Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Daar doer in die ou Kalahari

Chris Blignaut het dalkies aan Van Zylsrus gedink toe hy gesing het van “Ver in die ou Kalahari”, dink Heleen Coertze met die uitklimslag toe hulle voor die hotel stilhou.

Die Kalahari se manjifieke hemelskildery van pienk en oranje kleure terwyl die skrywer en haar medereisigers na die aandstilte luister.Foto’s: HELEEN COERTZE

Die Van Zylsrus-hotel is ’n legendariese oase en bekende kuierplek met trommelsvol stoepsitstories wat jou ligdag toe sal deurdra.

Die tone-omkrul-lekker verhale oor die byna eens in ’n leeftyd se afkom van die Kurumanrivier oorkant die hotelvoordeur maak dat ons ons voorneem om beslis te kom kyk indien dit in ons leeftyd wel weer sou gebeur.

“As daar destyds sulke groot brulpaddas in Israel was soos wat daar is wanneer die Kurumanrivier in vloed is, sou Farao die Israeliete beslis gouer laat trek het,” merk iemand ewe droog op.

Dit is dag twee op ons kort reis die diep-Kalahari in en ons hoop om nog betyds te wees vir die vinnige Bloodhound by Hakskeenpan. Die kroeggedeelte in die hotel is genadiglik heerlik verkoel toe ons klompie teen die hittige middaguur daar stilhou.

Dit kos aanhou en mooipraat om die groep weer in die pad te laat val ná ’n heerlike terugsit – lui ná ’n uur van koue bier en twak praat. Parallel met die droë Kurumanrivier ry ons wes, rigting Askham en Kgalagadi. Ons glip ná 10 km, digby Ontmoeting, uit die gebaande rowwe weg uit, noordwaarts.

Ná ten minste agt plaashekke en 50 km se eweredige ry en die aanloklike Botswana-oorgrens-teerpad, slegs ’n draadheining ver, stop ons by Vikus en Janetta Visser op die plaas Boesmanzoen.

Die Kalahari se mense speel nie op klein stukkies grond nie . . . Later, so met die aandstilte saam, sak daar ’n stuk tevrede gelatenheid op ons neer.

Dit is sterrepluktyd en Sirius en Orion flikker skuins van die Melkweg. Agter ons knetter ’n groot kameeldoringvuur en as finale toegif groet ’n ronde volmaan net voor slapenstyd.

Die spore na die woestyn: Die Kalahari het ’n manier om sy besoekers keer op keer terug te lok.

Rooi duine

Vroeg die volgende oggend, terwyl daar nog goud in die oggendstond is, dreun die wildvoertuig. Terwyl ons saggies oor nog ’n Kalahari- rooi duin met geel-grys-stoppelbaard gras sweef, bekyk springbokke, sebras, hartbeeste, elande, gemsbokke en selfs die hovaardige kameelperde ons en wonder of ons dan niks gewoond is nie.

Jy vra uit oor die veld, die droogte en verluister jou aan die lekker breiklank wanneer die geharde Kalahari-boer vertel.

Maar dis later, veel later, ná ’n uitgerekte middagslapie, wanneer ons verras word deur ons gasvrou (eenparig benoem as die Diva van die Duine) wat met wyerandhoed en wit linnehemp vir ons wag op ’n hoë rooi duin.

Met uitgepakte stoele, ingerygde lekkernye aan doringtakkies en yskoue witwyn groet ons uiteindelik die volmaak goue dag.

Saam met ’n manjifieke hemelskildery van afwisselende rooi, pers, pienk en oranje kleure luister jy hoe die aandstilte saam met die aandkoelte om jou vou.

Betyds vir Andy Green

Dis Sondagoggend vroeg en ons groet Boesmanzoen en sy gasvrye mense.

Die laaste deel van die pad Andriesdale toe is lieflik geskraap. Ons ry na die bekende Molopo-lodge wat op die oewer van die Moloporivier is.

Die groot palmbome in die tuin skep hier ’n ware lushof en ons hou stil vir ’n vinnige koffietjie voordat ons die Kgalagadi-grenspark aandurf.

Dit is dag vier, net ná 09:00 in die oggend, en reeds warm. Met die inloopslag sien jy dadelik die groep manne wat reg langsaan by ’n tafel langbeen sit en gesels. Reis beteken immers ’n oefening om te kyk en bekyk te word, flits dit deur jou gedagtes met die terugkykslag.

Die kelner bevestig die vermoede dat die groepie die bystandspan is van die Bloodhound-projek en minder as ’n halfuur later pronk ons saam met Andy Green, die bestuurder van die blitstuig, op die restaurant se trappies vir ’n foto.

