Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Bergfiets kraai koning by Steyn City
Die bergfietsroetes van Steyn City is elke fietsryer se droom.

By die imposante ingang van die Steyn City-leefstyllandgoed noord van Fourways groet die wag vriendelik, maar moenie dink jy gaan die poorte binne sonder ’n afspraak as jy nie ’n inwoner is nie. Hier kom veiligheid altyd eerste, selfs wanneer jy tyd in die buitelug op jou fiets deurbring. Terésa Coetzee vertel meer. 

Sport en die liefde vir die buitelug is die een ding wat feitlik alle Suid-Afrikaners gemeen het, maar mense is deesdae al hoe meer bekommerd oor en bewus van hul veiligheid wanneer hulle oefen.

Fietsryers is blootgestel aan onbedagsame motoriste wanneer hulle op die pad ry en ons hoor dikwels van drawwers en stappers wat op hul oefenroetes aangeval word.

Dit is van die talle redes waarom die luukse landgoed Steyn City so gewild is.

Destyds, toe die ontwikkeling net begin het, is gesê daar is nie nog ’n landgoed op die vasteland wat volgens grootte en infrastruktuur met Steyn City kan meeding nie.

Vir die inwoners bied Steyn City die Suid-Afrikaanse droom: ’n pragtige groen omgewing met ’n kleindorpie-atmosfeer en gemeenskapsgevoel, moderne huise van hoë gehalte en wêreldklas-geriewe in ’n baie veilige omgewing.

Intussen is skole ook hier opgerig.

’n Lugfoto van Steyn City.
Hardlopers kan ook hier hul fiks­heid in ’n veilige omgewing verbe­ter.

Steyn City spog met ’n pragtige Nicklaus Design-gholfbaan met 18 putjies en bergfietsroetes waar jy kilometers ver aaneen jou fiksheid en jou vaardighede kan verbeter. Hier is talle bergfietspaadjies wat spesiaal uitgelê en gebou is om jou ure aaneen besig te hou.

Deelnemers aan die 947 Ride Joburg-bergfietsbyeenkoms (die bergfiets-weergawe van die gewilde 947 Ride Joburg-padren) sal onthou dat Steyn City verlede jaar die beginpunt van die ren was.

Deelnemers was in vervoering oor die terrein op die landgoed: skerp draaie, op- en afdraandes, spesiale bruggies en selfs ’n deel langs die rivier waar jy soms mooi tussen die boomwortels en takke moet koördineer.

Steyn City grens aan die bekende bergfietspark Northern Farm, wat beteken dat jy letterlik kilometers aaneen grondpad en enkelspoorpaadjies kan ry sonder om die teer te tref.

Daar word glo gesê ’n kind wat in Steyn City grootword, kan van sy geboorteuur tot die dag dat hy of sy universiteit toe gaan, in dié eksklusiewe “stad” bly sonder om ooit nodig te hê om buite die veiligheidsmuur van 20 km te gaan.

Kinders kan in die private skool tot matriek skoolgaan, daar is enorme speelgebiede, klimtoerusting, ’n skaatsplankpark, groot damme vir hengel, sandputte, springmatte, ’n fossielpark, swembaddens, vlugbalgeriewe en natuurlik die gholfbaan.

Jy kan selfs jou kinders met ’n GPS-volg-app volg.

Vir volwasse inwoners is daar ’n spa, gimnasium, deli, groengordels en parke oor 404 ha, ’n superluukse klubhuis met ’n dak vol plante, inspirerende kunswerke oral op die landgoed deur die kunstenaar Charles Gotthard en buitelug-gimnasiums.

By die klubhuis kan jy aansit vir gourmet-etes.

Steyn City het ook sy eie waterreservoir.

Boonop is hier ook ’n perdrysentrum.

Steyn City het verlede jaar die gewilde 947-bergfietsbyeenkoms gehuis­ves.

Steyn City se internettoegang hoef ook vir niks terug te staan nie. Oral is daar WiFi-kolle (hotspots) en daar is ook ’n gemeenskapsweb-app. Daar is ’n breëband-MSAN (multi-services access network) en onbeperkte optiesevesel-data.

By Steyn City bestee die ontwikkelaars ’n verdere R5,5 miljard aan ’n nuwe vlagskipontwikkeling met twee ongewone trekpleisters: ’n reusestrandmeer en ’n helihawe.

“Ons sit alles in en Steyn City is die enigste landgoed in die land waar jy voortaan in jou helikopter kan spring en al die verkeersknope vryspring,” sê die eiendomsgroep Plumari.

Die nuwe City Centre-ontwikkeling, die juweel in Steyn City se kroon, gaan meer as 700 luukse wooneenhede en 11 dakwoonstelle hê. Die eerste fase van die ontwikkeling nader voltooiing en 220 eenhede gaan binnekort aan die mark bekend gestel word.

Al die eenhede het regstreeks toegang tot die strandmeer met ’n lengte van 300 m.

Kevin Gast, uitvoerende hoof van Gast Clearwater, wat die strandmeer ontwerp het en dit bou, sê residensiële strandmere is ’n taamlik nuwe konsep in Suid-Afrika, maar wêreldwyd hoogs aanloklik in ontwikkelings.

Hy sê die watersuiweringsproses wat gebruik word om die kristalhelder water te verseker, gebruik geen chemikalieë nie.

Die strandmeer het ook ’n waterpark, strande, vlugbalbane en ’n kiosk.

  • Die helihawe het ’n unieke laaiplatform, wat beteken meer as een helikopter kan gelyktydig opstyg.
Meer oor:  Fourways  |  Bergfiets
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.