Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Bosmeisie veg vir groot katte

Wanneer die Suid-Afrikaner Lana Müller in die nag saam met Maasai-krygers deur ’n bos met honger leeus in Kenia kruip, is sy nie net ’n roofdiernavorser nie. Gemeenskapontwikkeling en werkskepping is deel van haar missie in Afrika, skryf Eben Human.

Die navorser Lana Müller naby die Tsavo-wildtuin in Kenia waar roofdier-navorsers ’n bydrae tot die Maasai se leefwyse maak. Daar is ’n vergoedingstelsel vir skade ná leeus van hul vee gevang het en nuwe werksgeleenthede word ook geskep. Foto: David Kashir

Die afgelope vier jaar was Lana Müller besig met luiperdnavorsing in die Cederberge terwyl sy vir die Cape Leopard Trust gewerk het. Soos met haar vorige leeu-navorsing in Kameroen en daarna ook by die Maasai in Kenia, was haar fokus aanvanklik op die konflik tussen roofdiere en die mens.

Oor die hele wêreld heen word oplossings vir hierdie soort konflik gesoek. Oral is die storie basies dieselfde: Die mens brei sy landbou, veeboerdery of ander ekonomiese bedrywighede uit, vernietig of neem meer van die natuurlike habitat van die roofdiere in en dan is daar konflik.

Om ’n veeboer te wees in ’n omgewing wat jy met leeus, luiperds, hiënas, olifante en ander gevaarlike diere deel, is ’n groot uitdaging. Die kennis van ’n roofdiernavorser soos Müller is maar net die beginpunt van ’n baie meer omvattende program van gemeenskapsontwikkeling.

Müller is ’n enkelkind wat grootgeword het oor die hele Suid-Afrika voor sy in 2003 by die Hoërskool D.F. Malan in Bellville gematrikuleer het. Haar ouers boer tans op hul familieplaas in die Sutherland-distrik.

Müller by ’n maanhaarleeu met ’n nekband waarmee sy bewegings in die Maasai se veegebiede gevolg kan word. Foto: Dirk van der Goes

Kleintyd het sy al saam met hulle in Afrika begin reis op kampeertoere – tot doer in die noorde na lande soos Rwanda, Uganda, Kenia, Zambië,Tanzanië, Mosambiek en Malawi. Dis op hierdie toere wat sy begin droom het om ’n leeunavorser te word.

“As jong leerling het ek ook die boek Cry of the Kalahari gelees. Hierdie aangrypende boek van die jong Amerikaanse dierenavorsers Mark en Delia Owens is al in 1984 gepubliseer en bly steeds klassieke leesstof vir enige natuurliefhebber.”

Müller se eerste stap om leeunavoser te word, was om in 2004 bewaringsekologie op Stellenbosch te gaan studeer. Die Universiteit van Leiden in Nederland het haar hierna die geleentheid gebied om ’n nagraadse studie in ’n Afrikaland te doen, met haar eerste bestemming die Waza-wildtuin in die verafgeleë noorde van Kameroen.

In 2009 kon jong navorsers dit nog daar waag, maar met sy ligging tussen Nigerië en Tsjad het die gebied om die Waza-wildtuin in die laaste jare al meer die impak van die Boko Haram-terroristegroep begin voel.

Müller is saam met ’n Nederlandse student vir vier maande na Kameroen waar hulle ’n paar noue ontkomings gehad het.

Die mense van hierdie streek het vir haar met die eerste oogopslag vyandig voorgekom, maar met haar kollega se gebroke Frans en haar eie Afrikaans en handgebare het hulle goeie verhoudings met die plaaslike Fulbe-stam begin smee.

“Waza is in ’n baie droë streek met die Acacia Sahel-woud en ’n groot vloedvlakte wat onbegaanbaar in die reëntyd is,” sê Lana.

Dit was ’n baie uitdagende omgewing om in te werk: “Daar was hoë temperature oor 40 °C, baie fyn stof in die lug weens die harmattan-woestynwinde uit die Sahara en nie altyd water en krag beskikbaar nie. Vir kos was ons beperk tot bokvleis, pap, blikkiesvis en pakkies kitssop wat ons van die huis saamgebring het.”

Lana Müller saam ’n groepie Maasai-krygers in Kenia. Sy help hulle met planne om hul vee teen roofdiere te beskerm. Foto: MWCT

Om ’n bietjie asem te skep, het hulle soms ’n inselberg (soortgelyk aan ’n koppie) in die middel van hierdie vlaktes gaan klim.

“Op so ’n klimtog kon jy tekens van hiënas, bobbejane en ander wilde diere sien. Bo-op die berg was dit doodstil. Ver onder kon jy die strepe van beespaadjies uitgekerf in die landskap sien.”

Die wind het dan geluide na hulle gedra: “Jy hoor die fluit van beeswagters. Ook die mense in die dorpie – hul gelag en die dreun van motorfietse.”

