
Inperking blus nie lesers se kreatiwiteit nie. ’n Sterrenag in die Kgalagadi van Dirk Boshoff van Bellville, Kaapstad, was Desember se beste foto. In die tweede plek is Trudie Grobler van Centurion se arend in Etosha en in die derde plek Hannes van Zyl van Waverley se swaelstertbyvreters in die Rooiberg-omgewing. Boshoff sê oor sy foto laataand het ’n leeumannetjie sowat 30 m van hul tent gelê. “Sporadies, so elke 30 tot 40 minute, brul hy diep uit sy keel om sy koningskap te kenne te gee. Dit vibreer deur ons tent en kry staanplek in ons hart. Die sterre kyk neer oor die dorre aardse kors van die Kgalagadi terwyl die aarde ongesiens draai om sy as en ’n sterrebeeld skep wat net met ’n video of kamera vasgevang kan word.” Boshoff sê hy het die foto op 10 Oktober 2020 van 19:18 tot 11 Oktober om 00:25 geneem terwyl jakkalse, uile en die leeumannetjie die nagkoor oorgeneem het.