Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
De Hoop: ’n ware lafenis

Genestel agter Overbergse sandduine en omring met duisende hektaar reservaat, vind jy ’n wegbreekplek waar jy jou dae omkry met soveel doendinge, jy sal óf langer moet bly óf plan moet maak om terug te gaan, skryf Malani Venter ná haar onlangse besoek aan die De Hoop Collection in die De Hoop-natuurreservaat.

Strand toe! Verken met laagwater die seepoele en leer meer oor die verskillende ongewerweldes wat slegs hier in die De Hoop-natuurreservaat gesien kan word.

Die wit opstalle van die De Hoop Collection, wat deel vorm van die De Hoop­natuurreservaat, sien jy nie van enige nasionale pad af nie.

Dis weggesteek agter die sandduine en fynbos. En dis goed so. Want hierdie plek wil jy amper geheim hou, net vir jouself.

Dis sowat drie uur se ry via die N2 vanaf Kaapstad en ongeveer 47,9 km via die R319 vanaf Bredasdorp.

Dis een van die grootste natuurgebiede wat deur Cape­Nature bestuur word – 34 000 ha – en ’n Wêrelderfenisgebied.

Die naburige mariene reservaat, wat 5 km uit na die see strek, is op sy beurt een van die grootste mariene beskermde gebiede in Afrika.

Dus, dink jou net in . . . die magdom natuurlewe, hetsy op land of in die see, wat jy hier kan sien.

Links: Op pad na die seelewe:Meld jou aan vir ’n begeleide staptoer langs die kus en kyk hoeveel suidelike noordkappers en ander see­lewe jy kan raaksien. Foto’s: MALANI VENTER

Wat kan ek alles hier doen?

  • Van Junie tot November is die kanse goed dat jy die suidelike noordkappers sal sien – dit is hul paartyd en wanneer hul kalfies gebore word.

Die streek St. Sebastianbaai, oos van die reservaat (sowat 71 km kuslangs), word beskou as die belangrikste versorgings­gebied vir die walvisse en is die beste plek waar jy hulle van die kuslyn kan sien.

  • Hier kom sowat 260 voëlspesies voor. Dit sluit in die swarttobie, die damara- en reusesterretjie. Jy kan op die vlei ’n bootrit onderneem saam met een van die reservaat se gidse, wat die verskillende voëlspesies (en ander diere langs die vlei) sal uitwys.

Wanneer is die bootrit? In die somer daagliks van 09:00, 11:00 of 15:00, maar jy moet bespreek. Oggendbootritte sluit tee of koffie en klein pasteie of croissants in. As jy vir die namiddag of die aand bespreek, word verskeie wyne, biere, sappe en versnaperinge aangebied.

  • By die aangrensende Potberg-natuurreservaat (wat binne die De Hoop-natuurreservaat is) kan die kransaas-voël en bedreigde bloukraanvoël gesien word.

Die De Hoop Collection se kundige gidse vergesel groepe van tot tien besoekers na ’n uitkykpunt in die berge, waar jy naby genoeg is om die kransaasvoëls te sien.

Dié indrukwekkende voëls – met ’n vlerkspan van ongeveer twee en ’n half meter – sweef gereeld by die uitkykpunt verby, maar is ver genoeg verwyder sodat hul neste nie deur mense versteur word nie. Die uitstappie begin om 09:00 en sluit ’n uur lange stap na die aasvoëldek in.

Hoeveel kos dit? R550 per persoon. Dit sluit ’n piekniek en ’n begeleide toer in.

  • Ry naby die elande en bontebokke (’n gids ry saam). Jy sal tussen twee en drie uur nodig hê om die roete te voltooi. Ek het die ongeveer 14 km lange rit na Koppie Alleen (’n strandarea) aangepak, maar weens my onfiksheid nie klaargemaak nie. Ek is langs die pad opgelaai deur die personeel en na die strand geneem . . .
  • Verken te voet: Jy kan kilometers ver stap en die plantegroei en wild van naby bekyk.
  • Kom swem (natuurlik wanneer dit warm is): Hier is twee swembaddens waarvan die een, wat uitkyk oor die vlei, slegs vir volwassenes is. Neem die kinders na die swembad langs die tennisbaan om af te koel.
  • The Fig Tree-restaurant in die Opstal-area kyk uit op die 19 km lange vlei. Die restaurant is daagliks van 08:00 tot 21:00 oop en bedien ontbyt, middag- en aandete, asook verskeie versnaperinge.

Piekniekmandjies met lekkernye kan ook hier bespreek word.

  • Bederf jou in die spa.
Trap-trap tussen die wild: Kom ry bergfiets tussen die elande en bontebokke. ’n Fietstoer kan enigiets tussen twee en drie uur duur, afhangend van hoe fiks jy is.

Wat moet jy inpak?

Afhangend van watter tyd van die jaar jy beplan om die reservaat te besoek, maak seker die volgende is altyd in jou oornagtas:

  • gemaklike skoene vir al die verkenningstogte;
  • ’n sonhoed, sonbril en sonroom;
  • ’n kamera om al die mooi vas te vang;
  • ’n verkyker om die walvisse, voëls en wild nóg beter te sien; en
  • swemklere en strandhand­doeke in die somer, en warm baadjies, veral van Mei tot Ok­tober.
Mooier as mooi:Sonsondergang oor die voëlvlei. Jy kan op dié vlei ’n bootrit onderneem saam met een van die reservaat se gidse, wat die verskillende voëlspesies (en ander diere langs die vlei) sal uitwys.

Waar slaap jy?

Hier is oorgenoeg slaapplek vir groot families, toergroepe, klein gesinne, paartjies, enkellopendes, kampeerders . . . noem maar op. Daar is woonplekke by die Opstal-area aan die westekant van die vlei naby ontvangs (sluit in verskeie eenhede, kothuise en kampeerterrein-rondawels).

