Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Bloos soos ’n roos

Wat het Wellington, die Bo-Kaap, Stellenbosch en Montagu met mekaar gemeen? Rose natuurlik, skryf Ilse Zietsman.

Rose is al vir eeue en eeue met ons. Daar word geglo dat rose reeds in 2 000 v.C. in Irak voorgekom het en in China is rose al vanaf 500 v.C. gekweek. Onder die Romeinse keisers was dit die gebruik om swembaddens en fonteine met rooswater te vul. Hulle het ook tydens feeste hulself op derduisende roosblare sitgemaak.

Ook in die Kompanjiestuin in Kaapstad is rose glo knap nadat Jan van Riebeeck hier aangekom het, geplant.

Hier is ’n paar plekke waar jy die roos net meer kan waardeer:

Orals waar jy kyk, is daar rose op die Langkloof-roosplaas in Wellington.

Langkloof-roosplaas, Wellington

By die Langkloof-roosplaas langs die Slangrivierpad net buite Wellington verwelkom statige ganse jou wat hul kanse verspeel om te sis en blaas; hulle waggel net stadig nader en bekyk jou langnek op en af. Weerhou jouself van die versoeking om die ou koperklok in sy klipboog te lui en gaan eerder die koel kapelletjie binne. Bokant die solderdeur staan dat die gebou uit 1854 dateer.

Die Langkloof-roosplaas strooi letterlik en figuurlik rose op die pad van hul besoekers. Voor in die atmos­feriese kapelletjie is ’n loodglasvenster besaai met pienk rose.

In die koffiewinkel is emaljekomme waaruit rose van alle kleure druip, asook nóg roosloodglasvensters.

Op hul webwerf getuig die mense van Langkloof dat hul besigheid – en hul harte – vir God, hul medemense en gesondheid oop is.

By Langkloof kan jy troues en funksies hou, rose pluk en koek en tee of gegeurde limonade by die koffiewinkel geniet.

By Au’ de Hex (of Au d’Hex) buite Wellington kan jy op rusbankie in die tuin tussen die rose sit.

Au d’Hex-landgoed, Wellington

Op pad terug van Langkloof lei ’n spontane indraai tot die ontdekking van ’n juweelbestemming wat toe óók ’n tuin met rose insluit.

Die Au D’Hex-landgoed lê, soos Langkloof, aan die buitewyke van Wellington (Hexbergweg 245). Op dié pragtige landgoed is nie net ’n trouvenue met ’n herehuis waar gaste kan oorbly nie; daar is ook ’n dam met ’n houtdek wat oor die water uitkyk, The G-restaurant (kyk op hul Facebook-bladsy, Kitchen at Au d’Hex; daagliks oop van Woensdae tot Saterdae sowel as Woensdagaande) met innoverende dekor wat ’n liginstallasie en swart-wit muurskildery insluit, en ’n wynproelokaal. Daar is ook ’n tuin met roosbome waar jy op fluweelrusbanke buite in die skadu kan sit en die plattelandse lug kan inadem.

Abbey Rose doen al sowat 20 jaar lank sake in Greyton.

Abbey Rose-restaurant en -kapel, Greyton

Soos wat jy by die dorpie Greyton inry, sien jy sommer dadelik die naambord van Abbey Rose met twee bloedrooi roosknoppe wat lyk of hulle mekaar in die oë staar. As jy voor die Abbey Rose-restaurant in die hoofstraat van Greyton staan, verklap niks dat dié bestemming ’n roos sónder enige dorings is nie.

By die ingang staan wel ’n fiets met ’n mandjie blomme, maar dis eers as jy deur die restaurant self gestap het en in die lushof van ’n tuin daaragter ronddwaal, dat jy voel of jy jou skoene wil uitskop en nét hier bly.

Aan die agterkant van die tuin is ’n kerkie wat vir troues gehuur kan word. Die kerkie spog met ’n gebuigde loodglasvenster waarop fyn groen blaartjies en bloedrooi rose rank. Die res van die kerkie is knus ingerig met kelims, kerse, skilderye, dennebolle in ’n glaspot en kruise teen die muur.

By die Abbey Rose-restaurant smul jy aan lynvis, Maleise lamskerrie, calamari, lamskenkels, wildsvleispastei en ribbetjies.

Rose Corner Café, Bo-Kaap

Rose Corner Café op die hoek van Waal- en Rosestraat is nog ’n regte buurtkafee. Met verloop van tyd het die meeste buurtkafees, waar jy ook al gaan, verdwyn, maar Rose Corner Café doen nog flink sake.

Die voor- en syaansig van Rose Corner Café is knaloranje geverf en die speelse handgeverfde advertensies nooi jou om ’n selfie te neem. ’n Langoorhaas wat paaseiers goël, maak jou lus vir sjokolade; koeksisters en saffraan word neffens mekaar geadverteer, en ’n vrouefiguur met ’n tulband en puntskoene kniel terwyl sy ’n kolwyntjie in een hand vashou.

’n Omie drentel in vir ’n vars brood, twee tieners kom vra ’n samoesa elk, en ’n kopdoektannie maak sulke lang geselsies met ieder en elk dat dit lyk of sy skoon vergeet het wat sy kom koop het.

Moenie Rose Corner Café aandoen sonder om met ’n botteltjie of drie blatjang – veral tamaryn en dhania (koljander) – en rooswierook uit te loop nie.

Oude Nektar-tuin, Stellenbosch

As jou ma of ouma lief is vir tuinmaak, kan jy maar op haar boekrak gaan loer – jy gaan seer sekerlik ’n boek van die tuinboukundige Una van der Spuy daar iewers aantref.

Die uitgestrekte tuin op die Oude Nektar-landgoed in Jonkershoek, Stellenbosch, is die skepping van Una van der Spuy, wat vir meer as 70 jaar hier gewoel en -werskaf het. Hiermee is sy onder andere deur Italiaanse krygsgevangenes van die Tweede Wêreldoorlog gehelp.

Die tuin bestaan uit verskeie dele, waaronder ’n ronde roostuin met paadjies wat na die middel lei. Vanuit die roostuin het jy ’n lieflike blik op die Kaaps-Hollandse herehuis en die berge daaragter. Op pad na die roostuin stap jy met ’n kronkelpaadjie verby ’n dam waarin waterlelies groei.

Die Oude Nektar-tuin is weeksdae oop vir die publiek. Toegang kos R50. Voorafbespreking is noodsaaklik vir groepe besoekers.

The Rambling Rose in Montagu is ’n restaurant, deli en geskenkwinkel in een.

The Rambling Rose Country Kitchen & Deli, Montagu

As jy by The Rambling Rose in Langstraat in Montagu aankom, sal jy vergewe word as jy probeer onthou watter presiese woorde Shakespeare vir Juliet in die mond gelê het. Iets wat klink soos “al noem jy ’n roos nie ’n roos nie, sal dit steeds net so soet ruik”.

Op die stoep van The Rambling Rose groei malvas, nie rose nie. Langs die malvas staan ’n houtwa met allemintige wiele.

Buite lees ’n mens dat ontbyt en ligte middagetes heeldag hier voorgesit word, dat jy goeie koffie kan verwag en dat die bier yskoud is.

Stap jy egter na binne, kom jy agter dat ’n uitgebreide spyskaart – van Portugese peri-peri-hoender tot kasjoeneutkerrie – op jou wag, sowel as ’n propvol deli en geskenkwinkel.

Meer oor:  Wellington  |  Bo-Kaap  |  Roos
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.