Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die akrobatiese Pavarotti’s van Algoabaai
Foto: Lloyd Edwards

Op ’n koue wintersoggend in Julie jaag die wind die branders hoog op waar die boot naby St. Croix-eiland in Algoabaai dobber, maar niemand is bang nie – nie eens die kinders nie.

’n Massiewe boggelrugwalvis spring bo die water uit.Foto: Lloyd Edwards

Almal klou aan die relings vas, met hulle oë vasgenael op die see, want al om die boot swem ’n groot skool bottelneusdolfyne. Sjoep-sjoep skiet hulle met ’n krom rug uit die water, blaas dan pfft! en verdwyn weer terug onder die water. Op die eiland self staan ’n paar brilpikkewyne regop, soos diakens wat wag op kollekte.

Die brilpikkewyn kry sy naam danksy sy swart en wit gesigspatroon, maar staan ook bekend as die Afrika-pikkewyn. Hy lyk oulik en amper soos ’n harlekyn, maar kan geniepsig byt. Vra maar die reddingswerkers wat al hierdie geliefde seevoëls ná oliebesoedeling op see moes skoonwas.

Die wêreld se grootste broeikolonie brilpikkewyne kom op St. Croix voor. In die vroeë 2000’s is hul getalle só kritiek bedreig dat daar selfs voorspel is dat hulle teen 2017 sou uitsterf. Pikkewyne is egter ’n storie is vir ’n ander dag.

Vandag is die plan om boggelrugwalvisse te probeer opspoor; die seereuse wat in hierdie tyd van die jaar hulle voedingsgebiede in die Suidpool se waters rondom Antarktika verlaat en migreer na Afrika se warmer kuswaters om voort te plant en te kalf.

“In die suidelike somermaande voed hulle in die ysige gebiede rondom Antarktika op planktonkrefies (krill) en plankton om genoeg liggaamsvet en energie op te bou vir die lang winterreis na die warmer oseane aan die suide, weste en ooste van Afrika,” sê Lloyd Edwards, ’n Baaienaar, walviskenner en eienaar van Raggy Charters Marine Eco-Cruises wat walvisbesigtigingstoere in Algoabaai bedryf.

“Die kalfies het nie ’n beskermende vetlaag soos hul moeders nie en kan dus nie in die pole se ysige water gebore word nie. Gevolglik migreer die dragtige koeie gedurende die wintermaande verder noord om in die warmer oseane geboorte te gee. Hulle word gewoonlik eerste aan die kuslyn naby Knysna gesien.”

Volgens Lloyd swem die boggelrug maklik 4 000 km vanaf die Suidelike Oseaan tot so ver as Gaboen aan die weskus van Afrika en Kenia aan die ooskus.

“Dit is waar die koeie kalf. Maar nou, ek weet nie of dit klimaatsverandering is of wat nie, het een van die koeie in ons Suid-Afrikaanse waters gekalf. As die koei nie verstrengel geraak het in visserstoue en ’n rooi boei agter haar aangesleep het nie, sou ons nooit eers geweet het sy het gekalf nie. Eers toe ons haar gaan red het, het ons die kalf by haar gesien,” sê Lloyd.

Die boggelrug is ’n baleinwalvis (balein word ook walvisbaard genoem). Dit beteken hulle neem kos (tussen 2 000 en 2 500 kg per dag) in deur groot hoeveelhede water in te suig waarna die plankton deur die baleinplate uitgesif word.

’n Mens kan die boggelrugwalvisse van Mei tot November, en met uitsondering in Desember wanneer hulle weer op pad terug is na die Suidelike Oseaan, in Algoabaai sien.

Wetenskaplikes krap nog kop oor al die redes hoekom die boggelrugwalvis uit die water spring. Foto: Lloyd Edwards

Akrobaat van die see

Hierdie uitsonderlike walvis word ook die akrobaat van die see genoem, omdat hulle dikwels deur die wateroppervlak breek en met hul vinne op die water slaan – ’n mariene skouspel soos min.

Voeg nou daarby dat hy ook kan “sing,” dan verstaan jy hoekom My China, die walvisbesigtigingsboot van Raggy Charters, op ’n dag soos hierdie volgepak is met Amerikaanse toeriste.

Die kinders staan reg met allerhande tegnologiese katoeters om die boggelrug op foto, film en klank vas te vang. Dit is nog vroeg in die winter en hierdie seereuse (behalwe die dragtige koeie) is waarskynlik nog pure energie.

