Lees jou gunsteling-tydskrifte en -koerante nou alles op een plek teen slegs R99 p.m. Word 'n intekenaar
Buite
Die Eden waar selfs die perd nie (wil) wyk
Die perde se vreedsame en eiesoortige verwelkoming spreek boekdele oor die sprokiesagtige vallei met die naam Eden net buite Heidelberg in die Suid-Kaap. Foto’s: Guillaume Marais
In die Eden-bewarea kraai die natuur só koning dat die kleinste hondjie sy lyf pure leeu hou.
Die Eden-bewarea is onlangs tot stand gebring om hierdie natuurryke gebied buite Heidelberg in die Suid-Kaap op ’n verantwoordelike wyse te bestuur en aan natuurliefhebbers bekend te stel.
Die plek waar jy saam met die horlosie se wysers én hond kan stilstaan en vir ewig uitkyk.... Foto:
Die betowerende versameling geboutjies van Akasha Mountain Resort in Heidelberg se Eden-bewarea is sover moontlik met herwinde materiaal gebou. Foto:

By die netjiese plaashek wat toegang tot Akasha Mountain Resort in Heidelberg se Eden-bewarea bied, drom ’n troppie bont perde saam. Hier en daar kou een aan ’n graspolletjie. Die meeste tuur egter die verte in, só asof hul bestaan hier op die koppie, met die uitsig op lappieswerk-landerye en tuimelende heuweltjies, betekenis sal verloor tensy dit daagliks diep bepeins word.

Hulle skrik nie vir die bakkie wat verbyry nie, nog minder vir die twee mense wat uitspring en gretig begin kiekies neem. Inteendeel, iets aan die blink vensters en uitsteek-spieëls trek hul aandag en twee van die troppie staan nader om met groot, blink oë hul verwronge weerkaatsings te bewonder.

Ná verskeie onsuksesvolle pogings om die ponie te betrek keer ons terug na die motor om te ry, maar die “perde-blokkade” gee eers pad ná ’n hele paar toete en enjin-revs.

Ek kry die gevoel dat die perde se vreedsame en eiesoortige verwelkoming boekdele spreek oor die sprokiesagtige stukkie aarde wat ons betree: ’n vallei met die naam Eden.

Gemaklik geklee in ’n blou T-hemp, verbleikte jeans en ’n paar sandale, met ’n breërand-cowboy-hoed van leer op, wag Chris van der Walt, eienaar van Akasha, ’n Marokkaans geïnspireerde, stylvol, boheemse plek van verblyf ons in.

Die betowerende versameling geboutjies is sover moontlik met herwinde materiaal gebou. Ek merk die vinknessies op wat laag oor die voordeur hang, en Chris sê ewe rustig: “O ja, ek het verlede week gesien hoe ’n kobra een van die kuikentjies daar uithaal. Wag, laat ek sommer vir julle ’n paar foto’s wys.”

Ons loer oor Chris se skouer terwyl hy deur ’n versameling asemrowende natuurfoto’s op sy Macbook Pro klik. Buiten die reeks waar die bogenoemde kobra ’n veerlose vink-kuiken tussen sy kake vasklem (net bo die voordeur), flits ’n klipspringerfamilie van drie, suiker­voëls op proteas, swemmende pofadders, ’n verskeidenheid valkies en selfs ’n paradysvlieëvanger, wat met sy elektron-blou oogomlyner en roesbruin sleepstert op ’n takkie poseer, oor die skerm. Alles ’n goeie aanduiding van hoe naby Chris, sy gesin en die gaste wat by Akasha tuisgaan, aan die natuur lewe.

Die eintlike doel van ons besoek is immers om meer te wete te kom oor die splinternuwe Eden-bewarea, wat begin Desember 2015 in die vallei gestig is.

Chris verduidelik dat die idee om ’n bewarea te stig, ontstaan het nadat nuwe wetgewing rondom die verwydering van indringerplante in 2015 goedgekeur is.

Die sogenaamde Nema-wet vereis dat grondeienaars indringerplantspesies verwyder.