Die hele ervaring was ’n vuurdoop soos min, sê sy.

“Kameroen was ook ’n uitdagende en konfronterende ervaring.” Sy erken dat sy soms doodbang was. Sy kon die skote van stropers hoor klap en het afgekom op van die karkasse van olifante en ander diere wat die stropers geskiet het.

“Ons het baie gestap omdat baie van die plekke onbegaanbaar was vir ’n voertuig,” sê sy van die Waza-wildtuin, waar daar deesdae dalk nie meer leeus is nie.

Vir Müller was ’n hoogtepunt haar deelname om twee leeus in Kameroen nekhalsbande aan te sit. Dit het sy met die hulp van ’n veearts gedoen.

As verdere navorsing vir haar M.Sc-graad is sy na Kenia. “My navorsing in Kenia se fokus was leeugenetika. Inteling was ’n probleem in Tanzanië se relatief geïsoleerde Ngorongoro-krater en dit het gelyk of ’n soortgelyke probleem besig was om in Kenia te ontstaan,” sê sy.

Hierna is sy terug na Nederland waar sy ook as kinderoppasser geld verdien het om eers haar studieskuld te betaal.

Ons het baie gestap omdat baie van die plekke onbegaanbaar was vir ’n voertuig.

Gedurende dié tyd het sy ’n toer vanaf Suid-Afrika na Kenia beplan wat haar die geleentheid sou gee om nuwe werkgeleenthede te soek.

In Desember 2011 het Müller saam met haar Nederlandse vriend die avontuur aangedurf. In Kenia was daar geleentheid vir hulle om drie maande as vrywilligers te werk voor hulle ook permanente aanstellings by die Maasai Wilderness Conservation Trust (maasaiwilderness.org) gekry het.

Die gebied waar sy gewerk het, was in die omgewing van die Tsavo-wildtuin met Kilimandjaro op die gesigseinder aan die anderkant van die grens in Tanzanië. ’n Entjie verder noordwes van haar gebied was Amboseli en die Maasai-Mara.

Om vir die bewaringstrust te werk, was ’n spesiale ervaring en sy het die afgelope agt jaar hegte bande met die Keniane opgebou. Sy het baie geleer van praktiese bewaringsbeginsels en implementering van projekte in Oos-Afrika.

Die bewaringstrust en stamhoofde het vooraf onderhandel vir ’n stelsel waarvolgens die veewagters vergoed word vir hul verliese wanneer die roofdiere toeslaan.

“Vang die leeu byvoorbeeld ’n bees in die veld, kan die vergoeding minder wees indien nalatigheid betrokke is,” sê Müller. Foto’s van gevange diere dien onder andere as bewys van die voorval.

Dis dan ook waarom 11 Maasai-krygers met hul lang spiese haar een donker nag uitgeroep het. Sy moes vir hulle foto’s van al vyf beeste neem wat die honger leeus pas platgetrek het. Sy saam met hulle deur ’n digte bos stap.

“Die leeus het padgegee. Ek het na vier karkasse gekruip om met my selfoon foto’s te neem.”

Die vyfde karkas is in ’n wag-’n-bietjiebos gesleep deur die leeus en Müller was teensinnig en bang om dit naby die karkas te waag. Die Maasai het egter aangedring dat sy ook die vyfde karkas afneem.

“Ek begin toe kruip met 11 manne met lang spiese wat my beskerm om die foto te neem,” sê sy.

Van die plaaslike bevolking is ook nuwe vaardighede geleer. Van die ouer mense is basiese geletterdheid geleer en vir ander was daar opleiding in selfoon- en rekenaar-tegnologie sodat hulle kan help om inligting oor die wildlewe in te samel. In totaal is daar in dié tyd meer as 100 veldwagters so opgelei.

Dit is steeds by die Maasai deel van hul kultuur om as jong man ’n leeu met spiese te jag. Hulle gaan in ’n groep en die een wie se spies die leeu eerste tref, kry dan ’n leeunaam,” sê Müller.

As teenvoeter om die doodmaak van leeus te voorkom, word daar deesdae ’n Maasai Olimpiese-kompetisie elke tweede jaar vir die krygers in die Tsavo-Amboseli-ekosisteem gereël. “Die kompetisie bestaan uit ’n hardloopnommer, hoogspring en spiesgooi. Die wenner kry hierna ’n kans om in die New York-marathon te hardloop,” sê Müller.

Ná vier jaar in Kenia het Müller gevoel sy moet weer na Suid-Afrika terugkeer. Sy was ’n kort tydjie by die bobbejaan-navorsing en konflikbestuur in die Kaapse Skiereiland betrokke voor sy ’n aanstelling as bedryfs- en navorsingbestuurder by die Cape Leopard Trust (capeleopard.org.za) gekry het.

