Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
‘Beloon’ met reën en mis in pragtige Orangekloof

Skrale kans op reën in die oggend, klaar later op, beweer die weervoorspeller. Gmf! Psalm 146 waarsku jou hoeka om nie op prinse te vertrou nie. Het Jannie van Rensburg maar daarop peil getrek.

Gorillas in die mis – of stappers in die reën? Foto’s: JANNIE VAN RENSBURG

Die plan was om Orangekloof te stap/klim. Dis aan die agterkant van Tafelberg, tussen Houtbaai en Constantianek. Slegs 12 mense word per dag in dié stukkie ongerepte natuurskoon toegelaat, en daarvoor het jy ’n permit van die Tafelberg Nasionale Park nodig.

Parkeer op Constantianek, en volg die teerpad na links verby ’n valhek en ’n kennisgewing wat aandui dat jy nou Orangekloof, wat beperkte toegang verleen, betree.

Kort voor lank vurk die pad. Volg die een na regs, wat later ’n grondpad word en jou steeds geleidelik berg-op neem.

Voor jou troon die agterkant van die Gewelberge (Twelve Apostles vir die Engelse), links sien jy Houtbaai met Klein Leeukop, Karbonkelberg en die Sentinel wat oor die hawe troon.

Die skilderagtige Orangekloof. Milde laat winterreëns het hierdie stukkie natuurskoon agter Tafelberg tydelik onbegaanbaar gemaak.

Ons wou in Orangekloof langs Disaspruit stap tot bo by Hell’s Gate. Weerskante is digbegroeide kranse vol boomvarings en ’n verskeidenheid van inheemse bome, met die spruit wat ’n opeenvolging van watervalle en poele is.

Die dag toe ons wou stap, was Disaspruit egter ná die milde laat winterreëns ’n rivier in vloed. Ons besluit toe dit is te gevaarlik, en kies ’n kloof verder af na Houtbaai se kant – Intake – as alternatief. Dit is steeds in die Orangekloof-reservaat en lê net links van Frustrasie-ravyn.

Laasgenoemde kry sy naam van twee klimmers in die 1930’s wat amper tot bo gevorder het, net om voor ’n yslike rots te kom wat hul pad versper. Hulle het linksom en regsom probeer verbykom, en moes uiteindelik gefrustreerd omdraai.

Dis nie duidelik waar Intake sy naam kry nie. Dalk het dit iets te doen met die waterpypleiding uit Orangekloof. Daar is nie minder nie as vyf opgaardamme agter Tafelberg: Woodhead, Hutchinson, Victoria, Alexandra en De Villiers. Die pypleiding vloei met die 1 300 m lange Apostel-tonnel deur die berg. Vanaf die Wood-bergkaap vloei dit na die watersuiweringsaanleg naby Kloofnek, en vandaar na die Molteno-reservoir.

Die kleurryke Protea speciosa word sover bekend net in die omgewing van Orangekloof en teen die hange van Duiwelspiek aangetref.

Intake-kloof is dig begroei en daar is nie ’n duidelik gemerkte paadjie nie. Slegs ’n klipstapel hier en daar wat wys jy is nog op die regte pad.

Die kloof vat jou 504 m op tot agter die Gewelberge.

Driekwartpad op en steeds onder boombeskutting neem ons ’n blaaskans. Toe stuif ’n fyn reëntjie neer. Terwyl ons wonder of ons nie maar moet omdraai nie, hou die reën op en dit lyk of die son sy kop tussen die wolke wil uitsteek. Ons besluit om aan te stap. Skaars onder die ruigte uit, of dit reën weer.

’n Mens kon jou kwalik ’n meer mistroostige klompie stappers voorstel met die bokant van Intake-ravyn wat net nie nader wou kom nie en die reën wat ál harder uitsak. Klipstapels wat hier en daar die pad aandui, was by tye nie sigbaar nie.

Uiteindelik bo, het ons met die Gewelberge-paadjie langs teruggestap in die rigting van Tafelberg. By Slangolie-ravyn het ons regs geswenk en ’n paadjie gevolg na die bokant van Orangekloof. Die dag se roete was sowat 19 km, en het omtrent sewe uur geneem. As bonus vir ons moeite, merk ons ’n sonderlinge blom teen die hange van Klassenkop.

Die Protea speciosa word sover bekend net in die omgewing van Orangekloof en teen die hange van Duiwelspiek aangetref.

Meer oor:  Orangekloof  |  Buite  |  Vakansie  |  Reis  |  Reën
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.