Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Daardie unieke oomblik

En so het vanjaar se natuurfoto-kompetisie amptelik tot ’n einde gekom toe die wenners Woensdag-aand by ’n spesiale funksie by die Lanzerac-hotel-en-spa op Stellenbosch aangewys is.

Die liefde wat Suid-Afrikaners vir ons land se natuur en die buitelewe in die algemeen het, is elke jaar met dié natuurfoto-kompetisie weer duidelik, vertel Malani Venter, redakteur van Buite en een van die beoordelaars van vanjaar se kompetisie.

“Danksy Inverdoorn, Cameraworld en die Lanzerac-hotel-en-spa kon ons vanjaar weer hierdie kompetisie, wat ’n manier is om lesers se talent met hul kameras te wys, aanbied.

“Vanjaar se inskrywings is grootliks weer in Suid-Afrika se tuine, parke, natuur- en wildreservate geneem.

Vanjaar se inskrywings is grootliks weer in Suid-Afrika se tuine, parke, natuur- en wildreservate geneem.

“Dis altyd interessant om te sien waarop fotograwe fokus – verlede jaar was dit beslis vlieënde geveerdes. Hierdie keer was dit die grootpote en hul kleintjies. Of hulle saam hardloop op grondvlaktes, of baljaar in modderpoele, elkeen was heerlik om na te kyk.

“Die paneel, bestaande uit Venter, Zigi Ekron, inhoudsbestuurder van Die Burger Oos, en Jaco Marais, hooffotograaf van Netwerk24, was met die moeilike taak opgesaal om uit duisende foto’s, 50 op die kortlys te kry.

“Daarna is 15 van die bestes gekies en eindelik die drie wenners. Daar was 13 finaliste, maar wel 15 finalis-foto’s. Die rede hiervoor is dat die paneel wat die foto’s kies, nie na die fotograwe se name kyk nie, maar net die foto’s (soos dit hoort!)

“Toe die redakteur van Buite ná die keuringsproses kyk wie die fotograwe van dié foto’s is, is gevind dat twee fotograwe meer as een finalisfoto het – Kate Morris en Maudi Vermeulen,” verduidelik Venter.

Daar is eindelik op die drie wenners besluit:

Derde plek:

Barbara van Eeden

Slang met prooi by die Augrabies-waterval, Noord-Kaap

Derde plek: Barbara van Eeden van Durbanville se slang met prooi: “Terwyl ek en my man in die hitte van die Augrabies-waterval terugstap, het my oog ’n beweging teen die rotse waargeneem. Hierdie skouspel het reg voor ons afgespeel. Hierdie slang het sy prooi gevang, gebyt, en toegevou in ’n wurggreep. Ek het onmiddellik die kamera gegryp en besef dis ’n ongelooflike fotogeleentheid.”

Tweede plek:

Maudi Vermeulen

Swerm voëls, Cubitjie Quap in die Kgalagadi

Tweede plek: Maudi Vermeulen van Worcester se swerm voëls is in die Kgalagadi geneem: “Die rooibekkweleas was heeltyd in beweging en dit het ’n rukkie se toets en verstel aan die sluiterspoed gevat om net die regte hoeveelheid beweging van die vlerke vas te vang. Dit was laatmiddag, maar die lig het gelukkig speling toegelaat.”

Algehele wenner:

James Luckhoff

Leeu en welpies in die Krugerwildtuin.

Eerste plek: Vanjaar se wenner van Buite, Inverdoorn, Cameraworld en Lanzerac-hotel-en-spa se natuurfoto-kompetisie. James Luckhoff van Hermanus het dié foto in die Krugerwildtuin geneem.

James beskryf sy foto soos volg: “Leeus het ’n sebra gevang net buite die Shingwedzi-kamp in die Krugerwildtuin. Die foto moes nie net ‘nog ’n leeu-foto’ wees nie. Daar moes ’n tikkie deernis en iets geheimsinnigs wees in die foto.

“Die finale produk is gekomplementeer deur die son se hoek, bloed aan die bek van die ma en die mopanie se blare.”

Marais se beskrywing van die wenfoto: “Daar is verskeie reëls in fotografie wat fotograwe help in die neem van hul foto’s. Die reëls help fotograwe om treffende foto’s te neem. Die belangrikste toets vir ’n fotograaf se werk is of mense wat na die foto kyk, daarby wil stilstaan en tyd deurbring. Die wenfoto het dit met die beoordelaars reggekry.

“Die treffende kleure van die wenfoto het dadelik die aandag van al die beoordelaars gehad met ’n sterk fokuspunt, die oog van die wyfieleeu wat die kyker in die foto intrek. Die foto kry dit reg om mense te laat stilstaan, en te laat kyk na die foto, met meer detail wat na vore kom hoe langer mens na die foto kyk.

“Die wyfieleeu se een sigbare oog wat die fotograaf dophou word die fokuspunt in die foto. Terwyl sy haar lippe aflek, kyk ’n leeuwelpie met liefde op na sy ma, ’n onskuldige liefde, dit terwyl die wyfie haar lippe aflek en daar nog bloed aan die hare om haar mond sit.

“Die foto vang ’n treffende oomblik vas wat uitstaan in hierdie jaar se kompetisie. Welgedaan aan die wenner!”

Venter se rede vir die kies van die wenfoto: “Ek kan nie onthou die hoeveelste foto hierdie foto was wat ek na gekyk het nie . . . maar dit was al meer as duisend foto-inskrywings wat deurgewerk was.

“Toe James se foto verskyn op die rekenaarskerm het ek skielik regop gesit, gekyk, en weer gekyk. Hoe ironies, het ek gedink – ’n bebloede ma, met die liefdevolle kyk van haar welpie . . . die kontras van oorlewing en liefde.

“Dit was nie jou gewone leeufoto nie . . . Al 13 finaliste se foto’s was buitengewoon, en ’n sterk aanspraakmaker om te wen, maar ongelukkig kan daar net een wenner wees.

“Baie geluk, James!”

Van die finaliste wat die geleentheid Woensdag by die Lanzerac-hotel-en-spa kon bywoon. Van links is Treurnicht du Toit, Maudi Vermeulen (in rooi rok), Barbara van Eeden, Obie Prins, Marieta Foord, Muller Dirker en Gideon Malherbe. Agter links is James Luckhoff (in geruite hemp) en Pierre Rossouw. Voor links staan Kate Morris. Foto: Natalie Gabriels Photography
Die drie wenners: Maudi Vermeulen (links), die algehele wenner, James Luckhoff, en Barbara van Eeden by James se wenfoto. Foto: Natalie Gabriels Photography
Obie Prins en haar man Roelof by haar inskrywingsfoto. Sy het dié sprinkaan at op ’n bankie oor die see sit en kyk het op Stormsriviermond geneem. Foto: Natalie Gabriels Photography
Twee van die drie borge waarsonder die kompetisie nie kon plaasvind nie: Johan van Schalkwyk van Inverdoorn, Erika Ackhurst, advertensieverteenwoordiger van Die Burger, Lourens van As en Derick Botha van Cameraworld. Foto: Natalie Gabriels Photography
Pierre Rossouw en sy vrou Theresa van Bellville by sy foto wat hy in die Krugerwildtuin geneem het. Foto: Natalie Gabriels Photography
Muller en Ilse Dirken van Stilbaai. Foto: Natalie Gabriels Photography

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.