“Dis ’n baie effektiewe manier om van indringerspesies ontslae te raak, maar kan groot moles veroorsaak, veral in ’n vallei soos hierdie. Veronderstel een boer hou sy grond mooi skoon, maar sy buurman doen dit nie en die saad waai oor na die ‘skoon’ plaas . . .”

Derhalwe, verduidelik Chris, onderneem alle grondeienaars wat lid van die bewarea is, om vrywillig natuurlike hulpbronne in samewerking met die regering en bewaringsowerhede soos CapeNature (in die geval van Wes-Kaapse bewareas) te bestuur.

Deur die verwydering van indringerplante soos rooikrans en swartwattel, word die beskerming van endemiese en inheemse spesies aangemoedig, wat biodiversiteit bevorder. Omdat die Edenvallei in ’n oorgangsone tussen somer- en winterreënval lê, bied dit ’n unieke klimaat waar nie minder nie as vier inheemse plantgroepe natuurlik voorkom, naamlik fynbos, inheemse woud, karoo-vetplante en renosterveld.

Die Eden-bewarea grens aan die bekende Grootvadersbosch-bewarea in die weste en die Cape Nature-beheerde Boosmansbos-wildernisgebied in die noorde en strek tot by Oudebosch-plaas, digby die Korentepoortdam net buite Riversdal in die ooste.

Dis ’n gebied van sowat 25 km soos die kraai vlieg.

“Ná Tafelberg, is hierdie seker een van die belangrikste hot spots in die Kaapse blommeryk, wat dit van wêreldbelang maak,” plaas Chris dit in perspektief.

Die Eden-bewarea het ’n voorlopige ledetal van 28.

Hoewel die verwydering van indringerplante die groot dryfveer is, vertel Chris dat hulle ook planne het om eko-toerisme in die gebied te bevorder.

“Ons is baie gelukkig om ’n fantastiese buurman soos Grootvadersbosch te hê. Hulle is ’n geweldige goeie voorbeeld van hoe dit gedoen moet word,” sê hy en noem dat buiten die verwydering van 509 ha indringerplante gedurende 2015, het hulle ook wandelpaaie en bergfietsroetes van 140 km gebou.

Hoewel dit nog te vroeg is om enige spesifieke toerismeplanne te verklap, vertel Chris dat wandel- en bergfietsroetes ook deel van Eden se prentjie sal uitmaak.

“Uiteindelik wil ons graag permanente veldwagters aanstel by wie toeriste hulle kan aansluit om te sien wat hulle op ’n daaglikse grondslag doen. Dit sal baie mense help om hierdie soort omgewingsbestuur beter te verstaan,” verduidelik Chris.

  • Die bewarea is nog in sy beginfase, maar besoekers kan reeds ’n voorsmakie van die gebied se bekoring geniet deur die T1 Eden Country-uitsig­roete, ’n grondpad wat tussen plase op die buitewyke van Heidelberg en Riversdal kronkel, te volg of ’n naweek in die Akasha Mountain Resort te bespreek.
  • Om meer oor bewareas in Suid-Afrika te lees besoek Conservation at Work se webtuiste by http://www.-conservationatwork.co.za/
  • Besoek ook Akasha se webtuiste by http://www.akasharetreat.co.za.

Meer oor:  Buite
MyStem: Het jy meer op die hart?

Stuur jou mening van 300 woorde of minder na MyStem@netwerk24.com en ons sal dit vir publikasie oorweeg. Onthou om jou naam en van, ‘n kop-en-skouers foto en jou dorp of stad in te sluit.

Ons kommentaarbeleid

Netwerk24 ondersteun ‘n intelligente, oop gesprek en waardeer sinvolle bydraes deur ons lesers. Lewer hier kommentaar wat relevant is tot die onderwerp van die artikel. Jou mening is vir ons belangrik en kan verdere menings of ondersoeke stimuleer. Geldige kritiek en meningsverskille is aanvaarbaar, maar hierdie is nie ‘n platform vir haatspraak of persoonlike aanvalle nie. Kommentaar wat irrelevant, onnodig aggressief of beledigend is, sal verwyder word. Lees ons volledige kommentaarbeleid hier

Stemme

Hallo, jy moet ingeteken wees of registreer om artikels te lees.