Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Bromvoëls word dalk stil
Die Sepedis noem bromvoëls Mahutuhutu, ’n naam wat die klanknabootsing van hul roep mooi vasvatFoto: iStock

Bromvoëls is een Suider-Afrika se mees geliefde, unieke voëls. As daar egter nie iets gedoen word om die spesie se voortbestaan te verseker nie, sal die veld binnekort stil wees van sy kenmerkende geroep, skryf Carla Lewis.

Dis ’n klank wat sinoniem is met die Krugerwildtuin – die dagbreek-duet van die bromvoëls.

Net voordat die son sy kop oor die doringbome en mopanies steek, trek daar ’n bulderende brulroep deur die Bosveld, ’n bevestiging van die broeipaar dat hulle steeds die monarge oor hul stukkie aarde is.

Party vergelyk die geluid – wat kilometers ver gehoor kan word – met dié van ’n leeu wat brul. Ander dink dit klink soos die diep tromslag van Afrika-tromme.

Die Sepedi’s noem hulle “mahutuhutu”, ’n naam wat die klanknabootsing van hul roep mooi vasvat.

Bromvoëls se wimpers lyk soos ’n maskara-advertensie.

Ongelukkig is die voëls se getalle besig om teen ’n snelspoed af te neem.

Dr. Lucy Kemp, projekbestuurder van die Mabula Ground-Hornbill Project (MGHP) naby Bela-Bela, meen dis een van Suider-Afrika se voëlspesies waarvan die populasie die vinnigste kwyn. Maar almal is nie so bewus daarvan nie. Die afgelope eeu het die bromvoël se getalle in Suider-Afrika met soveel as 70% gekrimp.

“Om dit in perspektief te stel: Witrenosters se status by die Wêreldbewaringsunie (IUCN) is byna bedreig (NT), terwyl bromvoëls ’n dringender status van kwesbaar (VU) het,” sê Kemp.

In Suid-Afrika en Namibië word hulle egter as bedreig geklassifiseer en buite bewaringsgebiede is hul getalle besig om te tuimel. Hulle is trouens baie naby daaraan om as “kritiek bedreig” in Suid-Afrika gelys te word.

In ons land is daar sowat 400 tot 500 groepe van dié voëls oor, waarvan die helfte in die Krugerwildtuin voorkom.

As jy dié wildtuin gereeld besoek, sal jy heel waarskynlik kennis gemaak het met die groot swart voëls met hul skarlakenrooi nekflappe en wimpers so reg uit ’n maskara-advertensie wat in groepies rondskrop vir klein reptiele, soogdiere en insekte.

“Hul bevolkingsgetalle in die Kruger is gesond, dus is hulle ’n algemene verskynsel daar. Maar die Kruger is die uitsondering, nie die reël nie.”

Sy beklemtoon dat dit nie ’n geval is van alle diere is gelyk, maar party is meer gelyk as ander nie. “Maar met sambreelspesies – soos bromvoëls – is daar ’n positiewe rimpeleffek op ’n hele ekologiese stelsel as die spesie bewaar word.

“Hulle habitatte is reusagtig; ’n groep sal byvoorbeeld ’n gebied van sowat 100 km² beset.

“As jy dan byvoorbeeld bromvoëls en hul habitat bewaar, sal al die ander spesies wat ook in daardie habitat bly, voordeel daaruit trek.

“Ons is tans by ’n kantelpunt, want as ons nie nou ingryp nie, kan die voëls binnekort op die rand van uitwissing wankel.”

Bromvoëls is ’n familieaangeleentheid by die Kemps.

Hulle is ’n algemene verskynsel langs die pad in die Krugerwildtuin, waar hulle gesonde bevolkingsgetalle geniet.

Kemp se pa, dr. Alan Kemp, was die hoofkurator by die voëldepartement van die destydse Transvaalse Museum (nou die Ditsong-mu­seum). Alan is ook bekend vir sy baanbrekerswerk in bromvoëlnavorsing en is die outeur van verskeie boeke oor neushoringvoëls. Kemp vertel hoe sy vakansies in die Kruger deurgebring het, waar sy haar pa gehelp het om voëls te merk en monsters bymekaar te maak.

Wanneer sy oor haar “navorsingsonderwerpe” praat, laat sy jou dink aan ’n geduldige ma wat voorbrand probeer maak vir haar begaafde maar misverstaande probleemkinders – sy verwys liefderik na bromvoëls as haar “brats”.