Die Amerikaanse kinders op die boot is ewe hiperaktief. Selfs die tienermeisie jil en gil van plesier wanneer die branderspatsels haar tref. Sy klim die trapleer na My China se dak vir ’n beter uitsig oor die oseaan, terwyl haar ma waarsku teen wind, en die wasmasjien-see. Die tiener sug.

“Mom, I love you and I know you love me, but you really need to chill.”

Dit lyk asof die boggelrugwalvisse ook chill, want nêrens is daar een aan die baljaar nie.

Jake Keeton, mariene gids van Raggy Charters, verduidelik die roete in ’n westelike rigting van St. Croix-eiland tot die boot parallel is met die Cape Recife-vuurtoring. “Die boggelrug hou van daardie omgewing.”

Baie Baaienaars het vroeër al vertel hoe hulle van die land af kon sien hoe die boggelrugwalvisse in die see in die omgewing van Cape Recife in spuitboë deur die water breek. “Kom ons gaan kyk,” sê Jake.

Dit sal ’n jammerte wees as ’n mens ook nie daar enige walvisse sien nie, maar ’n walvis kom nie op bestelling sy toertjies wys nie.

Maar walvis of nie, ’n see-safari deur Algoabaai met sy dolfyne, pikkewyne en ander seevoëls is ’n sonderlinge belewenis. Met die uitvaart vanaf Port Elizabeth-hawe sweef die seemeeue in die lugstrome bo die boot – die eerste teken van baie lewe op en in die groot water vol geheimenisse.

Die boggelrugwalvisbul spring gewoonlik met paartyd uit die water om die wyfie te beïndruk. Foto: Lloyd Edwards

Groot bruin voëls, sommiges wiegend in die water en ander vlerkswiepend om die boot, het die Amerikaners gefassineer.

“Look at its angry expression, maybe it doesn’t like us being here!”

Jake meen egter dié beneukte gesigsuitdrukking het dalk meer daarmee te doen dat dié voël ’n “rower” is.

“Dit is die bruinroofmeeu en hy kom net in die wintermaande hier voor. Sodra die ander kleiner voëls ’n vis gevang het, boelie hy hulle tot hy die vis het. Hy steel ook pikkewyneiers.”

’n Paar tjokkabote kom verby en op twee plekke vul brandstofskepe vragskepe se brandstoftenks aan. Die Amerikaners sê dis gevaarlik, dit kan besoedeling veroorsaak. (’n Week later was dit toe inderdaad so en moes talle oliebesmeerde pikkewyne van St. Croix-eiland gered word.)

’n Rob lê luilekker op sy rug.

“Look, it’s chilling!” sê die ouma aan haar kleinkinders. Hulle hoor egter nie, want hulle is te besig om te stry oor wie die rob eerste gesien het.

’n Bloubek albatros sweef stil verby en die see hou sy geheime verberg – en skynbaar ook sy walvisse.

Die kinders begin uit verveeldheid met selfies eksperimenteer. Ek dink aan die Nederlander wat nie uitgeskryf kon raak oor die walvisse in Suid-Afrikaanse kuswaters nie. “Je kunt je niet voorstellen hoe gigantisch indrukwekkend een twintig meter lange walvis is tot je die met eigen ogen ziet. Zuid-Afrika is één van de beste landen ter wereld om zo’n joekel van dichtbij te mogen bewonderen.”

Grasie en ’n spuitgroet En dan . . . “Daar! Links!”

Almal kyk. Daar is die spuitgroet! Grasieus kom twee grotes verby en ’n gewyde stilte sak oor die boot.

Dan is hulle weer weg.

Elkeen kyk nou in ’n ander rigting, want daar waar ’n walvis in die water verdwyn het, gaan hy nie weer verskyn nie.

Die twee bly lyf teen lyf, verskyn dan hier, dan daar. Boggelrugwalvisse is nuuskierige goed en daarom swem hulle nie dadelik weg nie, maar kom stel ondersoek in wanneer daar ’n boot in hulle omgewing is.

Ongelukkig het dié nuuskierigheid hierdie seereuse in die verlede duur te staan gekom, verduidelik Lloyd: “Van 1908 was hulle maklike prooi vir die walvisjagters op hul nuwe stoomaangedrewe vaartuie. Teen 1962 is nagenoeg 210 000 van hulle gejag. Dit het byna tot hul uitwissing gelei. Durban het met die mees moderne walvisfabriek op die planeet gespog.

