Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
As jy nie bang is vir ketting-klim

Met die skrywe hiervan is dit nog onbekend wanneer die staat van inperking in so ’n mate opgehef sal word dat ons weer die rugsakke kan pak en die grense oorsteek. Daar is egter lieflike staproetes wat wag vir die dag wanneer die staat gaan sê: Op julle merke, gereed... gaan! skryf Jannie van Rensburg.

Een daarvan is die Naukluft-staproete in die suide van Namibië.

Die roete, wat gereken word as een van die taaiste staproetes in Afrika, strek dit oor 120 km wat in agt dae afgelê word.

Sommige superfikses doen dit in sewe dae, deur die sewende en agtste skof te kombineer. Of jy dit nou in sewe of agt dae wil doen, moet jy in elk geval fiks wees! ’n Mediese sertifikaat van nie ouer as 30 dae nie is nodig by registrasie.

’n Waterval in Sebrakloof. Indrukwekkend in die reënseisoen, selfs meer so in die winter as dit opdroog en sy magiese rotswande ontbloot.

Toe ek dit gestap het – ons was 12 – moes ons agt dae se proviand in ons rugsakke saamdra. Deesdae het jy die opsie om van jou stapkos by dag vier se oornagplek, Tsams Ost, in staalkabinette te bêre. Dit maak jou stap oor die eerste vier dae aansienlik ligter, maar jy moet bereid wees om ’n vyf uur lange ompad van 240 km te ry om by Tsams Ost uit te kom.

Van proviand gepraat – mens moet slim pak om alles in jou sak te kry wat jou die agt dae gaan hou. Pak die minimum klere; een in die tas, lui die gesegde, en een aan jou bas. Die aande kan bitterlik koud word, so ’n warm sweetpak word aanbeveel.

Gemaklike sandale bied ook welkome verligting wanneer jy jou stapstewels ná ’n lang dag se stap uittrek. Wasgeriewe langs die pad is meestal niks meer as ’n handpomp om water uit ’n boorgat te diep nie, en toiletgeriewe is ’n long-drop.

Pak maar ’n koekie muskietwerende seep vir self en klere was, tandeborsel en -pasta, genoeg toiletpapier, plus goeie faktor 50-sonbrandroom.

Vir kos het ek klein pakkies hawermout waarin melkpoeier en sout gemeng is, vir elke dag opsygesit en vir aandete twee-minuut-noedels met pakkies tuna. Genoeg koffie vir die agt dae, plus ’n stofie, ketel, potjie en eetgerei. Benewens ’n slaapsak en ’n opblaas-kussing het ek ook ’n grondseiltjie en ’n ligte opblaas-matras ingepak.

My 65-liter-kapasiteit-rugsak het plek vir ’n 3-liter-watersak. Dít alles, plus ’n kamera, koplig, eerstehulpsakkie, notaboek en versnaperings soos droë vrugte, neute en biltong vir die dag se peusel, het meet en pas gekos om alles in te kry.

Ideaal gesproke behoort jou gelaaide rugsak nie meer as 20% van jou eie gewig te oorskry nie. Ons groepie van 12 – 10 vroue insluitend die stapgids Marié Botha en twee mans – het van oor die land op Upington byeengekom. Van daar is ons met ’n bussie en sleepwa Namibië toe.

Stappers het die keuse om voor en ná die staptog by Hikers’ Haven aan die begin van die staproete oor te slaap. Ons het egter op pad soontoe by die Maltahohe-hotel tuisgegaan, sowat 90 km van die Naukluft-ingang.

Dag een op die Naukluft-staproete in die suide van Namibië – die stappers durf Hartseerpas aan. Die bene is nog redelik vars.Foto’s: JANNIE VAN RENSBURG

Dag een

Die stap begin heel onskuldig al langs ’n rivierbedding, maar ná twee uur swenk die voetpaadjie regs op teen ’n skuinste wat al hoe steiler word. Dit word nie verniet Hartseerpas genoem nie!