Kemp sug. Ongelukkig dra die brats se vloermoere, snobisme oor waar hulle nes skrop en wispelturige temperament nie by tot hul voortbestaan nie. Om hulle groot te kry, is reeds ’n uitdaging.

Bromvoëls sal dikwels twee tot drie eiers lê, maar slegs een kuiken sal oorleef. Die ander twee eiers is basies net “versekeringspolisse” vir die ouers indien die eerste kuiken met ’n gebrek gebore word. As die eersgebore ’n sterk, gesonde telg is, sal sy jonger sibbe van verwaarlosing vrek.

In ’n poging om die bromvoëlbevolking ’n hupstoot te gee, oes die MGHP die afskeepeiers van wilde bromvoëls en maak die weggooikuikens groot by die Baobab-broeisentrum vir bromvoëls by Loskopdam naby Groblersdal in Mpumalanga. Dit het in Oktober 2018 tot stand gekom.

Die kuiken word óf met die hand grootgemaak óf, indien dit moontlik is, word dit in die pleegsorg van ’n “mak” broeipaar bromvoëls geplaas. Laasgenoemde metode word verkies, want as kuikens op mense “afdruk”, maak hulle dalk in die toekoms die verkeerde spesie die hof.

Bromvoëls is groepvoëls met hegte familie- en groepsbande.

Navorsers vermoed voorts dat hulle oor dieselfde kognitiewe vermoëns as sogenaamde slim voëlspesies soos kraaie en rawe beskik.

Bromvoëls vorm hegte familiebande en jy sal hulle in groepe aantref.

’n Kuiken moet dus eers deur volwasse bromvoëls onder die vlerk geneem word en touwys gemaak word in belangrike sosiale en lewensvaardighede.

Hul broeitempo is maar traag: Om ’n kuiken groot te maak vat sowat ses jaar en in daardie tydperk sal ’n broeipaar geen eiers lê nie.

Bromvoëlkuikens is maar brose goedjies. Kemp beskryf hulle as pienk, pieperige blinde dingetjies.

Hulle moet versigtig gevoer word sodat hul kroppe nie verstop word of infeksie opdoen nie, en as daar nie ’n surrogaat-ouerpaar beskikbaar is nie, moet versorgers ook versigtig wees dat die kuiken hulle nie as hul mens-ma’s aansien nie.

Voëls wat op hul mens-ma’s afgedruk het, sal nooit in die wildernis kan broei nie.As die vensters en vere waaiAs jy wel die kuikens groot genoeg kry en hulle in die natuur vrylaat, is hul kans om oorlewing aansienlik beter.

Maar dan is daar die netelige kwessie van mens-dier-konflik.

Kemp verwys nie verniet na bromvoëls as brats nie. Somtyds kan hulle geveerde probleemkinders wees wat amok saai.

“Hulle breek vensters. Hulle sal byvoorbeeld hul weerkaatsing in ’n spieël sien en omdat hulle beskermend oor hul gebied is, die vensters uitpik. Maar dan is die ‘indringer’ net weer in die volgende venster. Hulle kan groot skade aanrig, veral by skole in die platteland wat reeds sukkel met hulpbronne.

“Hulle raak ook verstrengel in kragdrade of hulle sal deur ’n transformator doodgeskok word wat nie ordentlik geïsoleer is nie.”

Die bromvoëlwyfie is ook baie kieskeurig oor “eiendom” en waar sy haar eiers gaan lê.

“Bromvoëls broei hoofsaaklik in boomstompe of in die holtes van hoë bome. Hulle verkies holtes wat sowat 6 m van die grond af is, sodat die wyfie teen roofdiere en ander bedreigings beskerm kan word.”

Ongelukkig is dié stukkies prima eiendom maar skaars en as daar nie ’n geskikte nes gevind word nie, lê die wyfie nie eiers nie.

Die MGHP het vir hulle kunsmatige neste – uitgeholde boomstompe – in hoë bome geplaas, maar het onlangs oorgeskakel na ’n struktuur wat Kemp die “dinosouruseier” noem.

“Dis nie volhoubaar om groot bome af te kap vir die neste nie. Die eier is spesiaal ontwerp in samewerking met die Tshwane- Universiteit van Tegnologie se fakulteit industriële ontwerp. Een van die voordele van dié ontwerp sluit in dat dit vir die voëls insulasie teen die snikhete Laeveld-dae bied.

“Met klimaatsverandering sien ons rekordtemperature in die Laeveld, wat die embrio’s binne die eiers laat vrek.

“Dit lyk asof hulle van hul nuwe huise hou,” lag Kemp en wys ’n reeks foto’s van ’n groepie bromvoëls in en om ’n dinosouruseier.