By die Melkkamer-area, oorkant die vlei, is onder meer die Melkkamer Manor (’n vierslaapkamerhuis) of die Melk­kamer Vlei Cottage, ’n sandsteen-vierslaapkamerhuis aan die oewer van die vlei.

Die Melkkamer Foremans Cottage is agter groot melkhout­bome weggesteek. Ses mense kan hier oorbly.

Jy kry net op twee maniere toegang tot die Melkkamer-area: per viertrekvoertuig (wat sowat 40 minute kan duur en waar jy terselfdertyd die fauna en flora kan besigtig) of per boot oor die vlei (sowat tien minute).

Bespreek nou! Besoek www.dehoopcollection.com, stuur e-pos na info@dehoopcollection.co.za of skakel 021 422 4522.

Waglys

De Hoop het een van die beste staproetes in Suid-Afrika: die Walvispad.

Hierdie roete bied kus- en bergwandelings met skouspelagtige uitsigte en natuurlik baie geleenthede vir walviskyk.

Hierdie roete is ’n vyfdaagse roete met goed toegeruste akkommodasie vir elk van die vyf nagte.

Neem kennis! Dié roete is tans gesluit vir instandhoudingswerk.

Bel CapeNature by 087 087 8250 vir meer inligting.

Kyk na natuur!
  • Die reservaat is die tuiste van die wêreld se kleinste en mees bedreigde planteryk – die Kaapse Blommeryk. Die reservaat het die grootste bewaarde gebied van laaglandfynbos in die Wes-Kaap.

Van die 9 000 plantspesies wat in die Kaapse blomstreek gevind word, het die reservaat en sy omgewing ’n geraamde 1 500 spesies.

  • Hier kom 86 soogdierspesies voor, soos die seldsame bontebok en Kaapse bergsebra, asook eland, bobbejaan, rooikat en af en toe luiperd. Die natuurreservaat het ook meer as 260 voëlspesies, insluitend baie watervoëls wat rondom die De Hoop-vlei woon.

Die Potberg-natuurreservaat is die tuiste van die enigste oorblywende broeikolonie van die skaars kransaasvoël in die Wes-Kaap.

Kom só daar

Vanaf Kaapstad: Die reservaat is via die N2 sowat drie uur se ry van Kaapstad af en aan die ooste van Bredasdorp. Volg die N2 en draai af op die R316-pad na Caledon.

Die pad loop regdeur Bredasdorp waarna jy links op die R319-pad na Swellendam afdraai.

Let op na die Malgas Infanta-afdraai na regs.

Volg die pad totdat jy ’n tweede bord, De Hoop, sien en draai regs. Volg die grondpad tot by die hek van die reservaat.

Vanaf Swellendam: Jy kan die reservaat van Swellendam af via die Spitskoppad bereik, wat jou sowat ’n uur sal neem.

Ry totdat jy by ’n T-aansluiting kom en draai links.

Soek die Malgas Infanta-afdraai na links en draai regs by die bord waarop “De Hoop Natuurreservaat” staan.

Volg die grondpad sowat 60 km tot by die ingang.

Wat is die Cape Country Routes?

De Hoop Collection vorm deel van Cape Country Routes (CCR), wat verskillende verblyfopsies en bestemmings langs Suid-Afrika se gewilde padroetes aanbied. Dié groep het ten doel om individue en families onvergeetlike vakansies te bied. As jy op soek is na idees wat jou nader aan die natuur sal bring – hetsy te voet, op ’n bergfiets of in ’n viertrekvoertuig – besoek gerus www.capecountryroutes.com.

Hier is ’n paar plekke wat ook deel vorm van CCR:

  • Kom klop gerus aan by die Agulhas Country Lodge wanneer jy die suidelikste punt van Afrika besoek, waar die Atlantiese en Indiese Oseaan bymekaarkom. Die Agulhas Country Lodge, ’n hotel wat van natuurlike kalksteen gebou is, is op die rant van Kaap Agulhas op die krans net bokant die see. Die lodge bied ’n ervaring naby aan die natuur en beskik oor agt en suite-kamers, elk met ’n balkon wat op die see uitkyk.
  • Nie te ver van Agulhas nie sal jy op Waenhuiskrans, ’n ou vissersdorpie, afkom, waar die Arniston Spa Hotel aan die see grens. Dié viersterhotel bied ’n panoramiese uitsig oor die Indiese Oseaan. Die hotel is ook veral bekend vir sy seekosspyskaart. Die sjef kry natuurlik sy inspirasie van die see.
  • Die Zuurberg Mountain Village in die Addo-olifant Nasionale Park is net die blyplek wanneer jy die Oos-Kaap verken. Die hotel is boaan die Suurbergpas en het ’n uitsig oor die park, waar besoekers olifante, Afrikaanse buffels, renosters, luiperds en leeus kan sien. Ander doendinge hier sluit in bergfietsroetes, perdry, begeleide staptoere asook wildritte.

Neem kennis! CCR het tans verskeie spesiale winteraanbiedinge. Besoek sy webtuiste om meer uit te vind.

Heerlike slaap!Een van die kothuise in die Opstal-area waar jy kan oornag. Hier is oorgenoeg blyplek om van te kies.
’n Rykdom van fynbos: Verken die reservaat te voet en verkyk jou aan die fynbos.
Verken op die strand! Hier is van grotte en poele water tot walvisse en sandduine om uit te klim.
Regs: Moeg gestap, tyd vir eet! Op ’n uitkykdek waar jy die bedreigde kransaasvoëls kan sien, kan jy ook piekniek hou nadat jy ’n paar kilometer aangepak het.

MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ’n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar dit is nie 'n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier.

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.