Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Baviaanskloof, Brakkeduine

Blits deur die Baviaanskloof, gooi ’n draai in die Klein-Karoo, pak die passe in die Tuinroete en raak Brakkeduine baas om weer die Afrika in jou Suid-Afrika te sit, skryf Mariska Spoormaker nadat sy dit onlangs gedoen het.

Vir ’n toer deur die Baviaanskloof moet jy ’n hele paar dae opsy sit, want hier is só baie te sien. Foto’s: MARISKA SPOORMAKER

Waar is Brakkeduine?

“Wag en julle sal sien,” antwoord Cobus Barnard, die man van Volkswagen Suid-Afrika wat die Baviaanskloof-na-Brakkeduine-padtoer saamgestel het.

Agter hom staan nege Amarok V6-voertuie. Ons is 18 siele wat die reis oor vlaktes, berge en dale in hierdie vuurwaens gaan aanpak.

Die ankerpunte van dié reisplan is: Port Elizabeth, die Baviaanskloof, Oudtshoorn, Knysna, Kaap St. Francis, Brakkeduine en dan terug na Port Elizabeth.

Dit is ’n roete wat jou oor en deur uiterstes neem: snelweë en sitrusboorde, bergpasse en nou klowe, droogteverteerde veld en inheemse kuswoud, swartgebrande aarde en wuiwende grasveld, halfwoestyn en duineveld, bees en bobbejaan, gompou en geelhoutboom, koedoe, ribbok, skilpad – alles só wonderlik dat dit moeilik was om weer by die “gewone” lewe aan te pas.

Die eerste dag se roete neem ons deur die hele Baviaanskloof (ingang Patensie, uitgang by Willowmore) verby De Rust na Oudtshoorn . . . meer as 400 km.

Montagupas:Dié pas is gewoonlik ’n gesig van bos en digte plantegroei . . .

“Julle kan ook stilhou vir foto’s,” sê Cobus.

Sy toegeeflikheid oor foto’s neem verbaas my, want die Baviaanskloofpad (R102), veral oor bergpasse en in die wildernis­gebied, is ’n riller. “Ons gaan nooit in een dag deur die kloof tot op Oudtshoorn kom nie; dit gaan vir ewig duur.”

Toe nie. Ons kom só betyds op Oudtshoorn aan dat daar nog swemtyd voor aandete is. Nie omdat die Baviaanskloof nou met ’n eenvoudig fantastiese pad spog nie, maar omdat die uiterste dele meer rybaar gemaak is en die Amaroks goed vastrap. Tog bly dit ’n uit­daging om daardeur te ry – veral ná goeie reën.

My raad ná dié grootse er­varing? Gee jouself minstens ’n week, maar liefs twee weke, om alles van die Baviaanskloof-na-Brakkeduine-roete ’n onvergeetlike ervaring te maak. Pak jou kamera, sakboekie, piekniekmandjie en kampeerstoele ook in, want daar is baie plekke waar jy net sal wil sit en kyk. En kyk. Ons kon dit nie doen nie, want ons het net twee en ’n half dae gehad.

Bloukranspas: ’n Wonderwêreld van inheemse woud begroet jou wanneer jy die Bloukransrivier oorsteek.

Dag 1: Port Elizabeth-Baviaanskloof-Oudtshoorn (404 km) 

Uit Port Elizabeth ry ons met die N2 en neem die afdraai na Hankey (R331) na die oostelike ingang van die Baviaanskloof. Al gou op regterkant lê die Bergrivier Eco Retreat – ’n vakansieplaas met sy diep bergpoele en net die plek vir voëlkykers, bergklimmers, voetslaners en fietsryers. Hier kan jy selfs in ’n ossewa oornag.

Die pad loop verder verby die dorpie Loerie en ná die afdraai na Loerie se NG kerk – wat elke jaar die Nartjiefees aanbied – sê ’n padbord “Bedank ’n boer en sy werkers”. Dit is hoofsaaklik sitrus- en groentewêreld, maar jy kry nog groot dele ongerepte natuur waar die euforbia regop toring oor die inheemse bos.

