Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Alleen op soek na kennis

Die mensdom se soeke na kennis kry aanhoudend nuwe gestalte deur die deursettingsvermoë en visie van sy verkenners. Onder hulle tel Suid-Afrika se eie Mike Horn, skryf Clifford Roberts.

Die Suid-Afrikaanse avonturier Mike Horn op sy Antarktika-ekspedisie. Foto’s: Dimitry Sharomov en Mike Horn

Die weer in die Noorweegse dorp Kristiansand sou mooi gewees het dié tyd van die jaar. Die somer het net begin en optimisme het ná die gewone lang, yskoue winter weer in almal se are gebruis. In die bedrywige hawe het ’n offisier op die swaar gelaaide skip se dek die kaptein se bevel uitgeroep en stadig van die kaai weggestoot.

Volgens die Fram se bemanning was hulle net op pad na nóg ’n gewone bestemming, maar dit was ’n geheime missie waarvan die kaptein hulle eers later sou vertel. Dít beteken dat baie moeiliker en tragieser – maar geskiedkundige – gevolge voorgelê het.

Net meer as 100 jaar later vertrek ’n kleiner boot, hierdie keer uit Kaapstad. Dis ook ’n mooi, sonnige dag – eie aan die Moederstad. Nuuskierige meeue dans op die dieselfde briesie wat die Pangaea-seiljag deur die deinings dryf. Die koers is dieselfde as die Frams’n.

Enkele weke later verruil die verkenner aan boord van die Pangaea sy gemak vir ’n ysige hel. Hy skryf: “Ná ’n rukkie was ek ’n regop blok versteende vleis. Die wind waai in my masker vas en my wange vries.

My neus en lippe is gebars met rowe. My hande en arms – wat voortdurend gelig was om my seil te beheer – kry nie meer bloedtoevoer nie. My sirkulasie werk nie meer soos dit moet nie. Soos wat ek oor die ys beweeg, verrys ’n laag fyn, poeieragtige sneeu om net as ’n ysige motreën in my stewels te gaan sit.”

Dan verder: “Die sneeustorm het al harder om my gewoed, en verbete geskree. Sneeu het my soos ’n doodskleed omvou, waar ek op die ys lê. Ek kon niks hoor, sien of voel nie – nie eers die koue nie – behalwe vir die dolk in my skouer.

“Soos ek op my sy lê, het ek probeer om my arm te beweeg, maar tevergeefs. Ek kon nie eers ’n vuis maak nie. Als was oor.”

Horn was met dié ysige avontuur net op sy voete en vlieërski aangewese.

Die woorde is dié van die Suid-Afrikaans gebore avonturier Mike Horn. Dié reis is ’n lewensdroom wat waar geword het vir Horn omdat hy in die voetspore gevolg het van een van sy groot helde, Roald Amundsen, Noorweegse leier van die moderne mensdom se eerste ekspedisie na die Suidpool.

Deesdae lyk verkenningstogte aansienlik anders, maar vir Horn was daar veral een element wat die trek merkwaardig sou maak. Hy was van die dag wat hy die Pangaea gegroet het, die volle 5 100 km oor Antarktika alleen en net op sy voete en vlieërski aangewese. Die 54-jarige Horn se boek oor die 2017-avontuur, Dream of a lifetime: Crossing Antarctica, is vanjaar deur Jonathan Ball-uitgewers gepubliseer.

Daarin vertel hy hoe die reis ná die dood van sy vrou, Cathy, voortgegaan het, veral as gevolg van haar pleidooi dat hy moet aanhou “leef vir ons albei”. Hulle twee volwasse dogters, Jessica en Annika, het hom verder aangemoedig en die administrasie wat met sulke projekte gepaard gaan, op hulle geneem.

Horn het ’n gros merkwaardige reise agter die rug wat hy sedert die vroeë 1990’s met die hulp van borge aangepak het.

