Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Chelsea terug na die natuur

Daar is altyd een tuin wat ’n gesprekspunt is op die Chelsea-blommeskou. Dit wen nie noodwendig ’n goue medalje nie, maar dit laat mense dink en sê: “Hoekom nie?”

Vanjaar was dit Ikea en Tom Dixon se tuin getiteld Gardening Will Save the World (silwermedalje) wat ’n visie van stedelike boerdery gebied het, tegnologie gebruik en ruimte vir mense wat baie min ruimte het om tuin te maak, maksimaliseer.

Die natuurlike bosagtige M&G-tuin is as die beste tuin op die skou aangewys. Foto’s: Royal Horticultural Society

Die konteks is natuurlik stedelike Engeland en veral Londen, maar selfs in Suid-Afrika het ons met stedelike digtheid al hoe meer mense wat in woonstelle woon.

Volgens Toni Pavic, wat die tegnologiese kant van die tuin ontwerp het, moet grondlose tuinbou soos hidroponika eenvoudiger, toeganklik en bekostigbaar wees. So ’n benadering is nodig in antwoord op gronddegradering, bogrondse erosie en die vermindering van grondvoedingstowwe deur intensiewe landbou, sê Pavic.

Die tuin is op twee vlakke. Die boonste vlak is die natuurlike tuin, ’n welige oorvloed van groente, kruie, blomme, bome en struike met gesondheids- en omgewingsvoordele, ’n magneet vir bye en ander bestuiwers. Dis die soort tuin wat tuiniers maak wat graag hul hande vuil wil kry.

Die onderste vlak boots ’n kelder eerder as die agterplaas na en is ’n soort tuinboulaboratorium met hidroponiese en aëroponiese plante onder ’n bank van pienk ligte en lyk eerder na ’n disko as ’n tuin. Beddings sampioene groei in grondstandbeelde wat deur ’n 3D-drukker geskep is.

Gardening Will Save The World - ’n hoë-tegnologie stedelike tuin.

Bome in die kollig

Tendens-navolgers kan daarvan kennis neem dat vanjaar se Chelsea-blommeskou natuurlike plante met ’n sterk klem op weelderige bosse beklemtoon. Die gedagte is ’n verbintenis tot sensitiewe hulpbronbestuur en die bewustheid van brose ekostelsels.

In baie van die tuine, en veral dié waaraan goud toegeken is, het bome die hoofrol gespeel en die tuin daaruit ontwikkel. Terwyl blomme gebruik is om windlanings en fokuspunte van kleur te skep, was die palet oorwegend groen, met wisselende blare en teksture vir kontras.

Die boodskap was duidelik; woude en boslande word bedreig deur klimaatsverandering, ontwikkeling, plae en siektes.

Die voorneme van die goudwenner Resilience, in opdrag van die Bosboukommissie se eeufees, was om aan te toon waarom bome en bosse belangrik is, terwyl dit na die pad vorentoe wys. Eksotiese en inheemse spesies is gekies vir hul vermoë om te floreer en veerkragtig te wees in habitatte wat geraak word deur klimaatsverandering.

In die rustige M&G-boswêreldtuin wat as die beste tuin aangewys is, het die ontwerper Andy Sturgeon ook ’n verskeidenheid baanbrekende plantspesies van oor die wêreld heen byeengebring om die krag van plante te wys en hoe om landskappe te vernuwe. Dit sluit in varings, Restio-spesies, Hosta, Gunnera, Primula, irisse en geharde pantoffelorgideë.

Die Wedgewood-tuin is met ’n silwermedalje bekroon.

Groot eikeboom-beelde, geïnspireer deur rotsformasies van Australië, is geposisioneer tussen die woudagtige plantegroei, met stroompies wat deur die tuin loop en poele.

Engelse ystersteen word gebruik vir paadjies en rustieke sitplekke.

Die indruk is bedoel om “lewegewend” te wees, maar ook kalm en rustig.

Herlewing was ’n tema van baie tuine, veral waar ontwikkeling en die natuur gebots het.

In Welcome to Yorkshire, ’n tuin wat ’n goue medalje gekry het, het ’n kanaal langs ’n weiland met ’n private tuin en groentetuin die stedelike wedergeboorte wat langs baie van Yorkshire se kanale plaasgevind het, uitgebeeld.

Die Wedgewood-tuin het ook die kanale en waterweë van die verlede uitgebeeld, terwyl Walker’s Forgotten Quarry Garden (artisan-tuin) die natuur binne die vals steengroefmasjinerie herwin het.

Manchester Garden het sy visie vir volhoubare groenruimtes in ’n post-industriële stad uiteengesit wat die gebruik van plante insluit om die stedelike grond skoon te maak en te verbeter.

Tuinmaak vir kinders het koninklike ondersteuning ontvang, met Catherine, die hertogin van Cambridge, wat saam met die Royal Horticultural Society die Back to Nature-tuin ontwerp het.

Met ’n boomhuis as hoofkenmerk het die bostuin strome ingesluit om by te rus, houtstompe om oor te loop en wandelpaadjies om te verken. Dit weerspieël die hertogin se eie kinderjare en die behoefte aan veilige ruimtes waar kinders kan speel, leer en ontdek.

Meer oor:  Chelsea-Blommeskou  |  Londen  |  Tuine  |  Tuinmaak  |  Buite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.