Anderkant die afdraai na die Koekepan-padstal en die Loerie-ruskamp sê nog ’n padbord: “Local is lekker.”

Ja, dis lekker, hierdie roete in die Gamtoosvallei wat deur Loerie, Hankey en Patensie, verby die Tolbos-deli-en-bistro, gastehuise, die Padlangs-restaurant, tentekamp, selfsorgkothuise, kampeerterreine, groentelande en sitrusboorde na die Baviaanskloof lei.

Knysnameer:Speelplek van booteienaars, swemmers en visvangers.

Wees later aan die linkerkant op die uitkyk vir die bordjie wat die afdraai na die Kougadam aandui as jy wil sien hoe lyk die dam wat in 1967 gebou is om besproeiingswater aan die boere tot by die Gamtoosmond, asook water aan Port Elizabeth, te voorsien. Dis sowat 7 km van die R331 na die dam. Van die dam af moet jy terugry na die R331 om by die Baviaanskloof-toegangshek uit te kom. Geen honde word toegelaat nie.

Hier betree jy ’n mensverlate wêreld maar ’n natuurparadys waar jy onder meer die bosbok, buffel, koedoe, bergribbok, rooihartebees, grysbok, bergkwagga, duiker en bobbejaan sal vind. Ses van Suid-Afrika se sewe biome kom hier voor: fynbos, bos, grasveld, sukkulente Karoo, subtropiese ruigtes en savanna. Meer as 1 000 plantspesies kom hier voor – ook die erika- en proteafamilie en oeroue broodboomspesies.

Jy kan ook inderdaad jou oë opslaan na die berge, naamlik die Kouga- en Baviaanskloof­berge wat waak oor die kloof. Vir iemand soos ek met hoogtevrees, is dit klou en uithou (as passasier) deur die haarnaaldboë van die Combrinks-, Holgat-, en Grasnekpas, maar ’n mens kan nie anders as om jou oë op steeltjies te hou vir die ongerepte natuurprag nie.

Onthou, geen sedanmotor sal van Patensie se kant deur die Baviaanskloof se wildernisgebied kan kom nie – en die bestuurder van die viertrekvoertuig moet wéét wat hy of sy doen, dié dat ek liefs passasier gebly het.

Brakkeduine: Blaas die bande af vir duine-ry.

Van Willowmore se kant af kan besoekers wel met ’n sedanmotor die 70 km se boerdery- en gasteplaasdeel van die Baviaanskloof binnery.

Ons hou middagete-piekniek by Geelhoutbos, koop roomys by die Bavijaans-padstal, ry via die Nuwekloofpas uit die Baviaanskloofgebied, draai links by die Uniondale-bord en later weer regs by die Oudtshoorn-Willowmore-bord en steek deur na die N9 om later op die R341 na De Rust af te draai. Meiringspoort lê op De Rust se voorstoep, maar die tyd is te min. Ons neem die N12 verder na Oudtshoorn.

Die aand, met die opskep tydens die buffet-ete in die Protea Hotel Riempie Estate, vertel ’n stralende Sweedse toeris hoe sy uitsien na haar hoeveelste besoek aan die Baviaanskloof – én die Addo-olifantpark. “Julle in Suid-Afrika is geseënd met hierdie natuur­- skatte . . . soveel verskeidenheid.”

Van die mense in ons groep wat die eerste keer die Baviaanskloof beleef, stem saam en sê hulle sou graag baie meer tyd wou gehad het om hierdie paradys behoorlik in te drink, daarom gaan hulle eendag terugkom.

Maar van watter kant ook al (weste: Willowmore-Uniondale; ooste: Hankey-Patensie) jy die Baviaanskloof aanpak, doen dit net. Dit is ’n wonderwêreld vol natuur en avontuur.