Hy het in Bedfordview aan die Johannesburgse Oos-Rand grootgeword. Daardie jare het die stad vinnig gegroei danksy ’n ekonomiese bloeityd, en Bedfordview – toe nog ’n onafhanklike dorp, afgeleë van die stadskern – was stadig aan die verander soos wat nuwe hoofweë gebou is en stadsbewoners uitgewyk het.

Hy het later ’n graad in menslike bewegingswetenskap by die Universiteit Stellenbosch voltooi en ook diens in die Suid-Afrikaanse Weermag se spesiale magte gedoen. Maar die avontuur-gogga het gebyt en hy het by sy oom se in- en uitvoer-onderneming bedank om Switserland toe te trek, waar sy broer Martin ook nou woon.

Sedertdien het hy die mees onherbergsame plekke op aarde verken – berge, woestyne en die see. Daar was onder meer ’n 40 000 km-trek in ’n reguit lyn deur onherbergsame woude, oor berge en die see – al langs die ewenaar, asook ’n 2006-besoek te voet aan die Noordpool saam met die Noorweër Børge Ousland.

Horn het in 2017 alleen die volle 5 100 km oor Antarktika gestap. Dié 54-jarige se boek oor dié avontuur, Dream of a lifetime: Crossing Antarctica, is vanjaar deur Jonathan Ball-uitgewers gepubliseer.

Hy het bekendheid verwerf as gasheer van ’n TV-realiteitsreeks in Frankryk en word beskryf as Frankryk se Bear Grylls, die Britse oorlewings-glanspersoonlikheid. Hy is ’n gewilde gasspreker en hulp-afrigter van onder meer internasionale sokker- en krieketspanne.

Hy is twee keer ’n jaar in Suid-Afrika, sê hy. “Ek sou graag meer gereeld wou besoek. Ek kom om by my familie te kuier, maar ook omdat ek vreeslik na die land, sy landskappe, die mense en die kos verlang.”

Sy besoek aan Antarktika was deel van ’n groter projek – Pole2Pole – wat in Desember verlede jaar uiteindelik voltooi is.

In vergelyking met die vroeë avonture, het veral gevorderde kommunikasie-tegnologie dinge aansienlik verander.

“Vir so lank as wat ek al verken het, was ek vasbeslote om my vordering direk met my gesin te deel. In die verlede was satelliet-kommunikasie heelwat meer uitdagend en duur, maar dit was belangrik vir my veiligheid en om met my gesin in kontak te bly.

“Deesdae het dinge só verander dat dit nou nie net lewensnoodsaaklik vir my oorlewing is nie, maar ook ’n prioriteit geword het om my ervarings met die aanlyn gemeenskap te deel.

“Dit help beslis om avonture te bemark, belangrike boodskappe te versprei en om nuwe vennote vir toekomstige projekte te vind. Maar, wat die meeste tel in die wêreld van verkenning, is navorsing, ambisie, voorbereiding, dissipline, deursettingsvermoë en vasberadenheid. En dan, wanneer jy op pad is, om jou daaglikse prioriteite soos rus, navigasie, eet en stap vóór kommunikasie in te kry. En slegs hierna – as daar tyd is – om inhoud bymekaar te maak, te deel en nuus uit te saai.”

Met Pole2Pole het Horn in die stikdonker Arktiese winter Noordpool toe gestap. ’n Mens wonder hoe dit met sy vorige solo-trekke vergelyk.

“Jy kan dit nie vergelyk nie. Meeste van my verkennings het ek solo aangepak, omdat dit meer van jou verg,” sê hy. “Jy kan op niemand anders staatmaak nie en boonop moet jy met jouself saamleef. Daar is geen afleiding, kompetisie of invloede nie; jy is die enigste besluitnemer.

“Dit gesê, is daar sekere avonture waaroor ek al gedroom het wat net onmoontlik is om alleen aan te pak. Dis hoekom Børge en ek besluit het om sekere projekte saam te doen, om ons kragte saam te snoer en om op mekaar se kennis en ondervinding staat te maak.