Jake Keeton van Raggy Charters gesels met Amerikaanse toeriste op die boot My China. Foto: Mariska Spoormaker

“Uiteindelik het gesonde verstand geseëvier en is die boggelrugwalvis tot ’n beskermde spesie verklaar. Verlede jaar het die boggelrugwalvis se getalle gestaan op 95% van die oorspronklike getal voor die grootskaalse jagtogte begin het.” (Japan het egter aan die begin van hierdie maand amptelik uit die internasionale walviskommissie onttrek en weer begin om walvisse op ’n kommersiële grondslag te jag.)

Weer kom dié twee sy aan sy verby. Rustig aan die swem, nie singend of met spronge nie.

Die ouma sug. “Maybe they’re already having a whale of a time.”

Sy verwys natuurlik na die mening dat bronstige boggelrugbulle in paringstyd springtoertjies – halflyf of heeltemal uit die water – uithaal om die koeie te beïndruk. Die bul van hierdie paartjie moes dan tien teen een klaar sy koei beïndruk het.

Hulle kry hulle naam vanweë die feit dat die boggelrugwalvis sy lyf in ’n bult of ’n boggel trek voor hulle uit die water skiet.

Die singery is ook ’n baie interessante aspek van die boggelrugwalvisbul, want die vermoede is dat die bul se gesange (huil-, tjank-, piep- en kermgeluide) met sy soektog na ’n paringsmaat verband hou.

Navorsers het selfs gevind die boggelrugwalvis sing in verskillende streektale. Kort is die liedjies ook nie. Dit duur gewoonweg tussen 10 tot 20 minute, maar dit kan ook ure duur. Die langste opgeneemde lied van ’n boggelrugwalvis het 20 uur geduur, word in Wikipedia gemeld.

Tog is dit nie net liefdesliedjies nie, reken Lloyd.

“Dit kan ook ’n vorm van kommunikasie wees – want ons het al opgemerk dat die walvisse se gesange meer opklink tydens matige tot sterk winde. Miskien is dit omdat hulle voel hulle moet harder geluide maak sodat die ander hulle deur die geraas van die onstuimige water kan hoor.

“Maar niemand kan met sekerheid sê hoekom die boggelrugwalvis bo die water uitbreek nie – nie eers wetenskaplikes nie. Dit kan ook verband hou met kommunikasie, pure pret, om seeroofdiere af te skrik of om van parasiete ontslae te raak . . . die koeie breek ook bo die water uit!”

Maar die wind steek sterker op en Jake sê ons moet terugkeer hawe toe.

Algoabaai se walvisse Oppad terug vertel Jake van die ander walvisse wat benewens die boggelrug ook in Algoabaai voorkom: Bryde se walvis, die orca-walvis (ook bekend as moordvis) en die suidelike noorkapper.

’n Brandstofskip in Algoabaai.Foto: Mariska Spoormaker

“Die suidelike noorkappers is reeds op pad hiernatoe, die eerstes behoort al hier te wees,” sê Jake.

Net soos die boggelrug, migreer die suidelike noorkapper tydens die suidelike halfrond se winters ook van die poolgebiede rondom Antarktika na die warmer water rondom Afrika om te paar of geboorte aan hul kalfies te skenk.

In Engels vertaal die suidelike noorkapper as die southern right whale. Die woord right het in die jare toe walvisse nog op groot skaal gejag is daarop gedui dat dit die “regte” walvis is om te jag omdat die noorkapper stadig swem, na aan die kus kom en baie vet asook balein het.

Dié seereus, uitkenbaar aan sy wit vratagtige uitgroeisels aan die kop, kuier graag in die omstreke van Blouwaterbaai.

Net soos met die boggelrugwalviskoeie, sal die noorkapperkoeie ook ’n kalfie aan die sy hê.

“Die kalfies word maande lank gespeen tot hulle sterk genoeg is en voldoende vetlae opgebou het om die terugtog na die koue suidelike poolstreke te onderneem.” Dit is ’n reis vol van gevare – botsings met bote, moordvisse, plastiekbesoedeling en verstrengeling in vissersnette en -toue. En “as alles goed gaan, sal hulle betyds tuis wees vir hul Kersmaal,” sê Lloyd.

  • Luister op wikipedia.org/wiki/Bultrugwalvis na dié walvis se lied.
Meer oor:  Algoabaai
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.