Nuwe lewe: Ongeag die amperse maanlandskap wat ’n verwoestende brand kan bring, is daar gou weer nuwe lewe in die natuur te bespeur.

Dag 2: Oudtshoorn-Knysna-Kaap-St. Francis (434 km) 

Met Oudtshoorn as basis kan besoekers ’n fees van kultuur, natuur en avontuur op die dorp en in die omliggende gebiede beleef – onder meer die Kangogrotte, Die Hel, volstruisplase, begeleide erfenisstaproetes, die C.P. Nel-mu­seumkompleks en die Gamka- en Swartberg-natuurreservaat. Maar die reisplan sê ons moet Knysna toe.

Ons ry deur Dysselsdorp en verder suid op die Paardepoortpas om te kom by die Montagupas, wat oor die Outeniekwaberge loop en by George uitkom.

Dit is ’n pas omsoom met bos en digte plantegroei, panoramiese uitsigte en groen klowe, maar dié keer ry ons deur ’n swart, kaalgebrande landskap.

’n Somberte omvou ons, maar dan sien ons hoe die een varing ná die ander met groen, krom ruggies uit die swartgebrande aarde opstaan. By die Ou Tolhuis, wat byna heeltemal verwoes is in die Oktober-brande, staan die meeste varings se rûens al regop. Soos fenikse uit die as.

Dis opvallend hoeveel mense hier stilhou om te kyk na die uitgebrande murasie van die historiese gebou wat tydens die bou van die Montagupas (1844 tot 1847) opgerig is.

Baviaanskloof: Hierdie geweste is dalk ’n mensverlate wêreld, maar ’n natuurparadys.

Hier verdryf die reuk van koffie en pannekoek die somberte van die brandskade. Dit is die Vriende van die Tolhuis wat die ketel aan die kook en pan aan die bak hou vir besoekers. Hiermee samel hulle geld in om die gebou te restoureer.

By George neem ons die beroemde Sewepassepad. Dit was voor die bou van die N2 die hoofpad tussen George en Knysna. Dit sluit inderdaad sewe passe in – die Kaaimansrivier-, Silwerrivier- en Touwrivierpas, en dan die Hooge­kraal-, Karatara-, Homtini- en Phantompas.

Dis ’n natuurryke roete wat die reisiger deur die Outeniekwa­berge oor riviere en verby inheemse woud neem en deur ravyne kronkel.

Die volgende stopplek is Knysna, waar die John Benn-restaurantboot vir ons wag. Ons vaar oor middagete uit na die Knysna-koppe. Seilbote maak wit spikkels op die groot Knysnameer. Kinders swem, grootmense vang vis en ander roei daar rond.

By Rheenendal, sowat 15 km buite Knysna, kan jy die gedenksteen van Dalene Matthee, skrywer van al die beroemde Bos-boeke, op Krisjan-se-Nek gaan besoek. Twee staproetes, naamlik die Kringe in ’n Bos-staproetes (3 km en 9 km), neem jou na die hart van die inheemse woud tussen geelhout en reusevaring.

Montagupas: Die murasie van die Ou Tolhuis wat in Oktober verlede jaar so te sê verwoes is.

Ongelukkig laat ons reisplan nie ’n Dalene Matthee-besoek toe nie. Ons draai dus af na Ou Kaapse Weg, wat ons uit Knysna na die Gounapad neem – dit sluit later aan by die suidelike gedeelte van die Prins Alfredpas, ook ’n meesterwerk deur die padbouer Thomas Baines wat in 1867 voltooi is.

Hierdie 88 km lange pas – een van die mooistes in Suid-Afrika – verdien van begin tot einde ’n hele dag se verkenning. Dié keer is dit ons nie beskore nie, want ons reisplan sê suidoos, rigting Kaap St. Francis in die Oos-Kaap.

