Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die Balanserende rots

Al ooit die Lywige Dame gaan opsoek  in die Silwermyn-reservaat?Jannie van Rensburg vertel meer.

Die uitsig bo van St. Jamespiek. Foto’s: JANNIE VAN RENSBURG

Voor lesers die arme skrywer voor die Gelykheidshof wil sleep, die Lywige Dame verwys na ’n rots-oorhang in die Silwermyn-reservaat, genaamd die Fat Lady Shelter. Hoe dit aan dié naam gekom het, weet nugter.

Die reservaat is in 1998 tot deel van die Tafelberg-erfenis verklaar, tot groot verligting van bewaringsgesindes. In die laat 1700’s is daar in die omgewing vir silwer geprospekteer en nie minder nie as drie skagte is gesink. Gelukkig is niks gevind nie, maar die naam het gebly. Silwermyn.

Die reservaat word in twee verdeel deur Ou Kaapseweg, naamlik die oostelike en westelike kant. Padlangs van Tokai se kant, amper bo, is ’n duidelik gemerkte padteken wat Silwermyn aandui na regs. Dis die westelike en hoofdeel van die reservaat.

Dis waar jy die Silvermyn-reservoir met sy lieflike piekniekterrein langs die dam sal vind, plus die Olifantsoog en verskeie ander staproetes sou jy lus hê vir iets meer as net ’n piekniek.

So ’n paar honderd meter verder in die rigting van Noordhoek is daar ’n ongemerkte afdraai links na die oostelike deel van Silwermyn. En dis waar ons so half per ongeluk beland het.

Die Muizenberg-grot aan die oostelike deel van die Silwermyn-reservaat.

Die plan was aanvanklik dat ons die Panorama-roete in die hoofdeel van Silwermyn sou stap. Ons was onder die indruk dat die hek 07:00 oopmaak, maar daar gekom was dit nog toe.

By navrae vind ons uit dit maak wintermaande eers 08:00 oop. Pleks van ’n uur of wat voor ’n toe hek te sit en wag, ry ons toe oor die bult na Hek Twee, die oostelike deel van die reservaat.

Anders as by die hoofdeel van Silwermyn aan die westekant, is die oostekant onbewaak – en gevolglik ook ietwat meer blootgestel aan booswigte. Dit is raadsaam om nie alleen in die gebied te stap nie, maar eerder in ’n groep van vier of meer.

Daar is ’n valhek by die ingang, wat deesdae pal oopstaan. Daar was ook eens ’n karwag, maar van dié is daar ook geen teken meer nie.

Die balanserende rots. Dit lyk kompleet of ’n ligte stamp die rots sal laat omkantel.

So ’n halfuur se stap van die parkering af is daar ’n waterval op regterhand wat ideaal geleë is vir ’n vroegoggendstop vir ontbyt. Volg die pad verder aan in die rigting van die St. Jamespiek, en jy kom op ’n voetpad na links wat jou na die Muizenberg-grot lei.

Van die grot af lei ’n voetpad jou verder teen St. Jamespiek op vanwaar jy ’n uitsig het oor Valsbaai met Muizenberg onder jou en Vishoek ’n ent verder regs. Van die piek af volg jy nou ’n voetpad regs van die een waarmee jy gekom het. Dit lei jou verby die Balanserende rots. ’n Mens kan nie help om te wonder hoe dit oor miljoene jare staande gebly het nie, en hoe lank dit nog gaan duur voor die rots omval nie.

Die paadjie lei jou nou in die rigting van die Steenbergpiek, waar jy die vreemdnamige Fat Lady-skuiling sal teëkom. Van hier af lei die paadjie jou met ’n taamlike steilte af, verby Wolfkop in die rigting van Tokai.

Net voor Ou Kaapseweg swenk die paadjie na links en neem jou uiteindelik weer terug na die parkeerarea.

Die roete is net oor die 12 km lank en duur ongeveer ses uur, verposings vir ontbyt en middagete ingesluit.

Die Fat Lady-skuiling op Steenbergpiek.
Meer oor:  Kaapstad  |  Staproete  |  Buite  |  Stap  |  Bergklim
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.