Die uitsig oor die verlate vlakte van die Naukluftpark wat van horison tot horison voor jou uitgestrek lê, stem ’n mens tot rustigheid. Sowat 13 km en ses uur later bereik ons Die Putte.

My knieë protesteer so ’n bietjie, maar origens voel ek verbasend goed!

Dag twee

Ondanks ’n bra ongemaklike nag nadat duwweltjies my opblaasmatras vol gaatjies gesteek het, sien ek uit na ons volgende skof. Ubusis-hut was eers ’n vakansie-hut voordat dit in ’n oornagskuiling omskep is.

Dit bied geriewe soos kajuitbeddens met sponsmatrasse, spoeltoilette en selfs stortgeriewe met ’n gas-geiser. Maar eers moet mens daar kom, en dit lê sowat 17 km van Die Putte af.

Die roete is aanvanklik heel gemoedelik tot by Bergpos waar ons by ’n verlate windpomp vir middagete gestop het.

Omdat ons die volgende dag weer hier verby sou kom, het ons heelwat proviand in ’n leë oliedrom gestoor en dit toegepak om te keer dat bobbejane nie daarby kan uitkom nie.

Die Putte is jou eerste oornagskuiling op die roete. Behalwe vir die Ubusis-hut op dag twee, bestaan al die skuilings uit borshoogte mure met ’n dak oor.

Met aansienlik ligter rugsakke sak ons in Ubusiskloof af. Hoog bokant teen die kranse hou bobbejane ons nuuskierig dop – asof hulle iets weet wat ons nie weet nie! Daardie “iets” is toe ’n reeks van vyf ketting-klimme teen die rotswande af.

Die eerste een net so ’n gerusstellertjie, met die volgende drie wat jou angswekkend teen kranse van 25 m en meer af lei.

By Ubusis aangekom het ek probeer om my geperforeerde opblaasmatras te red, maar daar was eenvoudig net te veel gaatjies.

Marié stel voor ek vat een van die sponsmatrasse saam, en laat dit by die kantoor aan die einde. Dit het my nagrus aansienlik verbeter, ofskoon die matras, opgerol en agter my rugsak vasgemaak, aan elke liewe doringbos gehaak en geskeur het. Totdat daar ná dag agt weinig van oorgebly het.

Dag drie

Van Ubusis af is ons volgende skof die 12 km na Adlerhorst. Party mense beweer dis makliker om met kettings op te klim as om daarmee af te seil. Ek stem nie saam nie – al twee is ewe angswekkend, veral as jy met die opklim ook nog ’n logge matras agter aan jou rugsak moet piekel!

Ons kom so 13:00 se kant by ons oornagskuiling aan, met genoeg tyd om klere te was en ’n bietjie te ontspan.

Aan my lyf kan ek voel ek het ruskans nodig.

Een van vyf stelle kettings wat stappers moet gebruik om in Ubusiskloof op- en af te kom.

Dag vier

Ná koffie en ontbyt pak ons die rugsakke en begin aanstap na Tsams Ost, 17 km verder. Op pad soontoe stap ons met die droë rivierbedding langs in Sebrakloof.

In ’n stadium swenk die roete regs teen die kloof op, met uiteindelik ’n ontsagwekkende uitsig oor die vallei.

Nie lank nie, of die steil uitklim word ’n steil afklouter terug na die bodem van die vallei. Die rede vir die ompad word gou duidelik as jy onder kom en ’n entjie terugstap, tot by ’n droë waterval wat jou sprakeloos van verwondering laat.

Dag vyf

Dit begin met ’n redelik stywe klim van 200 m met Broekskeur langs tot bo, waar jy afkyk op die Tsams Ost-vallei.

Die roete vat jou verby Euphorbiakloof en Melkbosplein tot by Die Valle-oornagskuiling sowat 17 km verder.

Albei my knieë is teen dié tyd seer. My ribbes voel gekneus, my neus bloei sporadies, my stuitjie en skouers is seer. As ek kon, sou ek seker in dié stadium handdoek ingegooi het.

