Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Dié bospad roep jou!

Die Nuwelandwoud laat jou vinnig die druk stadsverkeer agter jou vergeet en het verskeie paadjies om te verken. Jannie van Rensburg vertel meer.

Stap deur die inheemse woud van Nuweland. Foto: Jannie van Rensburg

Skuins ná sesuur in die oggend draai ek en my stapmaats uit Philip Kgosana-rylaan (voorheen De Waal-rylaan) by die Nuwelandwoud in.

Ons stap hiervandaan met die Kontoerpad langs na Kirstenbosch en terug.

Dis nog skemerdonker, maar alreeds begin die oggendverkeer opbou.

In stille dankbaarheid dat ons die dolle gejaag vryspring, haal ek my rugsak uit en maak seker ek het niks vergeet nie: water, padkos, koffie, kamera.

Die parkeerterrein is onder bome langs ’n kantoor van Sanparke en ’n brandweerbasis met bemanning 24 uur op bystand vir moontlike brande teen die berg. Helikopters staan immer gereed.

’n Entjie verby ’n valhek tussen die kantoor en helikopters, draai ons links op wat bekend staan as Skelmkoppad.

Die pad vat jou verby ’n ablusieblok indien jy vir oulaas ’n draai wil loop.

’n Entjie verder kom jy weer by ’n valhek uit, voor ’n bruggie waaronder ’n bergstroom vloei. Hier het ons regs gedraai en al langs die stroom dieper en steiler die woud inbeweeg.

’n Mosbegroeide waterval om die draai van Skeleton Gorge. Foto: Jannie van Rensburg

Heel gou is die druk stadsverkeer agter jou vergete, met voëls wat in geelhout-, hardepeer-, gewone bokdrol- en ander inheemse bome kwetter.

Daar is verskeie paadjies in die woud en ’n mens verdwaal maklik van jou voorgenome roete as jy nie vertroud is met die omgewing nie. Onthou net – opdraande gaan jou uiteindelik op die Kontoerpad besorg, terwyl afdraande jou weer by Philip Kgosana, oftewel die M3, sal bring. In ’n stadium het die paadjie wat ons gevolg het ons oor die bergstroom geneem.

’n Ent verder het ons by die Kontoerpad beland. Regs lei jou in die rigting van die Rhodes-gedenktuin, links (waarheen ons gemik het) na Kirstenbosch.

Ofskoon jy nou op die Kontoerpad is, is daar steeds heelwat trappies en steiltes voor jy naby die Smuts-roete, meer bekend as Skeleton Gorge, skerp afdraande na die botaniese tuin begin stap.

Ná ’n verkwikkende koppie koffie en kaaskoek by die tuin se teekamer, het ons ’n ander roete terug ingeslaan. Tussen die teekamer en die boonste ingang na Kirstenbosch lei ’n grondpad jou terug na die Nuweland-woud.

Dit is nie naastenby so hoog en steil soos die Kontoerpad waarmee ons gekom het nie, en lei jou in ’n stadium verby bouvalle met ’n interessante geskiedenis. Genaamd Paradys, was dit in die vroeë 1700’s ’n buitepos vir ’n garnisoen van die Vereenigde Oostindische Compagnie (VOC). Dit het onder andere die meester-houtkapper gehuisves, wat in daardie jare verantwoordelik was vir die beskerming van die houtreserwes teen Tafelberg. Afgesien van die houtkapper, sy vrou en ’n slaaf, het ’n garnisoen van die VOC in ’n gebou langsaan tuisgegaan.

Die bouval van die meester-houtkapper wat in die vroeë 1700’s saam met sy vrou en ’n slaaf hier tuisgegaan het. Lady Anne Barnard het heelwat later vir ’n kort tyd hier tuisgegaan, en dit het toe – verkeerdelik – bekend geword as Lady Anne Barnard se Kothuis. Foto: Jannie van Rensburg

Dit was ’n ongenaakbare lewe vir troepe van die Paradys-garnisoen: besoldiging was min, kos was skraps en dissipline was streng en wreed. Die alternatief vir diegene wat hulle in Amsterdam by die garnisoen aangesluit het, was hongersnood in die ekonomies geteisterde Europa van daardie tyd.

Nog ’n interessante brokkie oor die houtkapper se huis is dat Lady Anne Barnard en haar man, Andrew, teen die einde van die agtiende eeu vir ’n kort tydjie daar tuisgegaan het. Dit het in latere jare verkeerdelik bekend geword as Lady Anne Barnard se Kothuis.

Ons staproete vir die dag, insluitend ’n paar draaie in Kirstenbosch self, was net oor die 13 km en het ongeveer sewe uur geduur.

Meer oor:  Nuwelandwoud  |  Buite  |  Bospad
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.