Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Alles van kuns tot kersies en sjokolade

Die Witzenberg-distrik is beslis die plek vir ’n vinnige wegbreek om jou kragte te kan herwin ná ’n lang week. Om tussen Ceres, Tulbagh en Wolseley te kies is moeilik, want elke dorpie het sy eie sjarme. Gelukkig is al drie dorpies nie te ver uitmekaar om almal oor ’n naweek te besoek nie, skryf Denique Smith.  

Al drie dorpe is minder as twee uur se ry via die N1 vanaf Kaapstad. Nie te ver vir ’n naweekwegbreek nie.

Die mense, landgoedere, geskiedenis en natuurskoon wat jy hier aantref, is iets wat jy nie sommer sal vergeet nie.

Die bekende Kerkstraat in Tulbagh is een van die historiese strate in die dorp en ook in Suid-Afrika. Hier Foto: DENIQUE SMITH

Leer oor Tulbagh se geskiedenis

Jou eerste stopplek moet die Oude Kerk Volksmuseum wees, wat naby die toerismekantoor is. Dis een van die laaste kerke waar die kruisvormige argitektuur behoue gebly het (die kerk is in die vorm van ’n kruis gebou) en is ook een van die oudste kerke in die Wes-Kaap. Die kerk is in 1743 deur die Verenigde Oos-Indiese Kompanjie gebou.

Die gebou huisves ’n unieke versameling meubels en artefakte uit die Nederlandse tydperk en grens aan die historiese begraafplaas.

Die museumkompleks bestaan uit vier historiese geboue: De Oude Kerk, ’n huis uit die Victoriaanse tydperk, ’n Kaaps-Hollandse pioniershuis en die aardbewingmuseum. Al hierdie geboue is in Kerkstraat.

De Oude Kerk Volksmuseum op Tulbagh is een van die oudste kerke in die Wes-Kaap.

Van kos tot kuns op Tulbagh

Net af in die straat is Makers Mark, wat bestaan uit ’n kuns­galery, deli en tapaskroeg. Dit is alles onder een dak in die ou pastorie, ’n oorspronklike Kaaps-Hollandse gebou wat dateer uit 1795, en word omring deur ’n tuin waar jy buite onder die sambreel kan ontspan. Dit is net die plek om middagete te geniet en te ontspan.

Die deli bied ’n groot verskeidenheid ligte maaltye – van kaasborde tot sjokoladekoek. Jy kan jou eie wyn na die mark bring. Kunsliefhebbers kan ook kyk na buitengewone Suid-Afrikaanse en Australiese kunswerke wat hier te koop is.

Hier is ook ’n modernistiese Suid-Afrikaanse ontwerp­konsepwinkel wat tien Suid-Afrikaanse handelsnamne aanbied.

Daarbenewens is hier luukse selfsorgverblyf.

Die vyf-laag muurskilderye is ’n groot trekpleister by Makers Mark. Foto: DENIQUE SMITH

Tuisgemaakte sjokolade

In plaas van ’n wynproe, hoe klink ’n sjokoladeproe?

Moniki Belgiese Sjokolade is deur Niki de Wolf van Kooij begin toe sy en haar man van Nederland na Tulbagh verhuis het. Sjokolade was een van die dinge wat sy gemis het van Europa.

Hier kan jy Belgiese sjokolade met koffie, tee, brandewyn of Amarula paar. Teen R50 kan jy drie verskillende soorte sjokolade met ’n drankie van jou keuse paar.

Moniki is sowat 4 km buite Tulbagh op die Klipfontein-gastelandgoed. Neem net kennis dat Moniki nie op Woensdae en Sondae oop is nie. Die res van die dae is dit van 09:00 tot 17:00 oop.

  • Bel Niki de Woolf by 072 504 9592.
Sjokolade liefhebbers moet beslis ’n draai gaan maak by Moniki Belgiese Sjokolade waar jy die lekkerste sjokolade kan proe. Foto:

Wolseley en sy blokhuise

Net ’n klipgooi vanaf Tulbagh is Wolseley langs Roete 62, en kan via een van vier passe – die Nuwekloof-, Bainskloof-, Dutoitskloof- of Michellspas – bereik word.

Dié dorpie is veral ryk aan geskiedenis, soos sy Anglo-Boereoorlog-klipblokhuise wat deur die Britte gebruik is om belangrike militêre plekke te beskerm. Dis later gebruik om die be­weging van kommando's te beperk. Van die sowat 400 blok­huise wat gedurende die Anglo-Boereoorlog gebou is, is net ’n paar oor.

Twee van dié wat behoue gebly het, is op die oewer van die Breërivier net suid van Wolseley.

Natasha Dicey, wat toere na dié huis reël, sê besoekers kan ook in die blokhuis oornag as hulle ’n gevoel wil kry van hoe soldate destyds hier moes bly.