Daardie geleentheid het hom egter die vorige dag voorgedoen vir mense wat hul staptog op dag vier wou beëindig. Nou is daar geen genade nie – dis uithou en aanhou!Dag ses

Die roete begin redelik gelyk, voordat dit links uitswenk teen ’n steil bult met ’n rots-obstruksie voor en nog ’n ketting-klim van 25 m na benede.

’n Ent verder stop ons by ’n waterpoel en grot, wat aan iets uit ’n Steven Spielberg-fliek herinner. Die dag eindig 17 km verder by die Tofu-oornagskuiling. Benewens my lyf wat nou ernstig protesteer, lyk dit of die sool van een van my stapstewels begin loskom. Iemand het gom, en my stewels kry eerstehulp.

’n Namaqua-vyeboom klou verbete aan ’n rotswand in Arbeid Adelt-kloof, sy wortels soekend na water diep onder die grond. Stappers geniet die ruskansie.

Dag sewe

Dit begin met ’n stap al langs ’n klipperige rivierbedding in die Arbeid Adelt-kloof, tot by ’n groot rots-obstruksie wat met die hulp van ’n ketting oorgeklouter word. Nog vyf ketting-klimme lê voor op vandag se skof – die voorlaaste een ’n allemintige 28 m-val na ’n rotsbank benede as jou hande sou gly.

Vreesaanjaende oomblikke flits verby, terwyl jy jou beurt afwag en jou kans op oorlewing takseer. Dis nie soseer die klim nie, dis die wag om te klim. Marié bind toue om klimmers vir veiligheid, maar ek vertrou nie die storie nie en klim bloots.

As jy eers begin, skop die adrenalien in en gee jou die nodige krag. Ná die ketting-klimmery bevind jy jou op ’n plato genaamd World’s View, met die ongelooflikste uitsig op blou berge so ver die oog kan sien.

’n Ent verby Bakenskop is die Kapokvlakte, so genoem na die struike hier rond wat katoenagtige pluime uitstoot. Die einde is nou feitlik in sig. My knieë pyn, die skoensool begin weer loskom – en tussen ons en die eindpunt lê nog 20 km en ’n triljoen klippe.

As dit nie die opblaasmatras is wat op die eerste aand die gees gee en die stewels op dag ses nie, kry my watersak nou ’n lekkasie.

Ek het dit by die Kapok-skuiling volgemaak en op my slaapsak gesit terwyl ek in die rugsak na iets vroetel. Toe ek weer sien, is my slaapsak papnat en het die water selfs deurgesyfer na die sponsmatras.

Dag agt

Laasnag het ons ’n satelliet in die hemelruim bokant ons sien verbyvlieg. Dit was volmaan en tjankende jakkalse het tot die stemming bygedra.

Nat slaapsak en matrassie ten spyt, het ek heerlik geslaap. Soos die vorige dag begin die dag heel onskuldig met geen uitermatige klimmery nie. In die skemeroggend sien ons sebras en springbokkies.

Dan sak die roete skerp af na ’n rivierbedding ver na onder. Baksteengrootte klippe word later rotse waaroor ons moet klouter. In ’n stadium stop ons by ’n kristalhelder poel en lawe ons voete, voordat die roete ons deur ’n towerwoud lei.

Nog ’n opdraande na regs. Dis of die roete teensinnig skietgee en ons eindig waar ons agt dae gelede begin het. Die restaurant by die kantoor is oop, en ek bestel ’n welverdiende yskoue beker van Namibië se beste brousel!

Die staproete is beslis nie vir beginners, onfikses of mense met hoogtevrees nie. Maar sonder twyfel ’n staptog wat jy die res van jou lewe sal onthou!

  • Belangstellendes kan Namibia Wildlife Resorts by hul Kaapstad-kantoor bel by 021 422 3761 of e-pos by ct.bookings@nwr.com.na.
Meer oor:  Staproete
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.