Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
As tot die speke stil raak

Ewe skielik wou almal nou met hul honde gaan stap het, maar om met ons hond Tobie wat ons laasjaar by ’n diereherberg gekry het te gaan stap, is loutere hel.

Die joBerg2C-bergfietsmarathon strek deur drie provinsies: Gauteng, Vrystaat en KwaZulu-Natal. Dié foto is tydens die eerste skof vanaf Heidelberg na Frankfort geneem. Foto: Kevin Sawyer

So ek bly eerder lekker in die huis. Tobie het ’n manier om sulke hoë bokspronge te gee en homself heeltemal uit sy harnas en leiband te spring en omdat hy so ’n bietjie windhond in hom het, laat waai hy die oomblik as hy vry is. Dan moet ek draf om hom weer te vang, nog ’n aktiwiteit waaroor ek (gelukkig) nie so mal is nie.

Oor die feit dat ek nie mag fietsry nie, is almal wat my ken baie bekommerd, maar ek is oukei. Soos ’n soet, gehoorsame kind bly ek maar tjoepstil en in die huis en ek aanvaar die situasie gelate en doen my deel om ’n goeie, verantwoordelike burger te wees. Want dis die regte ding om te doen.

Vroeër die week gesels ek met Craig Wapnick, een van die eienaars en organiseerders van die jaarlikse joBerg2C bergfietsmarathon wat al die pad van Heidelberg (Gauteng) af na Scottburgh in KwaZulu-Natal strek.

In die hartjie van die berge. Tydens die vierde skof van joBerg2C strek die roete na die bekende fietsrybaken Great wall my China! Foto: Kevin Sawyer

Nes al die ander sportbyeenkomste moes die joBerg2C byeenkoms ook gekanselleer word. (Ek sou in hierdie tyd die Cape Epic, die Cradle Traverse, joBerg2C en die Merchants Change a Life-bergfietstoer gery het en al hierdie byeenkomste is die een na die ander gekanselleer. Soveel fiksheid, so min geleentheid, snik. Maar my hart gaan uit na my mederyers, maar veral ook die organiseerders wat ’n groot finansiële terugslag ervaar.)

Kort na die slegte nuus oor die joBerg2C wat gekanselleer is, het Craig-hulle wel vir ryers laat weet dat alle inskrywings vir vanjaar se marathon net so oorgedra kan word na volgende jaar toe met ’n bybetaling van R4 500 per ryer. Dit is ’n fantastiese aanbod, veral as ’n mens daaraan dink dat hierdie mense ’n jaar lank werk en beplan aan so ’n byeenkoms. Craig sê hulle gaan nou basies twee jaar lank met een jaar se inkomste moet oorleef, maar “dit was die regte ding om te doen,” was sy antwoord toe ek vra hoekom hulle besluit het om die finansiële hou te vat.

Niks soos ’n klomp kinders wat jou aanmoedig terwyl jy by die Umkomaas-vallei afry nie.Foto: Kevin Sawyer

Volgens Craig het hulle lank gekoukus watter roete hulle gaan loop, maar hulle het heel eerste aan die ryers en die voortbestaan van die byeenkoms gedink. Hulle het nou deur en deur bewys dit gaan regtig nie net oor geld nie, maar die liefde van fietsry en om ons medelandgenote te help. Almal word geraak hier, almal vat houe en dié wat die geskiedenis en agtergrond van die joBerg2C-byeenkoms ken, sal weet dat talle plattelandse skole se voortbestaan basies van hierdie byeenkoms afhang.

Ryers wag steeds in spanning om te hoor wat met hul inskryfgeld gaan gebeur vir vanjaar se Absa Cape Epic wat net meer as 12 uur voor registrasie gekanselleer is, maar die verwagting is dat hulle nie so gulhartig soos joBerg2C gaan wees nie. ’n Mens moet darem ook in ag neem dat al die tentedorpe in die verskillende dorpe reeds opgeslaan was en dat al die kos vir die byeenkoms toe al reeds aangekoop was. My vermoede is dat al vanjaar se ryers outomaties weer kan inskryf vir volgende jaar se ren, maar of ryers hul geld gaan terugkry vir vanjaar sal ’n mens maar moet sien.

Hierdie bruggie is een van vele waaroor ryers tydens die joBerg2C moet ry. Foto: Kevin Sawyer

Die Dryland-organiseerders het laat weet dat die Glacier Cradle Traverse wat in April sou plaasvind nou geskuif is na 16 tot 18 Oktober vanjaar en die Sani2C vind nou die eerste week in Desember plaas.

Intussen het ek maar vir my die Nike Training-app afgelaai en ek en my kinders gaan nou maar elke dag ons eie oefening hier in die huis doen.

Ons kyk maar hoe dit gaan. Ek gaan óf baie vet, óf baie sterk na hierdie 21 dae wees . . .

Meer oor:  Terésa Coetzee  |  Bergfiets  |  Fietsry  |  Fiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.