“Ek het begin met ’n opname van die luiperds in die Cederberge. Hiervoor is 146 strikkameras gebruik en daar is in 15 maande ongeveer ’n halfmiljoen foto’s in ’n gebied van sowat 1 700 km² geneem,” sê sy.

Sy kan nog nie praat oor haar bevindinge nie aangesien sy nog besig is met haar ontledings en opskryfwerk.

In die Cederberge word nou saamgewerk met CapeNature en die plaaslike gemeenskappe. ’n Kraalprojek is byvoorbeeld begin. Die doel was om boere by plekkies soos Heuningvlei, Kleinvlei en Grasvlei se vee beter te teen roofdiere te beskerm.

“Elf krale is versterk en roofdierdig gemaak. Die draad is deur David Nieuwoudt van Cederberg-wyne geskenk en die Boesmanskloof-reservaat het die vervoer van die materiaal verskaf.”

Die afgelope twee jaar is geen vee in krale gevang nie.

Van die plaaslike bevolking word ook betrek by konflikbestuur. “Ons het mense opgelei in basiese spoorsny en karkas-ontleding. Daar word nou saam gewerk met die Tafelbergfonds en Qubeka – en selfone en fietse word verskaf om hierdie mense beter toe te rus.”

Groter probleme deesdae in die Boland is draadstrikke en rondloperhonde. Duikers, grysbokke en ystervarke word veral deur die draadstrikke afgemaai.

Hardlopers, bergklimmers en bergfietsryers wat die wildernisgebied besoek, kan nou ook ’n selfoon-app gebruik om data oor draadstrikke te help versamel. Besonderhede hiervan verskyn op die Leopard Trust se webtuiste. Inligting wat só versamel word, is uiteindelik deel van hul groot databasis.

Op ’n vraag of die luiperds nou in ’n wyer gebied loop, het Jaco van Deventer van CapeNature geantwoord: “In die 1980’s was daar nie meer luiperds by Piketberg nie. Eers teen 1995 is hulle weer daar opgemerk.”

Ná vele onlangse klagtes oor konflik met luiperds het Müller ’n navorsingsprojek in die Piketberge aan die gang gesit.

Johan van der Westhuizen, ’n boer van die Cederberge, het in 2004 die Cape Leopard Trust saam met die navorser Quinton Martins gestig. Die Cederberg-boere was die eerste boere wat slagysters afgeskaf het.

So is kamerastrikke in die Cederberge gestel om meer vas te stel oor hul getalle en bewegings. Sowat ’n halfmiljoen foto’s is as data vir die navorsing versamel. Foto: Cape Leopard Trust

Dieselfde goeie gesindheid teenoor natuurbewaring vind ’n mens deesdae algemeen by ’n nuwe geslag landboumense.

’n Jong navorser soos Müller is ’n fasiliteerder vir beter verhoudings tussen boere, navorsers en die plaaslike gemeenskappe wat naby bewaringsbiede woon.

“Lana was baie toegewyd en deeglik met haar werk. Ons is baie spyt om van haar afskeid te neem by die Cape Leopard Trust,” sê Van der Westhuizen.

Jannie Nieuwoudt, voorsitter van die Cederberg-bewaargebied, het daarop gewys dat dit op ’n tydstip ’n volle vrouespan was wat by die luiperdnavorsing betrokke was. “Ons mans praat baie, maar as jy werk gedoen wil kry, kan jy maar die vrouens nader roep. Hulle is baie deeglik.”

Ons is ook baie bly. Dit gee aan 100 mense werk en geleentheid om kos te voorsien.

Dit strek die Kapenaars tot eer dat hulle Müller toegelaat het om steeds deeltyds met haar werk in Kenia voort te gaan. Sy kon op ’n kwartaallikse basis vir twee weke na Kenia vlieg om betrokke te bly by haar leeuprojek, asook ’n projek vir landskaprestourasie.

Toe sy met so ’n besoek op ’n slag aan ’n Maasai-vrou sê sy is bly oor hul vordering met die projek, het die vrou geantwoord: “Ons is ook baie bly. Dit gee aan 100 mense werk en geleentheid om kos te voorsien.”

Dié werk het nou weer gelei na ’n nuwe bestuurspos vir die bosmeisie by die Nederlandse nie-winsgewende organisasie Justdiggit.

Oor die nuwe uitdaging is sy baie opgewonde: “My passie van kleintyd was om by die beskerming van die groot katte betrokke te raak. Die verlies van hul habitat is een van die groot probleme.”

Dit is waarom sy nou ’n habitat-bewaringsprojek met mening wil pak. “Ek word betrokke by ’n projek wat groot voordele vir die plaaslike bevolking inhou.

“As jy suksesvol met natuurbewaring wil wees, moet jy die plaaslike mense in jou planne insluit wat die voordele kan ervaar. As jy net vir die diere veg, is dit ’n verlore stryd.”

Meer oor:  Katte
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.