Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Bewaar dié kampgeheim

Sjuut! Moet niemand vertel nie. Sy het een van die bes bewaarde geheime van kampeerplekke, Kagga Kamma, ontdek, skryf Lise Beyers.

Kom kampeer in die Kagga Kamma- private natuurreservaat. Foto’s: LISE BEYERS

Praat mens van die Kagga Kamma- private natuurreservaat in die Skurweberg- gedeelte van die Cederberge en op die randjie van die Tankwa-Karoo, dan skram baie mense weg. Die rede is die huidige moeilike ekonomiese omstandighede, want hulle dink dat jy behoorlik die beurs sal moet leegskud om ’n kuiertjie hier af te lê.

Min weet egter dat daar ’n juweel van ’n kampeerterrein hier versteek lê.

’n Besoek aan Kagga Kamma begin reeds met die lekker road trip soontoe wat loop oor pragtige bergpasse. Indien jy van sulke reistogte hou, dan moet jy vanaf die Kaap verkieslik jou reis aanpak oor die Bainskloofpas en dan deur die Michellspas na Ceres.

By Ceres draai jy weg na Prince Alfred Hamlet en ry dan oor die Gydopas tot letterlik bo-op die berg. By die dorpie hierna vernoem, draai jy regs af verby die Cederberg-vrugteplase en dan land jy midde-in die pragtige Koue Bokkeveld-geweste.

Skielik voor jou lê die asemrowende Katbakkiespas, wat dank vader geteer is, want ek dink nie dat my Daihatsu Terios wat slegs 4x2-aangedryf is, die steil tog op gruis sou kon baasraak nie. Aan die bopunt moet jy eenvoudig bene rek om die pragtige uitsig te bewonder.

Bietjie verder gery, kry jy die afdraai na Kagga Kamma met sy dramatiese rotsformasies wat soos antieke Romeinse tempels pronk.

Kuier-kuier so tussen die rotsformasies wat uniek aan die Cederberge is.

Die natuurreservaat bied ’n unieke verskeidenheid van akkommodasie en natuurliefhebbers kry die geleentheid om skouspelagtige natuurskoon, dramatiese rotsformasies, ryk kultuurerfenis, ou rotskunsterreine, fassinerende inheemse fauna en flora en fenomenale nagruimtes te ervaar.

Maar ek en my twee vriende verkies die sakpas kampeerterrein.

Die kampeerterrein lê weg van die ontvangs- en restaurantarea en is baie slim uitgelê rondom een van Kagga Kamma se skouspelagtige rotsformasies.

Daar is net vyf staanplekke hier, en afhangende van hoeveel mense en tente in jul geselskap is, verskil die grootte van die staanplek.

In die hartjie van die rotsformasie is ’n yslike en baie ysige swembad, kristalhelder en perfek vir die warm somersdae. Hier kan ’n mens sien dat dit eens ’n Khoi-San-vesting moes gewees het, met sy vele oorhange en inhamme wat versier is met oeroue rotskuns.

Ons staanplek is gerieflik geleë tussen die rotse en ’n hanetree van die swembad en badkamers.

Aan die verste punt van die rots is ’n klein staanplek knus in ’n grot, versteek van die buitewêreld en perfek vir ’n romantiese naweek in die ongeskonde natuur.

Kagga Kamma se kampeerterrein is immers vir die gesoute kampeerder wat wil wegkom van die gejaag en geraas. Jy sien of hoor bitter min jou bure. Daar is geen kragpunte nie, so snags is dit stikdonker en doodstil.

Die ontvangsarea is darem net 2 km weg as jy moet gaan ys koop om jou vleis en drankies koel te hou. Daar is ook basiese proviand.

Hier wil jy mos nou wakker word en die son sien onder gaan.

Kampeerders kan deel in Kagga Kamma se vele buitelug-aktiwiteite soos 4x4-roetes, staproetes, wildbesigtigingsritte, rotsklim, motorfiets-ekskursies en nog meer.

Maar die groot wenner hier is die stilte en die ongerepte natuurprag waarin jy ’n paar dae se rus en vrede kan beleef, dae wat vir jou sal laat voel asof jy sommer ’n weke lange vakansie gehad het.

Kagga Kamma was alles waarvoor ons gehoop het – nee, dit was meer. Die uitsigte alleen is wonderlik – ons was so hoog dat ons ooghoogte was met die boonste punte van die Cederberg se gebergtes!

En met ’n swaar hart pak ons weer op en vat die pad terug Paarl toe. Maar hierdie keer draai ons Tankwa-Karoo se kant toe af en daal van ver bo see­spieël teen die Gannagapas af. Dan sluit die pad aan by die Tankwapad tussen Ceres en Calvinia.

’n Kilometer of wat in Calvinia se rigting moet daar eers gestop word by die Tankwa-padstal vir ’n lekker roosterkoek-ontbyt en ietsie koop in sy negosiewinkel.

Wanneer jy jouself uiteindelik hier wegruk, lê die Tankwapad Ceres toe voor, die pad wat berug is as motorband-verslinder. Maar ry binne perke en jy gaan nie probleme hê nie.

Kagga Kamma, aan die einde van die lekker road trip, is die perfekte bestemming vir ’n onvergeetlike natuurvakansie. Maar sjuut, hou dit ons geheim!

Meer oor:  Toerisme  |  Buite  |  Kampeer  |  Doendinge  |  Kamp
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.