“Myns insiens is ’n goeie maat op so ’n avontuur iemand wat dieselfde kennis, ervaring en dapperheid as jy na die tafel bring. Hy of sy moet betroubaar wees en dieselfde visie en doelstellings deel.”

Ek beplan nooit te ver in die toekoms nie, ek lewe dag tot dag. Langtermynbeplanning is geneig om te verander en onvoorspelbaar te wees.

Een van Horn se persoonlike doelstellings is om die jeug aan verkenning bekend te stel, wat hy deur middel van sy Young Explorers-program bereik.

“Met die wêreld se klimaat wat aan die verander is, sal dit beslis ’n impak hê op hoe ons die wêreld van môre verken. Maar ek glo daar sal altyd iets wees om te verken, omdat omgewings aanhoudend verander.

“Verbeterde tegnologie en kennis maak die seebodem byvoorbeeld al hoe meer toeganklik vir verkenners. Miskien ontdek ons minder van die natuur, maar beslis meer van onsself.”

Hy was van kleins af ’n ywerige verkenner, vertel hy in Dream of a Lifetime. Sy tuisland aan die punt van Afrika en die eindelose see wat suidwaarts strek, het hom gefassineer. Nou, op 54, is die vraag of hy dinge anders sou gedoen het as hy byvoorbeeld tien jaar jonger was.

“Ek sou nie die kennis hê wat ek vandag het nie, so my ekspedisies sou anders gelyk het. Maar miskien sou ek meer op avonture soos woudverkennings in ’n warmer klimaat gefokus het. Hulle verg beslis ’n jonger ouderdom met ’n aggressiewe benadering en nie noodwendig meer kennis en ervaring nie.”

Die Covid-19-pandemie het nou alles eers gestop. ’n Paar konferensies waar Horn gasspreker sou wees, is in die wiele gery, maar al is sy spoed soos almal s’n ’n bietjie gebreek, dink hy nie te veel daaraan nie.

“Ek beplan nooit te ver in die toekoms nie, ek lewe dag tot dag. Langtermynbeplanning is geneig om te verander en onvoorspelbaar te wees.

“Om aanpasbaar te wees – veral wanneer jy dit die minste verwag – is iets wat ek myself oor baie jare van verkenning geleer het, en dit is veral nou dat hierdie vaardigheid handig te pas kom!”

Ten opsigte van verkenning hoop Horn dat dit meer mense se aandag op die planeet sal fokus, en dat dit mense aanmoedig om uit hul gemaksone te beweeg. “Ek hoop beslis dat Covid-19 mense en die natuur nader aan mekaar sal bring en die belangrikheid om ons omgewing te bewaar en daarvoor te veg, sal uitlig.”

Natuurlik is hy steeds aan die beplan. Hy skryf immers in die inleiding van sy boek: “ ’n Gemiddelde lewe bestaan uit 30 000 dae en dis ons plig om elkeen te laat tel . . .”

Sy volgende mikpunt is Groenland, ’n streek wat vir hom nie heeltemal onbekend is nie. “Ek wil die Pangaea soontoe seil. Ek was lank terug daar. Ek wil graag die kusstreke verken en op pad ook ’n paar pieke klim. Daarna hoop ek om my poging om die kruin van K2 te bereik, te voltooi. Ek het al drie keer probeer; miskien is vanjaar dié een!”

Amundsen, vier manne en 17 honde, het die Suidpool op 14 Desember 1911 bereik, enkele dae voor die span van die Britse kaptein, Robert Falcon Scott.

Soos reeds bekend, het Scott se hele groep op pad terug van honger en koue omgekom. Maar die name van Amundsen en Scott sal vir altyd by dié van formidabele verkenners wat ons kennis van die wêreld en die mense uitgebou het, bly staan.

Mike Horn s’n gewis ook.

Meer oor:  Buite  |  Vakansie  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.