Maar voordat ons by Kaap St. Francis uitgekom het, het ons nog twee passe gery – die Grootrivierpas, wat op die R102 uit die N2 uitdraai en jou deur Nature’s Valley oor die Grootrivier tot anderkant oor die N2-snelweg neem, waar dit dan uitloop in die Bloukranspas, kronkelend langs en oor die Bloukransrivier.

Jy ry ’n wonderwêreld van inheemse woud binne, maar ry baie versigtig nadat jy die Bloukransrivier oorgesteek het, want in die Oos-Kaap word die pas feitlik geensins in stand gehou nie. Rots- en modderstortings en/of bome wat omgeval het, het van dié gedeelte hoofsaaklik ’n enkelbaan gemaak.

Selfs by die eindpunt van die pas aan die Oos-Kaapse kant, is ’n grondwal gestoot en ’n bord wat sê “Road Closed”. Ons ry elke keer om dit, en baie ander motoriste ook – so wees op die uitkyk vir verkeer van voor!

Van hier ry ons reguit na die N2 en neem dit ooswaarts na Kaap St. Francis, waar ons in die Cape St. Francis Resort tuisgaan en ’n voortreflike aandete by die Joe Fish-restaurant geniet.

Wéér die vraag: Waar is Brakkeduine?

Cobus glimlag. “Naby Oesterbaai. Ons gaan ’n bietjie speel in die duine.”

Brakkeduine: Kom foefieslaaid by die Brakkeduine-kampeerterrein, sowat 47 km vanaf Kaap St. Francis, verby Oesterbaai.

Dag 3: Kaap St. Francis-Brakke­duine-Jeffreysbaai-Port Elizabeth (182 km)

Dit is sowat 47 km vanaf Kaap St. Francis, verby Oesterbaai, na die Brakkeduine-kampeerterrein en die duine-4x4-roete.

Terwyl al die bande afgeblaas word vir die duine-ry, kyk ek hoe ’n pa en sy kinders jillend by die waterglybaan afgly en met ’n groot plons in die groot Klipdriftdam eindig. Jinne, daar is ’n foefieslaaid ook! Die kampeer­terrein is lekker boomryk.

Dít is dan nou die Brakkeduine waarvan ons nie geweet het nie – ’n weggesteekte natuur­juweel waar mense met staalborshare kan 4x4 oor die 14 km-sirkelduineroete.

Ek sê staalborshare, want jy moet kan kophou oor steiltes wat voor- of agterwiel hoog in die lug hou en sand wat oral spat terwyl jy op die vasgestelde roete moet bly. (Laasgenoemde is ’n streng voorwaarde. Alle 4x4-duinetoere is onder begeleiding.)

Vir iemand soos ek sal die watersport en boeklees onder die bome beter werk. Ek het darem so twee of drie rondtes as passasier saamgery. Dae daarna het ek nog sand tussen my tande uit gevlos, maar ja, vir die ernstige viertrek­entoesias bied Brakkeduine ’n uitdaging van graad 3 tot 5.

Ná die opwindende oggend by Brakkeduine ry ons 47 km ooswaarts na Jeffreysbaai vir middagete by Die Walskipper-strandrestaurant met sy lieflike uitsig oor die see. Die seekos is salig, maar almal hou op eet toe ’n walvis hom sommer digby blinklyf uit die water gooi en in ’n skuimboog terugplons.

Dít glo ek was die uitroepteken aan die einde van ’n onvergeetlike padtoer deur uiterste landskappe. Inderdaad is ons, soos die Sweedse toeris gesê het, geseënd om in Suid-Afrika te kan woon.

  • Spoormaker, ’n vryskutjoernalis van Port Elizabeth, was ’n gas van VWSA se Amarok Driving Experience – Baviaanskloof na Brakkeduine.
  • www.baviaans.net; www.baviaans.co.za; www.mountainpassessouthafrica.co.za; www.oudtshoorn.com; www.dalenematthee.co.za; www.nightjartravel.com; www.sa­venues.com; www.walskipper.co.za.

Meer oor:  Tuinroete  |  Baviaanskloof  |  Reis
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.