Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Attakwas! Hier gaan ons al weer

Ek het dit al gesê, maar ek sê dit weer: Die mooi stories wat ek al deur fietsry beleef het, is ontelbaar en die manier waarop hierdie stories my eie lewe verryk het, byna te groot om te noem.

Verlede jaar kry ons ’n e-posboodskap van ’n man wat vertel hy sit met honderde fietse vir kinders wat hy graag aan verdienstelikes wil gee.

Hy en sy vriende het saam ’n projek, Bikes for Kids, begin en geld ingesamel om fietse te koop. Sedertdien het dié ding so vlamgevat dat hulle met ’n magdom fietse sit. Net so.

Aanvanklik het ek gedink dis te goed om waar te wees, maar die oomblik toe ek Ivan Anderson in lewende lywe ontmoet en begin sien wat hy en sy vriende regtig doen, het ek besef hulle het inderdaad iets beet.

Ivan se ma is 21 jaar gelede in ’n gewapende rooftog vermoor en dit het nie net sy lewe verander nie, maar hul hele familie, wat baie na aan mekaar was, uiteen geruk.

Verlede jaar het Ivan besluit hy wil iets in sy lewe begin doen wat ’n verskil maak. Omdat hy ’n fietsryer is, was fietse half ’n natuurlike besluit, en hy weet watter verskil ’n fiets in ’n kind se lewe kan maak.

Die Attakwas Extreme word beskou as een van die moeilikste renne in die land. Foto: Oakpics

Met verlede jaar se 947 Cycle Challenge het hulle R230 000 ingesamel en met die geld honderde fietse gaan koop. Intussen het hulle kinders uitgesoek aan wie hulle die fietse gegee het.

Ivan sê die projek het sy lewe verander. Hulle kan gevolg word by Bikes for Kids op Facebook en Ivan verwelkom enig­iemand wat betrokke wil raak.

Nog een van my gunsteling-fietsrystories is hoe ek Marina Coetzee van die Barberton Classic ontmoet het.

Toe ek jare gelede die ren vir die eerste keer gaan ry het, het ek die afsnytyd misgeloop. Ek was woedend omdat hulle nie die afsnytye op die webwerf geplaas het nie. (Natuurlik moes ek maar net ’n bietjie vinniger gery het, dis maar al, maar ek het die dag stilgehou om ’n outjie wat geval het te help en ons het letterlik die afsnytyd met ’n paar minute misgeloop.)

Ek en Marina het deur dié voorval vriendinne geword en sedertdien is die Barberton Classic regtig een van my gunsteling-eendagrenne in die land.

Dis nie net die ongelooflik mooi roete nie, maar ook die vriendelikheid en gasvryheid van die mense daar wat dit regtig spesiaal maak. Boonop word die geld wat met die ren ingesamel word, net so gebruik om ’n paar ouetehuise in die dorp aan die gang te hou.

Vanjaar vind dit op 25 Januarie plaas. Dit is die enigste keer vanjaar dat ’n mens op baie spesiale private bosboupaaie kan ry.

Volgende naweek kou ek waarskynlik harde klippe wanneer ek en ’n paar vriendinne die Attakwas Extreme-ultramarathon van 121 km van Oudsthoorn na Klein Brakrivier gaan ry.

Terèsa Coetzee

Hierdie byeenkoms is bekend as die heel moeilikste eendaagse marathon in die land met ’n vertikale klim van 2 900 m oor die afstand.

Gewoonlik gebruik almal wat vir die Cape Epic (in Maart) inskryf, die Barberton-ren en die Attakwas as ’n toets om te sien waar hul fiksheidsvlak lê en dit is ’n goeie manier om jou vinnig te laat wakker skrik en te besef oefentyd is min.

Daar is min dinge soos die bloedsweet van die Attakwas wat jou van voor af motiveer om in die volgende weke vroeër op te staan en te gaan oefen.

Ek het so twee jaar gelede ’n vriend by die Attakwas gemaak: Franco Bornmann van die Kaap. Ons het destyds albei gedink ons het by die hemelpooorte aangekom teen die 180ste bult in hierdie ren.

Franco het vertel hy het stukkies van sy longe in sy mond geproe en selfs op my moegste het hy dit reggekry dat daar geluide uit my mond kom wat soos ’n lag geklink het.

Ons het vir mekaar geprewel: Wat besiel ons?

En hier gaan ons al weer . . .

Meer oor:  Beeld  |  Terèsa Coetzee  |  Bergfietsrubriek  |  Bergfiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.