Soos ons deur die veld gestap het, het ons dikwels die insingizi, (bromvoëls) gesien.

Hoewel bromvoëls se getalle buite wildreservate besig is om af te neem, is daar uitsonderings waar brom­voëls en mense gelukkig sy aan sy bly. Nthabiseng Monama, ’n navorser en gemeenskapsopvoeder van die MGHP, sê daar is plattelandse areas in KwaZulu-Natal waar die voëls tussen mense gedy.

Die voëls word verdra en selfs verwelkom, omdat hulle as gelukbringers van reën gesien word en ook help om slange en skerpioene in beeste se wei-areas te vang.

“Die plattelandse kinders help ons ook om belangrike data oor die voëls bymekaar te maak, omdat hulle ’n inheemse kennis van die spesie het en saam met die voëls leef,” sê Monama.

Hoofman Mangosuthu Buthelezi is die beskermheer van die projek, juis omdat bromvoëls ’n belangrike kulturele simbool vir die Zoeloes is.

“Toe ek in Mahashini (sowat 50 km suid van Piet Retief) grootgeword het, het ek die verantwoordelikheid van alle jong Zoeloe-seuns gehad – ons was beeswagters.

“Soos ons deur die veld gestap het, het ons dikwels die insingizi, (bromvoëls) gesien,” skryf Buthelezi op die MGHP se webwerf.

“Ons het hul brullende roep goed geken; dit het ons laat weet die reën is naby. In die Zoeloe-kultuur mag jy nooit een van die voëls gejag het nie, omdat jy vloede oor jou gemeenskap kon bring.

“As jy ’n insingizi in ’n weiveld gesien het, het jy geweet hulle help om enige skerpioene en slange te vang. Ons het hulle verwelkom.”

Dr. Gloria Irenata Biyela, ’n lektor aan die Universiteit van Zoeloeland wat spesialiseer in Zoeloe en kultuur, vertel daar is ’n spreekwoord in die taal: insingizi/ingududu ayibulawa (’n mens mag nie ’n bromvoël doodmaak nie).

In ’n akademiese artikel skryf sy dat plaaslike Zoeloes met wie sy vir haar navorsing onderhoude gevoer het, genoem het dat die voël nie doodgemaak of versteur mag word nie omdat dit bekend staan as die inyoni yezulu (donderweervoël). Daar is ’n bygeloof onder sommige Zoeloes dat wanneer jy die voël doodmaak, donderweer sal slaan in die plek waar dit dood is. Daar word ook geglo dat die “treursange” van die oorlewende voëls donderstorms en vloede kan meebring.

Die Zoeloe-digter Z.W. Gule maak melding daarvan wanneer hy skryf “Kwakhal’insingizi madoda, izulu seliyaduduma” (Mense, die bromvoëls huil, nou kom die donderweer).

In Oktober 2018 het die Baobab-broeisentrum vir bromvoëls by die Loskopdam-natuurreservaat in Mpumalanga sy deure oopgemaak, om die voortbestaan van die voëls te verseker.

“In die verlede het ons die kuikens vir verskillende navorsing- en bewaringsentrums gegee om groot te maak, maar die probleem is dat die een sentrum ’appels’ grootgemaak het, die ander ‘pere’ en die ander ‘lemoene’.”

Omdat daar nie ’n standaardmetode gevolg is om die kuikens groot te maak nie, was daar gate in die navorsing en ontwikkeling van ’n broeiprogram.

“Die Baobab-broeisentrum help ons om ’n broeiprogram met standaardpraktyke saam te stel en te sentraliseer. Dit help ons ook om ons navorsing ten volle te benut en die kuikens se kanse om oorlewing in die natuur te verbeter wanneer hulle wel vrygelaat word in areas waar hulle voorheen uitgesterf was,” sê Kemp.

Die bromvoël is Birdlife SA se amptelike voël vir 2020. Besoek birdlife.org.za vir opwindende nuus en hulpbronne oor die voël.

Die Mabula Ground-Hornbill Project doen tans navorsing oor die sterftetempo en die oorsake daarvan by bromvoëls. As jy iewers ’n bromvoëlkarkas gewaar, laat weet hulle dadelik by project@ground-hornbill.org.za sodat ’n nadoodse ondersoek gedoen kan word.

Volg die Mabula Ground-Hornbill Project op Facebook by @groundhornbill of besoek hul webwerf by ground-hornbill. org.za.

Meer oor:  Wildtuin  |  Buitelewe
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.