Jy vra uit oor die veld, die droogte en verluister jou aan die lekker breiklank wanneer die geharde Kalahari-boer vertel.

Die roofdiere lag oopbek

Die Kgalagadi-oorgrenspark is minder as ’n uur se ry van Molopo-lodge af en al drie voertuie meld net as dagbesoekers by Twee Rivieren aan.

Die groep besluit eenparig om die kortste retoerpaadjie in die park te ry en hoop om soveel moontlik diere te sien.

Stadig luier ons teen 50 km/h langs die droë Auobrivier, sien wildebeeste, springbokke en gemsbokke en loer by die ­museum by Auchterlonie in.

Die toegif van die dag is ’n uitgestrekte leeuwyfie, dikgevreet en rooi om die bek wat onder ’n vaal kameeldoringboom reg langs die pad lê, met haar jong koedoeprooi se karkas ’n entjie verder.

Die ernstige droogte in die park gryp ons aan – dit is net die roof- en aasdiere wat vet en blink daar uitsien.

Elandkarkasse, weggevreet op die bar, droë grond onderweg na Leeudril, ruk jou siel en jy verlang na die vertroostende woorde vir mens en dier uit die stukkie Handel-musiek van vroeër.

Hierdie landskap laat jou kyk en wéér kyk.

Hakskeenpan wink

Met sonsopkoms die volgende oggend kyk jy hoe die bokke stofstreep waterpunt toe.

Die veewagtertjie praat met sy diere en sy stem trek ver die stil, vroeë Kalahari-lug in.

Dis dag vyf en ek drink koffie op hierdie stil, byna heilige oomblik van die dag voor ons huisie by Kalahari-lodge. Die groep se paaie skei van hier af en die oorblywende twee voertuie het nog ’n voldag se avontuur en wakis vol onthouplekke voor ons.

Die eerste stilhouplek is waar Burger en Petra, ons nieamptelike toergidse vir die ses dae, afdraai by Houmoed, sy ouers se eertydse Kalahariplaas.

Hy kry toestemming by die huidige inwoners en loop om die huis waar hy gebore is.

En toe kom die onthou- stories . . . Ons staan op die plek waar die Kuruman- en Molopo-riviere saamvloei. Hy vertel van baie reën en riviere in vloed en hoe hy in 1976 heuphoogte in die water na die buurplaas aan die oorkant van die pad gestap het.

Die voertuie draai hierna links in die rigting van die R31, met Rietfontein 65 km verder – met Groot- en Klein Mier tussenin. Ons is nou in soutpan-wêreld en Koopan, omring met kalkagtige randjies rondom, is ’n geoloog se droom.

Ons draai by Hakskeenpan, die wêreld se grootste onbewerkte soutpan se Toegang verbode-bordjie in. Willem Tieties bel en kry toestemming om die motors deur te laat. By die volgende hek ry ’n allervrolike Kain Dodds saam tot by die Bloodhound-kamp.

Jy staan uiteindelik by die ingang van die spesiaal geboude skuur vir die blitsvinnige Bloodhound-motor en voel nes ’n kind wat ’n allemintige prys losgeslaan het.

Ons hoor hoe die 300 mense van die Mier-gemeenskap 16 000 ton klippies oor agt jaar opgestapel het ter voorbereiding vir die spoedtuig met sy titanium-stuurwiel en soliede aluminiumwiele.

Met die wegry sien jy net ’n lugspieëling in die verte en dink aan die waarderende samewerking tussen die !Khomani San, aan wie dié stukkie woestyngebied behoort, en die Britse Bloodhound-span.

Laatmiddag, ná die lieflike op-en-af-duinepad vanaf Noenieput, ry ons Upington binne.

Dis sonsaktyd en ons word deur Willem en Annelies du Toit op Willem se boot Die Varkie bederf met gebraaide skaapstertjies en rooiwyn, terwyl die geverfde hemel weerkaats in die Oranjerivier se water.

Ons gesels oor Hakskeenpan se opwinding, die Mier-gemeenskap se stories van hoop en die allerheerlikste sweef op die Noenieput-duinepad terug tot hier in Upington.

“Ja-nee,” merk my reismaat op, “ons was hopeloos te laat vir die Bloodhound se rekordstofstreep, maar om die volmaan in die Kalahari te salueer, fabelagtige stories van spesiale mense uit dié harde, lieflike landstreek te kon hoor – hiervoor kom ek beslis volgende jaar weer terug.”

Meer oor:  Kalahari  |  Hakskeenpan  |  Ontspan  |  Besoek  |  Reis  |  Kuierplek
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.