  • Bel Natasha Dicey by 082 780 7516 om ’n toer van die blokhuis te reël.
Dié blokhuis is meer as 100 jaar oud en is een van twee blokhuise op Wolseley wat behoue gebly het ná die Anglo-Boereoorlog. Foto: DENIQUE SMITH

Peuselhappie vir die pad

Wees op die uitkyk vir die Hill­billy-padstallangs die R43 net buite Wolseley.

Die kleurryke windpompe voor die padstal sal jy nie kan miskyk nie. Hier sal jy ’n verskeidenheid van handgemaakte goedere kan koop asook lekkernye vir jou piekniekmandjie.

Hier is ook akkommodasie as jy wil oorbly – en ekstra tyd saam met die diere op die werf wil spandeer. Kom voer die bokke, of kyk hoe ’n ngunikalf aan sy ma suig.

Meer inligting: Stuur e-pos na info@hillbillyfarm.co.za of bel Steven en Tanith Matthews by 061 819 3577.

Hillbilly-padstal is ’n klein plaas waar jy nie net tuisgemaakte lekkernye kan koop nie, maar ook kan oornag. Foto: DENIQUE SMITH

Kom gly oor die Ceresvallei

Die Ceres Zipline-toer aan die voet van die Mitchellspas is nie net vir dié wat hul adrenalienvlakke wil opstoot nie. Dis ’n doending vir die hele gesin!

Jy is ten volle met die nodige toerusting voorsien en twee opgeleide gidse sal saam met jou op die toer wees. ’n Kort staptog na die eerste vertrekpunt is waar die pret begin, en jy kry ’n asemrowende uitsig oor Ceres.

Daar is verskillende lengtes glykabels, wat wissel tussen 100 m en 291 m. Die hoogste punt bo die grond is 40 m. Die duur van die toer hang af van die grootte van die groep. Op jou eie sal die toer sowat ’n halfuur tot ’n uur neem. Jy gly oor swempoele, rotsformasies en boorde.

Die kantoor is by “Natuurtuin” aan die voet van die Michellspas by die ingang van Ceres soos jy van Kaapstad af inry.

Hulle is elke dag van die jaar oop – van 09:00 tot 15:00 in die winter, en van 08:00 tot laat in die somer.

Die toere vertrek elke uur. As jy spesiale tydsvereistes het, sal hulle jou kan akkommodeer. Dit kos R400 per persoon en sluit drankies voor en ná die toer in.

Meer inligting:www.ceresadventures.co.za of skakel 079 245 0354.

Die Ceres Zipline-toer is iets wat die hele gesin kan aanpak. Foto: CERES ZIPLINE ADVENTURES

Ceres Brewery

Vir ’n lafenis ná die opwinding van die glykabels kan jy by Ceres Brewery ’n draai maak om jou dors te les. Dié plaaslike bierbrouery het vroeg verlede jaar sy deure oopgemaak. As jy hou van boetiekbiere, is dié plek ’n moet op jou besoeklysie.

Hier word tans vyf verskillende biere gebrou – American Ale, Lager, Weiss Beer, Blonde Ale en Indian Pale Ale (IPA).

Jy kan ook Duitse disse soos bratwurst saam met jou bier bestel, maar as dit te Europees vir jou is, is die ou gunstelinge soos burgers en pizza op die spyskaart.

Ceres Brewery is Dinsdae tot Saterdae van 12:00 tot 21:00 oop.

Meer inligting:Besoek hul Facebook-blad of skakel 082 356 4743.

Ceres Brewery bied lafenis na al die avonture in die Ceresvallei. Foto: DENIQUE SMITH

Die kersie op die koek

In November en Desember is dit kersietyd in die Ceresvallei. By die Klondyke-kersieplaas, net buite Ceres, kan jy na hartelus verskillende kersies pluk. Hier kan jy ook 4x4-ritte en verskillende staproetes aanpak, asook piekniek hou wanneer jy klaar jou kersies gepluk het.

Jy betaal toegangsgeld en kry dan ’n houer waarin jy jou kersies kan sit. As jy voor 10:00 by die plaas aankom, kry jy R10­afslag op die toegangsgeld.

Wanneer jy klaar jou kersies gepluk het, moet jou houer geweeg word. Dit kos sowat R60 vir 1 kg kersies.

Jy kan ook die piekniekmandjie inpak of ’n tjoppie vir die kole – hier is braaigeriewe.

Meer inligting: Skakel 087 550 0232 of stuur e-pos na info@klon­dyke.co.za.

Ceres is nie net bekend vir sitrusvrugte en appels nie, maar ook kersies. By die Klondyke-plaas kan die hele gesin kersies gaan pluk. Foto: CERES-TOERISMEKANTOOR
’n Bekoring van sy eie! By Tulbagh sal jy verby vele landgoedere en gebergtes in die agtergrond ry.Foto: DENIQUE SMITH
Meer oor:  Wolseley  |  Tulbagh  |  Ceres  |  Toerisme  |  Buite  |  Doendinge
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.