi en dan word jy geneem na die bopunt van ’n angswekkende krans waarteen afgeklim moet word na die begin van die kloofstap.

Die krans moet nooit onderskat word nie en kan as gevaarlik bestempel word. Kettings op staalpale is aangebring, maar dit wou voorkom asof die kettings binnekort herstel moet word. Dit neem minstens twee en ’n half uur om tot by die onderkant van die krans te stap.

Daar was genoeg water toe die skrywer die Visrivier gaan stap het. Foto: Danie Pienaar

Ons het die Visrivier in ses gerieflike dae (vyf nagte) afgelê. Sommige stappers lê die roete af in minder dae. Die amptelike afstand is 90 km, maar ons het gevind dat die afstand eintlik korter is vanweë die feit dat die amptelike roete in die middel van die rivier gemeet word.

Ons het tussen 20 en 15 km per dag gevorder, met twee of drie ruskanse.

Ondanks die droogte in Namibië kon ons elke dag by watergate rus en oornag. Die water lyk nie altyd skoon nie, en ons het steriliseer-druppels gebruik, asook ’n energie-poeier (Game) om die smaak te verbeter. Niemand het negatiewe gevolge van die water gehad nie.

Die terrein is tipies soos ’n groot rivierloop en bestaan uit lang afstande van groot ronde klippe, dik sand en rotse waaroor soms handeviervoet beweeg moet word. Soms was dit baie warm, maar in die algemeen was die kloof oordek met salige wolke.

Daar is heelwat skadubome waar gerus kan word. Ons het nie een keer nodig gehad om ons skoene uit te trek om die rivier te kruis nie. Ons het een aand onverwags sagte reën gehad wat tot ’n effense geskarrel gelei het.

Ondanks die droogte in Namibië kon die stappers elke dag by watergate rus en oornag. Foto: Danie Pienaar

Die staptog begin in ’n nou kloof met hoë kranse aan weerskante wat wyer word soos die kilometers vorder. Daar was nie altyd vuurmaakhout beskikbaar nie, maar dit het nie veel gepla nie omdat kos deurgaans op gasstofies berei is.

Die natuurtonele is onbeskryflik mooi en kan nie werklik op foto’s weergegee word nie.

Ons is vooraf gewaarsku om tot ’n mate stapfiks te wees, maar na my mening moet stappers redelik goed fiks wees. As jy nie reeds ’n paar staptogte gedoen het nie en reeds ’n paar bergstappe agter die rug het nie, gaan jy dalk vind dat die Visrivier erg moeilik gaan wees.

Seer spiere is aan die orde van die dag en dit is nodig om voorsiening te maak met ’n pynpil of twee. Om te dink jy gaan ’n besering of kwelling eenvoudig wegstap, is nie altyd moontlik nie.

Die beplanning van jou rugsak se inhoud moet omsigtig plaasvind. Daar was rugsakke wat tot 19 kg geweeg het. Na my mening behoort vroue nie meer as 14 kg te dra nie. Winkels maak deesdae voorsiening vir ’n wye reeks liggewigtoebehore.

Gedroogde kos (veral vanuit Australië) is gespesialiseerd en smaak heerlik. Dit is nie nodig om te veel klere saam te neem nie; die nagtemperatuur was deurgaans aangenaam.

Daar is ’n groot verskeidenheid rugsakke beskikbaar, maar elke stapper moet self navorsing doen om seker te maak dat ’n gepaste rugsak gekoop word. Foto: Danie Pienaar
Die natuurtonele is onbeskryflik mooi en kan nie werklik op foto’s weergegee word nie. Foto: Danie Pienaar

Behalwe vir een stapper het almal tentjies gehad, waarvan die meeste minder as 2 kg geweeg het. Daar is ’n groot verskeidenheid rugsakke beskikbaar, maar elke stapper moet self navorsing doen om seker te maak dat ’n gepaste rugsak gekoop word.

Al die stappers het ’n stapstok gehad en sommige het twee stapstokke gehad.

Die Visrivier-staptog is ’n ervaring wat by elke stapper ’n indruk sal laat. Die pyn van spiere word gou met ’n koue bier vergeet wanneer by Ai Ais aangekom word en al herinnering wat oorbly is van stil aande onder ’n pragtige sterrehemel.

Daar is ’n rede waarom mense die staptog weer en weer gaan doen.

Meer oor:  Namibië  |  Visrivier  |  Staproete  |  Buite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.